1 SAMUEL 18:1-16

1 SAMUEL 18:1-16 Die Boodskap (DB)

Van daardie dag af het Saul vir Dawid by hom gehou. Hy het hom nie weer na sy pa se huis toe laat gaan nie. Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan sommer baie van hom begin hou. Hy het net soveel vir Dawid omgegee as vir homself. Jonatan en Dawid het vir mekaar belowe dat hulle boesemvriende sou wees, dat hulle vir mekaar net soveel sou omgee as wat elkeen vir homself omgee. Jonatan het sy mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en vir Dawid gegee. Hy het ook sy oorlogsklere en selfs sy swaard, sy boog en sy lyfband vir hom gegee. Alles wat Dawid vir Saul moes doen, was ’n sukses. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Al die manskappe en die paleiswerkers was gelukkig daaroor. Toe die manne terugkom van die oorlog af waarin Dawid die Filistyn doodgemaak het, het die vroue uit al die dorpe van Israel uitgegaan om koning Saul te groet. Hulle het vrolike liedjies gesing, in die rondte gedans en op tamboeryne en ander musiekinstrumente gespeel. Die vroue het gesing: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.” Daaroor het Saul baie kwaad geword. Hy het niks van die liedjie se woorde gehou nie en gedink: “Hulle prys Dawid vir tien duisende wat hy gewen het, maar mý prys hulle net vir duisende. Hulle moet hom nou nog net koning maak!” Van daardie dag af het Saul Dawid nie vertrou nie. Die volgende dag het ’n bose gees weer vir Saul beetgepak sodat hy soos ’n mal mens in die paleis tekere gegaan het. Dawid het, soos hy maar altyd gemaak het, vir hom op die lier gespeel. Saul het ’n spies in sy hand gehad. Saul gooi toe die spies na Dawid. Hy wou Dawid in die muur vasgooi met die spies. Maar Dawid het twee keer weggekoes vir die spies. Saul het toe bang geword vir Dawid. Die Here het vir Dawid gehelp, maar die Here was nie meer by Saul nie. Saul wou Dawid toe nie meer naby hom hê nie. Hy het hom die leier van ’n groep soldate gemaak. Dawid het die soldate in al hulle veldtogte gelei. Hy het oral sukses behaal, want die Here het hom gehelp. Toe Saul sien hoe goed Dawid vaar, het hy nog banger geword vir hom. Maar al die mense van Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy hulle in die oorlog gelei het.

1 SAMUEL 18:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Nadat Dawid klaar gepraat het met Saul, het Jonatan baie van Dawid begin hou. Hy was lief vir Dawid, so lief soos hy vir homself was. Saul het gesê Dawid moet altyd by hom bly, hy moenie weer teruggaan na sy pa se huis nie. Jonatan en Dawid het 'n ooreenkoms gemaak, want Jonatan was baie lief vir Dawid, so lief soos hy vir homself was. Jonatan het sy bo-kleed en sy ander klere uitgetrek en hy het dit vir Dawid gegee, en ook sy swaard en sy pyl en boog en sy belt. Dawid het oral gegaan waar Saul hom gestuur het, en dit het goed gegaan met hom. Saul het hom gekies om die hoof te wees oor die manne wat moes oorlog maak, en die manne en ook Saul se amptenare was bly daaroor. Nadat Dawid die Filistyn oorwin het, het Saul en sy manne teruggekom, en toe het daar iets gebeur. Die vroue het uit al die stede van Israel na koning Saul toe gekom. Hulle het gesing en gedans en musiek gemaak met tamboeryne en driehoeke. Hulle was vrolik, hulle het gelag en gesing en hulle het gesê: “Saul het duisende manne oorwin, maar Dawid het tienduisende oorwin.” Saul het baie kwaad geword, hy het niks daarvan gehou nie. Hy het gesê: “Hulle sê Dawid het tienduisende manne oorwin, maar ek het net duisende oorwin. As hulle so aanhou praat, dan sal hy die koning word in my plek.” Daarom het Saul van daardie dag goed gekyk of Dawid iets verkeerd doen. Die volgende oggend het 'n bose gees in Saul gekom. Saul het soos 'n profeet gepraat, en Dawid het musiek gemaak soos hy voorheen gedoen het. Saul se spies was in sy hand, en hy het die spies na Dawid gegooi, hy wou vir Dawid teen die muur vassteek met die spies. Hy het die spies twee maal gegooi, maar elke maal het Dawid weggespring. Saul het bang geword vir Dawid, want die Here was by Dawid en Hy was nie meer by Saul nie. Saul het vir Dawid weggestuur van hom. Hy het vir Dawid 'n offisier oor 1 000 manne gemaak, en Dawid het die manne gelei. Dit het oral goed gegaan met Dawid. Die Here was by hom. Saul het gesien dat dit baie goed gaan met Dawid, en hy het bang geword vir Dawid. Al die manne van Israel en Juda het lief geword vir Dawid, want hy het hulle gelei.

1 SAMUEL 18:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN nadat hy sy gesprek met Saul beëindig het, het die siel van Jónatan verkleef geraak aan die siel van Dawid, en Jónatan het hom liefgekry soos sy eie siel. En Saul het hom dié dag geneem en hom nie na sy familie laat teruggaan nie. Toe sluit Jónatan met Dawid 'n verbond, omdat hy hom liefgehad het soos sy eie siel. Daarby trek Jónatan sy mantel uit wat hy aangehad het, en gee dit aan Dawid; ook sy klere, ja, selfs sy swaard en sy boog en sy gordel. En Dawid het uitgetrek. Oral waar Saul hom gestuur het, was hy voorspoedig, sodat Saul hom oor die krygsmanne aangestel het; en dit was goed in die oë van die hele volk en ook in die oë van die dienaars van Saul. En toe hulle tuis kom, en ook Dawid terug was nadat hy die Filistyn verslaan het, het die vroue uitgegaan uit al die stede van Israel met sang en koordanse, met tamboeryne, met vreugdegeroep en met triangels koning Saul tegemoet. En die vroue wat vrolik was, het gesing en gesê: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende! En Saul het baie kwaad geword, want hierdie woord was verkeerd in sy oë. En hy sê: Hulle het Dawid die tienduisende gegee, maar my die duisende gegee; hy moet nou nog net die koningskap kry! En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad. Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul 'n spies in sy hand hou. Toe gooi Saul die spies en sê: Ek wil Dawid teen die muur vassteek! Maar Dawid het twee maal vir hom padgegee. En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het. Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder en hom aangestel as sy owerste oor duisend, sodat hy voor die manskappe uit- en ingegaan het. EN Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die HERE was met hom. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig was, het hy vir hom bang geword. Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het voor hulle uit- en ingegaan.

1 SAMUEL 18:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie. Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself. Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel. Dawid het toe opgetrek teen elkeen teen wie Saul hom uitgestuur het. Hy was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind. Toe Dawid teruggekom het nadat hy die Filistyn verslaan het en Saul-hulle op pad was huis toe, het die vroue van al die dorpe van Israel uitgegaan om te sing, en die danseresse het koning Saul tegemoet gegaan met tamboeryne en driesnarige musiekinstrumente en met gejubel. Die vroue het gedans en gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Daaroor het Saul hom vererg. Dit het hom nie geval nie en hy het gesê: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee en aan my duisende. Die koningskap sal ook nog syne word!” Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou. Die volgende dag het 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos 'n waansinnige. Soos gewoonlik het Dawid op die lier gespeel. In die hand van Saul was daar 'n spies. Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen. Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal. Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat. Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was. Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree.

1 SAMUEL 18:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, was Jonatan reeds baie geheg aan Dawid. Jonatan het hom liefgekry soos homself. Saul het hom op daardie dag saamgeneem en hom nie toegelaat om na sy familie terug te gaan nie. Jonatan het met Dawid 'n verbond gesluit, omdat hy hom liefgehad het soos homself. Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, ja selfs sy swaard, sy boog en sy gordel. Dawid het aan al die veldtogte deelgeneem, waarheen Saul hom ook al gestuur het. Hy het sukses behaal, en Saul het hom aangestel oor die krygsmanne. Die hele volk en ook Saul se amptenare het dit goedgevind. Met hulle aankoms, toe Dawid terugkeer van sy oorwinning oor die Filistyn, het vroue uit al die stede van Israel gekom om te sing en koning Saul met kringdanse tegemoet te gaan, met tamboeryne, vreugderoepe en driesnarige instrumente. Die dansende vroue het gesing en gesê: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: “Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry. ” Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou. Die volgende dag het 'n bose gees van God van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis. Terwyl Dawid soos gewoonlik besig was om op die lier te speel, was daar 'n vegspies in Saul se hand. Toe gooi Saul die vegspies. Hy het gedink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen!” Maar Dawid het twee keer vir hom weggekoes. Saul het bang geword vir Dawid, want die HERE was met hom, maar van Saul het Hy gewyk. Saul het Dawid toe uit sy onmiddellike omgewing verwyder en hom aangestel as •aanvoerder van 'n leërafdeling. Dawid was op die voorpunt van die manskappe wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het. Dawid het oral waar hy gegaan het, sukses behaal, en die HERE was met hom. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig is, het hy hom gevrees. Die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, omdat hy op die voorpunt was wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het.

1 SAMUEL 18:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe hy klaar was om met Saul te spreek, was die siel van Jónatan verbind met die siel van Dawid, en Jónatan het hom liefgehad soos sy eie siel. En Saul het hom daardie dag geneem en hom nie meer huis toe laat gaan na sy vader se huis nie. Toe het Jónatan en Dawid 'n verbond gesluit, omdat hy hom liefgehad het soos sy eie siel. En Jónatan het die mantel wat hom aangehad het, uitgetrek en dit aan Dawid gegee en sy klere tot by sy swaard en tot by sy boog en tot by sy gordel. En Dawid het uitgegaan waarheen Saul hom ook al gestuur het, en hy het verstandig gedra; en Saul het hom oor die krygsmanne aangestel, en hy was welgevallig in die oë van die hele volk en ook in die oë van Saul se dienaars. En terwyl hulle aankom, toe Dawid teruggekeer het van die slagting van die Filistyn, het die vroue uit al die stede van Israel uitgegaan, singend en dansend, koning Saul tegemoet, met trommels, met blydskap en met instrumente van musiek. En die vroue het mekaar geantwoord terwyl hulle speel en gesê: Saul het sy duisende verslaan, en Dawid sy tienduisende. En Saul was baie toornig, en die woord was verkeerd in hom; en hy sê: Hulle het aan Dawid tien duisende toegeskryf, en aan My het hulle maar duisende toegeskryf; en wat kan hy meer hê as die koninkryk? En Saul het Dawid van daardie dag af en verder gekyk. En die volgende dag het die bose gees van God oor Saul gekom, en hy het in die middel van die huis geprofeteer; en Dawid het met sy hand gespeel soos die vorige kere, en daar was 'n spies in die hand van Saul. En Saul het die spies gegooi; want hy het gesê: Ek sal Dawid daarmee verslaan tot by die muur. En Dawid het twee keer uit sy teenwoordigheid weggewyk. En Saul was bang vir Dawid, want die HERE was met hom en het van Saul af weggegaan. Daarom het Saul hom van hom verwyder en hom as owerste oor duisend aangestel; en hy het uitgegaan en voor die volk ingekom. En Dawid het in al sy weë wys gedra; en die HERE was met hom. Daarom, toe Saul sien dat hy baie wys gedra het, was hy bang vir hom. Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het uit- en ingegaan voor hulle uit.

1 SAMUEL 18:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat Dawid met Saul gepraat het, het Saul se seun Jonatan baie geheg geraak aan Dawid. Daar was dadelik ’n band tussen hulle sodat hulle boesemvriende geword het. Daardie dag nog het Saul hom saamgeneem huis toe en wou nie toelaat dat hy na sy pa toe teruggaan nie. Jonatan en Dawid het toe ’n plegtige ooreenkoms aangegaan omdat Jonatan baie aangetrokke tot hom gevoel het. Jonatan het sy mantel uitgetrek en dit vir Dawid gegee. Hy het ook sy wapenrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel vir hom gegee. Dawid het toe uitgetrek teen wie ook al Saul hom uitgestuur het. Dawid het dit suksesvol uitgevoer. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Sowel die soldate as Saul se amptenare het dit goedgekeur. Toe hulle terugkeer huis toe ná Dawid se oorwinning oor die Filistyn, het die vroue uit al die dorpe van Israel koning Saul tegemoetgegaan. Hulle het gesing en gejubel saam met dansers met tamboeryne en met driesnarige instrumente. Die vroue het gesing en gesê: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” Saul het gebrand van jaloesie, en die woorde was vir hom ’n belediging. Hy sê toe: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee, maar vir my net die duisende. Al wat hy nog kortkom, is die koningskap!” Van daardie dag af het Saul vir Dawid gewantrou. Die volgende dag het ’n bose gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak sodat hy in sy huis soos ’n besetene opgetree het. Dawid het weer op die lier begin speel soos hy gewoonlik gedoen het. Saul het egter ’n spies in sy hand gehad. Toe gooi hy na Dawid met die spies en dink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen.” Maar Dawid het gekoes, ook vir ’n tweede keer. Saul het bang geword vir Dawid omdat die HERE by Dawid was, maar vir hom verlaat het. Daarom het hy Dawid weggestuur en hom elders as hoof van ’n leërafdeling aangestel. Dawid was suksesvol in alles wat hy gedoen het en die HERE was met hom. Toe Saul dit opmerk, was hy bang vir hom, maar die hele Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy ’n suksesvolle aanvoerder was.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid