1 Samuel 14:1-23

1 Samuel 14:1-23 AFR20

Op 'n dag sê Jonatan, seun van Saul, vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van die Filistyne daar oorkant.” Maar vir sy vader het hy dit nie vertel nie. Saul het aan die buitewyke van Gibea gesit onder die granaatboom by Migron. Daar was ongeveer seshonderd manskappe by hom. Agija, seun van Agitub, die broer van Ikabod, seun van Pinehas, seun van Eli, die priester van die HERE in Silo, het toe die efod gedra. Ook die manskappe het nie geweet dat Jonatan gegaan het nie. In die middel van die pas waar Jonatan wou oorgaan na die garnisoen van die Filistyne, was daar 'n spits rotspunt aan die oorkant, en 'n spits rotspunt aan die duskant. Die naam van die een rotspunt was Boses en die naam van die ander was Senne. Die een spits verrys aan die noordekant teenoor Migmas, en die ander aan die suidekant teenoor Geba. Jonatan sê toe vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van hierdie onbesnedenes. Miskien help die HERE ons, want daar is vir die HERE geen beperking om deur baie of deur min te verlos nie.” Sy wapendraer antwoord hom: “Doen enigiets wat u wil. As u naderkruip, kyk, ek is by u, wat u ook al besluit.” Toe sê Jonatan: “Dis reg; dan gaan ons oor na die manne, maar ons sorg dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê, ‘Staan stil totdat ons by julle kom!’ dan bly ons staan waar ons is, en klim nie op na hulle toe nie. Maar as hulle sê, ‘Kom op na ons toe!’ dan gaan ons op, want dan gee die HERE hulle in ons hand. Dit sal vir ons die teken wees.” Hulle twee het toe gesorg dat die garnisoen van die Filistyne hulle sien. Die Filistyne sê toe: “Kyk, daar is Hebreërs besig om uit die gate te kom waar hulle weggekruip het. ” Die manne van die garnisoen skreeu toe vir Jonatan en sy wapendraer. Hulle het gesê: “Klim op na ons toe, sodat ons julle 'n les kan leer. ” Daarop sê Jonatan vir sy wapendraer: “Klim op agter my aan, want die HERE gee hulle in die hand van Israel.” Jonatan het hande-viervoet opgeklim, met sy wapendraer agter hom. Die Filistyne het voor Jonatan geval, en sy wapendraer agter hom het hulle die doodsteek toegedien. Hierdie eerste aanval, waarin Jonatan en sy wapendraer ongeveer twintig man neergevel het, het op naastenby die helfte van 'n ploegstrook plaasgevind. Dit het vrees veroorsaak in die kamp en in die veld, ja, onder al die manskappe. Die garnisoen en die stroperbendes, selfs hulle was aan die bewe. Die land het gesidder; dit was 'n vrees wat van God kom. Saul se verkenners by Gibea in Benjamin sien toe: Kyk, die massa mense spat uiteen in alle rigtings! Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Monster die manne, en kyk wie van ons af weggegaan het.” Hulle hou toe 'n monstering en sowaar, Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie! Toe sê Saul vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was immers in dié tyd by die Israeliete. Terwyl Saul nog met die priester praat, raak die opskudding wat in die kamp van die Filistyne heers, al hoe erger. Saul sê toe vir die priester: “Hou jou hand terug!” Saul en al die manskappe wat by hom was, het op sy bevel byeengekom en tot die stryd toegetree. En kyk, onder die Filistyne was daar volslae verwarring: Elkeen se swaard was teen sy makker gerig! En die Hebreërs wat vroeër by die Filistyne aangesluit het, wat van oraloor saam met hulle in die leër opgetrek het, selfs hulle was gereed om aan te sluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jonatan was. Al die manne van Israel wat in die heuwelland van Efraim weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug, en ook hulle het in die geveg aan die hakkejag deelgeneem. Die HERE het Israel daardie dag verlos. Die geveg het voortgewoed tot anderkant Bet-Awen.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 14:1-23