1 Samuel 18:1-16

1 Samuel 18:1-16 AFR20

Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, was Jonatan reeds baie geheg aan Dawid. Jonatan het hom liefgekry soos homself. Saul het hom op daardie dag saamgeneem en hom nie toegelaat om na sy familie terug te gaan nie. Jonatan het met Dawid 'n verbond gesluit, omdat hy hom liefgehad het soos homself. Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, ja selfs sy swaard, sy boog en sy gordel. Dawid het aan al die veldtogte deelgeneem, waarheen Saul hom ook al gestuur het. Hy het sukses behaal, en Saul het hom aangestel oor die krygsmanne. Die hele volk en ook Saul se amptenare het dit goedgevind. Met hulle aankoms, toe Dawid terugkeer van sy oorwinning oor die Filistyn, het vroue uit al die stede van Israel gekom om te sing en koning Saul met kringdanse tegemoet te gaan, met tamboeryne, vreugderoepe en driesnarige instrumente. Die dansende vroue het gesing en gesê: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: “Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry. ” Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou. Die volgende dag het 'n bose gees van God van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis. Terwyl Dawid soos gewoonlik besig was om op die lier te speel, was daar 'n vegspies in Saul se hand. Toe gooi Saul die vegspies. Hy het gedink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen!” Maar Dawid het twee keer vir hom weggekoes. Saul het bang geword vir Dawid, want die HERE was met hom, maar van Saul het Hy gewyk. Saul het Dawid toe uit sy onmiddellike omgewing verwyder en hom aangestel as •aanvoerder van 'n leërafdeling. Dawid was op die voorpunt van die manskappe wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het. Dawid het oral waar hy gegaan het, sukses behaal, en die HERE was met hom. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig is, het hy hom gevrees. Die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, omdat hy op die voorpunt was wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 18:1-16

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid