2 KORINTIËRS 5:1-21

2 KORINTIËRS 5:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Ons liggame is soos 'n tent waarin 'n mens woon. Ons weet, wanneer God hierdie tent van ons afbreek, die tent wat op die aarde is, dan het ons 'n gebou van God in die hemel. Dit is nie mense wat dit gebou het nie, en dit is vir altyd. Terwyl ons in hierdie tent van ons woon, kla en sug ons. Ons verlang om ons hemelse gebou bo-oor ons tent te sit. Wanneer ons weggegaan het uit hierdie tent op die aarde, dan wil ons nie niks hê nie. Ja, ons wat nog in die aardse tent woon, sug. Ons kry swaar, want ons is bang om weg te gaan uit die aardse tent. Ons wil die hemelse gebou bo-oor die tent sit sodat ons hemelse lewe dadelik sal kom in die plek van ons aardse lewe. Dit is God wat ons gereedgemaak het om dadelik te verander. Hy het sy Gees vir ons gegee, en so weet ons dat God vir ons alles sal gee wat Hy vir ons belowe het. Maar ons glo en vertrou altyd. Ons weet dat ons nog nie by die Here woon terwyl ons in ons liggame woon nie. Ons moet glo terwyl ons hier op die aarde lewe. Ons sien nog nie alles soos dit sal wees nie. Maar ons glo en vertrou en ons verlang daarna om nie meer in ons liggame te woon nie, ons verlang om by die Here te woon. Daarom probeer ons om só te lewe dat die Here tevrede sal wees met ons terwyl ons in ons liggame woon en ook wanneer ons nie meer in ons liggame woon nie. Want Christus sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. Dan sal elke persoon kry wat hy moet kry. As iemand goeie dinge gedoen het terwyl hy hier op die aarde gelewe het, dan sal hy goeie dinge kry. As iemand slegte dinge gedoen het, dan sal hy slegte dinge kry. Ons weet wat dit is om die Here te dien en om te doen wat Hy sê. Daarom probeer ons om mense te bemoedig sodat hulle ook sal verander en die Here sal dien. God weet alles van my en van die ander persone wat saam met my werk. Hy weet dat ons Hom eerlik dien. Maar ek hoop dat julle ook so dink oor ons. Ons probeer om nie weer te sê wie ons is en hoekom julle ons kan glo nie. Nee, ons wil hê dat julle trots moet wees op ons. Dan het julle iets om vir die mense te sê, die mense wat dink dat dit belangrik is hoe 'n mens van buite lyk, die mense wat dink dat dit nie belangrik is hoe 'n mens in sy hart is nie. As ons dinge gedoen het wat mense gewoonlik nie doen nie, as mense miskien gedink het ons is mal, dan moet julle weet dat ons daardie dinge vir God gedoen het. Maar as ons dinge gedoen het wat verstandig is, dan het ons dit vir julle gedoen. Ons bring hierdie boodskap oor Christus omdat Christus lief is vir ons. Ons móét hierdie boodskap bring. Almal moes gesterf het, maar een Mens het gesterf. Hy het dit vir almal gedoen, en daarom het hulle almal gesterf. Ja, Christus het vir almal gesterf. Daarom moet die mense wat nou 'n nuwe lewe het, nie meer lewe vir hulleself nie. Nee, hulle moet lewe vir Christus, want Christus het vir hulle gesterf, en God het Hom weer laat lewe. Christus het dit gedoen vir die mense wat nou 'n nuwe lewe het. Daarom, van nou af dink ons nie meer soos ongelowiges oor mense nie. Ons het miskien voorheen oor Christus gedink soos mense wat ongelowig is, maar nou doen ons dit nie meer nie. As iemand aan Christus behoort, dan het God daardie persoon 'n nuwe mens gemaak. Die persoon se ou lewe is verby, ja, hy het 'n nuwe lewe gekry. Dit is God wat al hierdie dinge gedoen het. Hy het ons met Hom versoen omdat ons aan Christus behoort. God het vir ons die werk gegee om mense met Hom te versoen. Dit beteken dat God die wêreld met Hom versoen het omdat mense aan Christus behoort. Hy het die sonde wat mense gedoen het, nie gestraf nie. En Hy het vir ons gesê ons moet vir mense vertel dat God so vir hulle versoening gedoen het. Ons werk nou vir Christus omdat God ons gekies het. God gebruik ons om vir julle te preek. Daarom vra ons vir julle mooi maar ernstig, nee, dit is Christus wat dit vra: Julle moet aanvaar dat God versoening gedoen het vir julle. Christus het self nie sonde gedoen nie. Maar God het vir Christus laat voel hoe dit is om swaar te kry oor die sonde wat mense doen. God het dit vir ons gedoen. Want God het ons nou vrygespreek van ons sonde omdat ons aan Christus behoort.

2 KORINTIËRS 5:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WANT ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word, as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie. Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word. Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het. Daarom het ons altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon. Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon. Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. OMDAT ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees. Want ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teenoor die wat hulle op die uiterlike beroem en nie op die hart nie. Want as ons uitsinnig is, is dit tot eer van God; en as ons by ons verstand is, is dit om julle ontwil. Want die liefde van Christus dring ons, omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen. Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

2 KORINTIËRS 5:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee. Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie. Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon. Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad. Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is. Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie. Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle 'n antwoord kan hê vir dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie. As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle. Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons 'n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

2 KORINTIËRS 5:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het wat van God kom, 'n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie. En daarom sug ons, want ons verlang intens daarna om met ons woning vanuit die hemel beklee te word. As ons net nie ontklee en nakend gevind sal word nie! Want ons wat nog in die tentwoning is, sug as mense wat swaarkry, omdat ons nie ontklee nie, maar geklee wil word, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. Hy wat ons juis hiervoor voorberei het, is God, wat aan ons die Gees as waarborg gegee het. Daarom is ons altyd vol moed, al weet ons dat, terwyl ons nog in die aardse liggaam woon, ons nie by die Here woon nie; want ons leef deur geloof, nie deur aanskoue nie. Ons bly egter vol moed, al verkies ons om eerder uit die liggaam te verhuis en by die Here te woon. Daarom, of ons reeds inwoon, of nog nie inwoon nie, streef ons daarna om vir Hom welgevallig te wees. Want ons moet almal voor die regterstoel van •Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was. Aangesien ons weet wat ontsag vir die Here is, probeer ons mense oortuig. Maar by God is ons deeglik bekend, en ek hoop om ook in julle gewete so bekend te wees. Ons is nie weer besig om onsself by julle aan te beveel nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teen dié wat hulle op die uiterlike voorkoms beroem, en nie op wat in die hart is nie. As ons buite onsself is, is dit vir God; as ons by ons verstand is, is dit vir julle. Die liefde van •Christus dryf ons, omdat ons tot dié insig gekom het dat, indien Een vir almal gesterf het, almal dan gesterf het; en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek is. Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons 'n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.

2 KORINTIËRS 5:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want ons weet dat as ons aardse huis van hierdie tabernakel afgebreek word, ons 'n gebou van God het, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig in die hemele. Want hierin sug ons en verlang ernstig om beklee te word met ons huis wat uit die hemel is: As ons gekleed is, sal ons nie naak gevind word nie. Want ons wat in hierdie tabernakel is, sug, terwyl ons beswaard is; En Hy wat ons daarvoor bewerk het, is God, wat ook aan ons die ywer van die Gees gegee het. Daarom is ons altyd vol vertroue, omdat ons weet dat, terwyl ons in die liggaam tuis is, ons van die Here afwesig is. (Want ons wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie:) Ons is vol vertroue, sê ek, en ons is liewer gewillig om van die liggaam afwesig te wees en by die Here teenwoordig te wees. Daarom arbei ons, of ons aanwesig of afwesig is, deur Hom aangeneem kan word. Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn; sodat elkeen kan ontvang wat in sy liggaam gedoen is volgens wat hy gedoen het, of dit goed of sleg is. Omdat ons dan die verskrikking van die Here ken, oortuig ons die mense; maar ons is aan God geopenbaar; en ek vertrou dat dit ook in julle gewetes geopenbaar word. Want ons beveel onsself nie weer by julle aan nie, maar gee julle aanleiding om namens ons te roem, sodat julle iets kan hê om die wat roem in aansien en nie in hart nie, te antwoord. Want of ons buite onsself is, dit is vir God; en of ons nugter is, dit is vir julle saak. Want die liefde van Christus dwing ons; want so oordeel ons dat as een vir almal gesterf het, dan was almal dood. En dat Hy vir almal gesterf het, sodat die wat lewe, nie meer vir hulleself sou lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgestaan het. Daarom ken ons van nou af niemand na die vlees nie; ja, al het ons Christus na die vlees geken, ken ons Hom tog nou nie meer nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel: die ou dinge het verbygegaan; kyk, alles het nuut geword. En alles is van God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en aan ons die bediening van die versoening gegee het; Dit wil sê dat God in Christus was wat die wêreld met Homself versoen het en hulle hulle oortredinge nie toereken nie; en die woord van versoening aan ons toevertrou. Nou dan is ons gesante van Christus, asof God julle deur ons smeek; ons bid julle in Christus se plek, laat julle met God versoen. Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak; sodat ons die geregtigheid van God in Hom gemaak kan word.

2 KORINTIËRS 5:1-21 Die Boodskap (DB)

Wanneer ons liggaam eendag soos ’n tent opgevou en in die grond weggebêre word, is dit nie klaar met ons nie. Gelukkig nie. Dan breek ’n splinternuwe lewe by God aan wat nooit sal ophou nie. Terwyl ons nou nog in hierdie ou aardse tent van ons aansukkel, kry ons swaar. Ons sien baie uit na daardie nuwe hemelse liggaam. Wanneer ons dit die dag van God ontvang, sal ons glad nie nakend of hulpeloos wees nie. Intussen gaan dit maar bitter moeilik met ons hier in ons aardse liggaam. Ons sug en kla. Ons sien regtig uit na die dag dat hierdie sterflike liggaam van ons vervang word met ’n nuwe liggaam. Dan sal hierdie sterflike liggaam van ons plek maak vir ’n hemelse liggaam wat vir altyd sal bestaan. God is besig om ons gereed te maak vir hierdie nuwe lewe wat op ons wag. Om te verseker dat ons veilig by Hom sal aankom, het Hy sy Gees aan ons gegee. Die Heilige Gees is die waarborg dat God sy woord sal hou. Ons raak glad nie moedeloos nie. Ons weet dat terwyl ons nog in hierdie aardse liggaam leef, ons nog nie by die Here is nie. Maar ons glo met alles in ons dat ons daarheen op pad is, ook al sien ons nog niks van hierdie nuwe lewe nie. Ons is daarom vol moed. Natuurlik sal ons sommer nou dadelik hier wou padgee en by die Here gaan bly. Maar op die ou end gaan dit nie oor wat ons wil hê nie. Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly, of daar in die hemelse wêreld. Ons almal moet in elk geval voor Christus se regterstoel gaan staan. Op die laaste dag sal Hy sy uitspraak lewer oor alles wat ons tydens hierdie lewe gedoen het. Ons sal dan beloon word volgens dit wat ons gedoen het, goed of sleg. Ek het groot eerbied vir die Here. Daarom probeer ek ander mense oortuig om ook in Hom te glo. God weet dat ek opreg is wanneer ek vir Hom werk. Ek hoop julle weet dit ook. Terloops, ek sê dit nie om julle te probeer beïndruk nie. Nee, ek sê dit vir julle sodat julle op die regte manier op my trots kan wees. Dan het julle ten minste ’n antwoord vir daardie mense wat so maklik spog oor al die “groot dinge” wat hulle vir die Here doen. Vir hulle gaan dit net oor uiterlike suksesse, nie oor ’n mens se innerlike lewe nie. Ek het ook al groot geestelike ervarings gehad. Hierdie bonatuurlike ervarings, waarin ek in ’n ander staat van bestaan verkeer het, is egter iets tussen my en God. Ek wil nie daaroor praat nie. Wanneer ek in my normale staat van bestaan is, is dit ter wille van julle. Dan kan ek vir julle in gewone taal van God vertel. Ek weet dat Christus se liefde ons almal aanvuur. Ons weet dat een Man ter wille van ons almal gesterf het. Daarom is ons almal nou ook dood. Ons is bevry van die mag van die sonde en die dood. Ons behoort nou net aan Christus. Daarom mag ons nie langer vir onsself leef nie. Nee, ons moet nou leef tot eer van Hom wat in ons plek doodgegaan het en deur God lewendig gemaak is. Noudat ek op ’n nuwe manier leef, dink ek ook op ’n nuwe manier oor ander mense en oor Christus. Vroeër, toe ek nog nie ’n Christen was nie, het ek heeltemal verkeerd oor Christus gedink. Toe het ek glad nie in Hom geglo nie. Maar nou dink ek op die regte manier oor Hom. Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy ’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine. Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan is die nuwe lewe hier! Dit alles is God se werk. Hy het die vyandskap tussen ons en Hom uit die pad gevat toe Christus aan die kruis dood is. God het my nou in sy diens geneem om vir mense te vertel van sy versoening. Deur Christus se sterwe het God vrede tussen Hom en die wêreld kom maak omdat Hy nie langer mense se sondes teen hulle hou nie. Dit is die goeie nuus wat ek nou oral bekendmaak. Ek is Christus se ambassadeur hier op aarde. Ek verteenwoordig Hom op elke plek waar ek kom. God praat deur my met julle almal. Ek smeek julle in die Naam van Christus, laat toe dat God die vyandskap tussen Hom en julle wegvat. Aanvaar hierdie versoening as ’n geskenk uit sy hand. Christus het nooit enige sondes gedoen nie. Maar God het Hom aan die kruis in ons plek in sonde verander. Hy het al ons sondes daar op Christus afgelaai sodat ons wat in Hom glo se verhouding met God nou herstel is.

2 KORINTIËRS 5:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ’n tentwoning is, afgebreek word, ons ’n permanente blyplek by God het, ’n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan. In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek. As ons tog maar net met klere aan, en nie kaal nie, voor God sal mag staan! Terwyl ons nog in die aardse tentwoning bly, kry ons swaar en kreun ons omdat ons nie gestroop wil word van ons aardse woning nie, maar met die hemelse woning beklee wil word. So sal wat sterflik is, verteer word deur die eintlike lewe. Hy wat ons hiervoor gereedgemaak het, is God. Hy het aan ons die deposito van die Gees as waarborg gegee. Ons is dus altyd vol moed omdat ons weet dat alhoewel ons nog in die liggaam woon, ons eintlike woning by die Here is; want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie. Ons hou moed, maar sou liewer uit die liggaam wil verhuis om by die Here te gaan woon. Ons streef in elk geval daarna, of ons nou ook al hier tuis is of nie, om Hom tevrede te stel. Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was. Omdat ons soveel ontsag vir die Here het, probeer ons mense oorreed. Ons opregte bedoelings is aan God bekend en ek vertrou dat julle in julle gewetens ook daarvan oortuig sal wees. Ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar gee net vir julle aanleiding om op ons trots te wees sodat julle iets mag hê teenoor hulle wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie. As dit lyk asof ons buite ons sinne was, was dit ter wille van God; en as ons by ons volle verstand is, is dit ter wille van julle. Die liefde van Christus dring ons. Omdat ons geoordeel het dat Een vir almal gesterf het, glo ons dat ons almal ons ou, sondige lewe afgesterf het. Hy hét vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie meer vir hulself moet leef nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ’n menslike maatstaf nie. Al het ons Christus ook vroeër volgens ’n menslike maatstaf beoordeel, oordeel ons nou heeltemal anders oor Hom. Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier! Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Hierdie boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig. Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ’n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God! God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons hegte verhouding met Christus, deur God vrygespreek kan word.