1 SAMUEL 18:1-16

1 SAMUEL 18:1-16 NLV

Nadat Dawid met Saul gepraat het, het Saul se seun Jonatan baie geheg geraak aan Dawid. Daar was dadelik ’n band tussen hulle sodat hulle boesemvriende geword het. Daardie dag nog het Saul hom saamgeneem huis toe en wou nie toelaat dat hy na sy pa toe teruggaan nie. Jonatan en Dawid het toe ’n plegtige ooreenkoms aangegaan omdat Jonatan baie aangetrokke tot hom gevoel het. Jonatan het sy mantel uitgetrek en dit vir Dawid gegee. Hy het ook sy wapenrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel vir hom gegee. Dawid het toe uitgetrek teen wie ook al Saul hom uitgestuur het. Dawid het dit suksesvol uitgevoer. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Sowel die soldate as Saul se amptenare het dit goedgekeur. Toe hulle terugkeer huis toe ná Dawid se oorwinning oor die Filistyn, het die vroue uit al die dorpe van Israel koning Saul tegemoetgegaan. Hulle het gesing en gejubel saam met dansers met tamboeryne en met driesnarige instrumente. Die vroue het gesing en gesê: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” Saul het gebrand van jaloesie, en die woorde was vir hom ’n belediging. Hy sê toe: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee, maar vir my net die duisende. Al wat hy nog kortkom, is die koningskap!” Van daardie dag af het Saul vir Dawid gewantrou. Die volgende dag het ’n bose gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak sodat hy in sy huis soos ’n besetene opgetree het. Dawid het weer op die lier begin speel soos hy gewoonlik gedoen het. Saul het egter ’n spies in sy hand gehad. Toe gooi hy na Dawid met die spies en dink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen.” Maar Dawid het gekoes, ook vir ’n tweede keer. Saul het bang geword vir Dawid omdat die HERE by Dawid was, maar vir hom verlaat het. Daarom het hy Dawid weggestuur en hom elders as hoof van ’n leërafdeling aangestel. Dawid was suksesvol in alles wat hy gedoen het en die HERE was met hom. Toe Saul dit opmerk, was hy bang vir hom, maar die hele Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy ’n suksesvolle aanvoerder was.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 SAMUEL 18:1-16

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid