1 SAMUEL 14:1-23

1 SAMUEL 14:1-23 NLV

Op ’n dag sê Saul se seun Jonatan vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oorkant toe na die Filistyne se wagpos.” Jonatan het nie vir sy pa gesê wat hy gaan doen nie. Intussen het Saul en sy 600 man kamp opgeslaan onder die granaatboom by die dorsvloer buite Gibea. Saam met hom was ook Agija die priester wat die skouerkleed gedra het. Hy was die seun van Agitub, die broer van Ikabod. Agitub was die seun van Pinehas en die kleinseun van Eli, wat die priester vir die HERE in Silo was. Niemand het agtergekom dat Jonatan weg was uit die kamp van die Israeliete nie. Om by die Filistyne uit te kom, moes Jonatan teen ’n pas uit en tussen twee spits rotskranse deur. Die een rots is Boses genoem en die ander Senne. Die krans aan die noordekant was teenoor Mikmas en die een aan die suidekant was teenoor Gibea. “Kom ons gaan oor na hierdie heidene toe,” sê Jonatan vir sy wapendraer. “Dalk help die HERE ons. Hy kan tog deur baie of deur min die oorwinning gee!” “Doen wat u dink goed is,” sê die wapendraer. “Ek is hart en siel saam met u!” “Goed dan,” sê Jonatan. “Ons sal oorgaan sodat hulle ons kan sien. As hulle vir ons sê: ‘Bly waar julle is, of ons sal julle doodmaak,’ moet ons hier bly en nie na hulle toe gaan nie. Maar as hulle sê: ‘Kom op hierheen,’ dan gaan ons op na hulle toe. Dit sal die teken wees dat die HERE hulle aan ons oorgegee het.” Toe die Filistyne hulle sien aankom, roep hulle: “Kyk! Die Hebreërs kom uit die gate waar hulle weggekruip het!” Toe roep hulle na Jonatan: “Kom op hierheen sodat ons vir julle ’n les kan leer!” Jonatan sê vir sy wapendraer: “Kom, klim net agter my aan, want die HERE gee hulle oor in ons mag!” Hulle klim toe hande-viervoet boontoe. Die Filistyne het voor Jonatan geval en sy wapendraer het hulle agter hom doodgemaak. In hierdie eerste geveg het Jonatan en sy wapendraer omtrent twintig man op ’n klein stukkie grond doodgemaak. Daar het paniek onder die Filistyne ontstaan, onder dié wat in die kamp was en dié in die veld. Selfs die buiteposte en die roofbendes was vreesbevange. Daar was ook ’n groot aardbewing sodat almal nog banger geword het. Saul se wagte by Gibea in Benjamin het gesien dat die Filistynse magte in alle rigtings uitmekaarspat. “Maak seker wie van ons mense is nie hier nie,” beveel Saul. Hulle stel toe vas dat Jonatan en sy wapendraer nie daar was nie. Daarop sê Saul vir Agija: “Bring die skouerkleed hier!” Destyds het Agija die skouerkleed in Israel gedra. Terwyl Saul nog met die priester praat, het die geraas in die Filistynse kamp al harder geword. Daarom sê Saul vir Agija: “Laat staan maar!” Saul en sy 600 man het hulle na die gevegsfront gehaas. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak en daar was groot verwarring. Selfs die Hebreërs wat voorheen die Filistyne gesteun het, het oorgeloop na die Israeliete wat by Saul en Jonatan was. Toe die Israelitiese vegters wat in die heuwels weggekruip het, sien die Filistyne vlug, het hulle ook die vyand agtervolg. So het die HERE Israel daardie dag gered. Die agtervolging het voortgegaan tot anderkant Bet-Awen.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 SAMUEL 14:1-23

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid