1 SAMUEL 14:1-23

1 SAMUEL 14:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n dag sê Saul se seun Jonatan vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oorkant toe na die Filistyne se wagpos.” Jonatan het nie vir sy pa gesê wat hy gaan doen nie. Intussen het Saul en sy 600 man kamp opgeslaan onder die granaatboom by die dorsvloer buite Gibea. Saam met hom was ook Agija die priester wat die skouerkleed gedra het. Hy was die seun van Agitub, die broer van Ikabod. Agitub was die seun van Pinehas en die kleinseun van Eli, wat die priester vir die HERE in Silo was. Niemand het agtergekom dat Jonatan weg was uit die kamp van die Israeliete nie. Om by die Filistyne uit te kom, moes Jonatan teen ’n pas uit en tussen twee spits rotskranse deur. Die een rots is Boses genoem en die ander Senne. Die krans aan die noordekant was teenoor Mikmas en die een aan die suidekant was teenoor Gibea. “Kom ons gaan oor na hierdie heidene toe,” sê Jonatan vir sy wapendraer. “Dalk help die HERE ons. Hy kan tog deur baie of deur min die oorwinning gee!” “Doen wat u dink goed is,” sê die wapendraer. “Ek is hart en siel saam met u!” “Goed dan,” sê Jonatan. “Ons sal oorgaan sodat hulle ons kan sien. As hulle vir ons sê: ‘Bly waar julle is, of ons sal julle doodmaak,’ moet ons hier bly en nie na hulle toe gaan nie. Maar as hulle sê: ‘Kom op hierheen,’ dan gaan ons op na hulle toe. Dit sal die teken wees dat die HERE hulle aan ons oorgegee het.” Toe die Filistyne hulle sien aankom, roep hulle: “Kyk! Die Hebreërs kom uit die gate waar hulle weggekruip het!” Toe roep hulle na Jonatan: “Kom op hierheen sodat ons vir julle ’n les kan leer!” Jonatan sê vir sy wapendraer: “Kom, klim net agter my aan, want die HERE gee hulle oor in ons mag!” Hulle klim toe hande-viervoet boontoe. Die Filistyne het voor Jonatan geval en sy wapendraer het hulle agter hom doodgemaak. In hierdie eerste geveg het Jonatan en sy wapendraer omtrent twintig man op ’n klein stukkie grond doodgemaak. Daar het paniek onder die Filistyne ontstaan, onder dié wat in die kamp was en dié in die veld. Selfs die buiteposte en die roofbendes was vreesbevange. Daar was ook ’n groot aardbewing sodat almal nog banger geword het. Saul se wagte by Gibea in Benjamin het gesien dat die Filistynse magte in alle rigtings uitmekaarspat. “Maak seker wie van ons mense is nie hier nie,” beveel Saul. Hulle stel toe vas dat Jonatan en sy wapendraer nie daar was nie. Daarop sê Saul vir Agija: “Bring die skouerkleed hier!” Destyds het Agija die skouerkleed in Israel gedra. Terwyl Saul nog met die priester praat, het die geraas in die Filistynse kamp al harder geword. Daarom sê Saul vir Agija: “Laat staan maar!” Saul en sy 600 man het hulle na die gevegsfront gehaas. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak en daar was groot verwarring. Selfs die Hebreërs wat voorheen die Filistyne gesteun het, het oorgeloop na die Israeliete wat by Saul en Jonatan was. Toe die Israelitiese vegters wat in die heuwels weggekruip het, sien die Filistyne vlug, het hulle ook die vyand agtervolg. So het die HERE Israel daardie dag gered. Die agtervolging het voortgegaan tot anderkant Bet-Awen.

1 SAMUEL 14:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Eendag het Jonatan seun van Saul vir sy wapendraer gesê: “Kom, ek wil hê ons moet die Filistyne gaan aanval wat daar oorkant wagstaan.” Jonatan het nie vir sy pa vertel wat hy wou doen nie. Saul het onder 'n granaatboom gesit wat in Migron was, naby die stad Gibea. Daar was omtrent 600 manne by hom. Hulle het ook nie geweet dat Jonatan gegaan het nie. Agija het die skouer-kleed aangehad. Hy was die seun van Agitub, die broer van Ikabod. Ikabod was die seun van Pinehas, en Pinehas was die seun van Eli, die priester van die Here in Silo. Jonatan moes oor die bergpas gaan om by die groep Filistyne te kom. Daar was 'n skerp rots langs elke kant van die bergpas. Die naam van die een rots was Boses en die naam van die ander rots was Senne. Die een rots het soos 'n pilaar gestaan, langs die noordekant van die bergpas, naby Mikmas, en die ander rots was langs die suidekant van die bergpas, naby Geba. Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan op na daardie heidene toe. Miskien sal die Here ons help, want niks kan die Here keer wanneer Hy iemand wil red nie. Hy gebruik baie mense of min mense.” Jonatan se wapendraer het vir hom gesê: “Jy moet alles doen wat jy dink is reg. Gaan, en ek sal doen wat jy doen.” Toe sê Jonatan: “Wanneer ons opgaan na hulle toe, dan moet ons só loop dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê: ‘Bly daar, ons kom na julle toe,’ dan moet ons staan waar ons is, ons moenie opgaan na hulle toe nie. Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ dan moet ons opgaan, want dit sal vir ons wys dat die Here ons sal laat wen teen hulle.” Jonatan en sy wapendraer het só geloop dat die Filistyne kon sien hulle kom, en die Filistyne het gesê: “Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate waar hulle weggekruip het.” Die manne van die groep Filistyne het vir Jonatan en sy wapendraer gesê: “Kom op na ons toe, ons sal vir julle wys wie is die sterkste.” Toe sê Jonatan vir sy wapendraer: “Kom saam met my, want die Here sal ons laat wen teen hulle.” Jonatan het op sy hande en voete opgeklim en sy wapendraer het agter hom gekom. Jonatan het die Filistyne met sy swaard gekap, en hulle het op die grond geval, en sy wapendraer het die Filistyne agter Jonatan doodgemaak. Jonatan en sy wapendraer het daardie eerste dag omtrent 20 Filistyne doodgemaak. Die grond waarop hulle die Filistyne doodgemaak het, was omtrent so groot soos 'n halwe ploeg-akker. Die Filistyne in die kamp het almal baie bang geword, en die Filistyne wat goed moes bymekaarmaak om weg te vat, het gebewe. Almal in die land was baie bang, want hulle het groot geskrik. Saul se wagte in Gibea in die land Benjamin het gesien dat die Filistyne vlug en dat hulle heen en weer hardloop. Saul het gesê: “Tel hoeveel manne hier is en kyk wie is nie hier nie.” Hulle het getel, en hulle het gesien Jonatan en sy wapendraer was nie daar nie. Saul het vir die priester Agitub gesê: “Bring die kis van God nader.” Die kis was daardie dag by die Israeliete. Maar Saul was besig om met die priester te praat, toe hoor hulle die Filistyne skree harder en harder en hulle sien dat die Filistyne heen en weer hardloop. Saul sê toe vir die priester: “Los die kis.” Saul en al die manne het geskree om die oorlog te begin en hulle het gegaan om die Filistyne aan te val. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak, en alles was baie deurmekaar. Die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne was en wat saam met hulle gekom het om oorlog te maak, het nou na die Israeliete toe gekom wat by Saul en Jonatan was. Al die Israeliete wat weggekruip het in die Efraim-berge, het gehoor dat die Filistyne gevlug het. Hulle het ook die Filistyne gevolg en gejaag. Die Here het die Israeliete daardie dag gered. Hulle het oorlog gemaak tot verby die stad Bet-Awen.

1 SAMUEL 14:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op 'n dag het Jónatan, die seun van Saul, aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van die Filistyne wat daar oorkant is. Maar aan sy vader het hy dit nie te kenne gegee nie. En Saul het gesit op die grens van Gíbea onder die granaatboom wat by Migron staan; en die manskappe by hom was omtrent seshonderd man. En Ahía, die seun van Ahítub, die broer van Íkabod, die seun van Pínehas, die seun van Eli, die priester van die HERE in Silo, het die skouerkleed gedra. Maar die manskappe het nie geweet dat Jónatan weggegaan het nie. Nou was daar tussen die passe waar Jónatan wou deurgaan na die wagpos van die Filistyne, 'n spits rots oorkant en 'n spits rots duskant, en die naam van die een was Boses en die naam van die ander Sene. Die een spits staan soos 'n pilaar noord teenoor Migmas, en die ander een suid teenoor Geba. Jónatan dan het aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die HERE vir ons optree, want by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie. Toe sê sy wapendraer vir hom: Doen alles wat in u hart is, maak soos u wil; hier is ek by u volgens die wens van u hart. Daarop sê Jónatan: Kyk, ons sal na die manne toe oorgaan en ons aan hulle vertoon. As hulle vir ons só sê: Staan stil totdat ons by julle kom! dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie. Maar as hulle só sê: Kom op na ons toe! dan klim ons op, want dan het die HERE hulle in ons hand gegee; en dit sal vir ons die teken wees. Toe hulle twee hul aan die wagpos van die Filistyne vertoon, sê die Filistyne: Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate uit waar hulle weggekruip het. En die manne van die wagpos het Jónatan en sy wapendraer aangespreek en gesê: Klim op na ons toe, dan sal ons julle 'n les leer! Daarop sê Jónatan aan sy wapendraer: Klim op agter my aan, want die HERE het hulle in die hand van Israel gegee. En Jónatan het op sy hande en voete uitgeklim, en sy wapendraer agter hom aan; en hulle het voor Jónatan geval terwyl sy wapendraer agter hom aan van kant maak. Hierdie eerste slag waarin Jónatan en sy wapendraer ongeveer twintig man verslaan het, het plaasgevind op omtrent die helfte van 'n aanvoorsel van 'n stuk land. Toe kom daar 'n skrik in die laer, in die veld en onder al die manskappe; die wagpos en die roofkommando, hulle het ook geskrik, ja, die land het gebewe, sodat dit 'n skrik van God geword het. En toe die spioene van Saul in Gíbea in Benjamin sien dat die menigte daar verward heen en weer golf, sê Saul aan die manskappe wat by hom was: Hou tog 'n monstering en kyk wie van ons af weggegaan het. En by die monstering het geblyk dat Jónatan en sy wapendraer daar nie was nie. Toe sê Saul vir Ahía: Bring die ark van God nader. Want die ark van God was in dié tyd by die kinders van Israel. En terwyl Saul nog met die priester spreek en die rumoer wat in die laer van die Filistyne was, altyddeur groter word, sê Saul vir die priester: Trek jou hand terug! Saul en al die manskappe wat by hom was, is toe saamgeroep, en hulle het by die geveg aangekom; en kyk, die swaard van die een was teen die ander — 'n baie groot verwarring. Selfs die Hebreërs wat die Filistyne soos gister en eergister bygestaan het, wat verspreid met hulle saam in die leër opgetrek het, hulle het ook aangesluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jónatan was. Toe al die manne van Israel wat op die gebergte van Efraim weggekruip het, hoor dat die Filistyne vlug, het dié hulle ook in die geveg agternagesit. En die HERE het Israel op dié dag verlos. Toe die geveg dan by Bet-Awen verbygaan

1 SAMUEL 14:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op 'n dag sê Jonatan seun van Saul toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oor na die patrollie van die Filistyne toe daar oorkant.” Hy het dit egter nie vir sy pa vertel nie. Saul was toe onder 'n granaatboom by die dorsvloer net buite Gibea met omtrent ses honderd man by hom. Die priester Agija seun van Agitub, broer van Ikabod seun van Pinehas, seun van Eli wat priester van die Here in Silo was, het die skouerkleed gedra. Maar die manskappe het nie geweet dat Jonatan weggegaan het nie. Weerskante van die pas waar Jonatan probeer deurgaan het na die patrollie van die Filistyne toe, was daar 'n spits rots. Die naam van die een rots was Boses en dié van die ander Senne. Die een spits het soos 'n pilaar aan die noordekant teenoor Mikmas gestaan, en die ander aan die suidekant teenoor Gibea. Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe. Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.” En sy wapendraer sê vir hom: “Net soos u wil. Ek is tot u diens.” Jonatan sê toe vir hom: “Nou toe, kom ons gaan in hulle rigting sodat hulle ons kan sien. As hulle vir ons sê: ‘Staan stil totdat ons by julle kom,’ bly ons hier onder staan. Ons gaan dan nie op na hulle toe nie. Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ gaan ons na hulle toe, want dan sal dit vir ons die teken wees dat die Here hulle in ons mag gee.” Toe die Filistynse patrollie die twee sien, het die Filistyne gesê: “Kyk daar! Party Hebreërs het uitgekom uit die gate waarin hulle weggekruip het.” En die manne van die patrollie het vir Jonatan en sy wapendraer uitgedaag: “Kom op na ons toe dat ons julle 'n les kan leer.” Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Klim agter my aan! Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee.” Jonatan het hande-viervoet opgeklouter met sy wapendraer op sy hakke. Die vyand het voor Jonatan geval, en agter hom het sy wapendraer hulle doodgemaak. In hierdie eerste slagting deur Jonatan en sy wapendraer het omtrent twintig man geval, en dit op 'n klein stukkie grond. Toe het die hele leër van die vyand paniekbevange geword, in die laer en in die veld; die patrollie en die roofbende het ook paniekbevange geword: daar was 'n aardbewing en God het hulle paniekbevange gemaak. Toe die wagte van Saul by Gibea in Benjamin sien dat die menigte in beroering is en in die rondte maal, het Saul vir die manskappe by hom gesê: “Stel dadelik vas wie van ons is weg.” Hulle het vasgestel Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie. Saul sê toe vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was in dié tyd by die Israeliete. Terwyl Saul nog met die priester aan die praat was, het die rumoer in die laer van die Filistyne steeds groter geword. Toe sê Saul vir die priester: “Laat staan maar!” Saul en die manskappe by hom het bymekaargekom en toe hulle by die geveg kom, was die Filistyne besig om onder mekaar te veg. Daar was baie groot verwarring. Boonop het die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne se leër opgetrek het, oorgeloop na die Israeliete toe wat by Saul en Jonatan was. Al die Israeliete wat in die Efraimsberge weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug en het hulle agterna gesit. Die Here het Israel daardie dag gered. Hulle het veg-veg by Bet-Awen verbygegaan.

1 SAMUEL 14:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op 'n dag sê Jonatan, seun van Saul, vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van die Filistyne daar oorkant.” Maar vir sy vader het hy dit nie vertel nie. Saul het aan die buitewyke van Gibea gesit onder die granaatboom by Migron. Daar was ongeveer seshonderd manskappe by hom. Agija, seun van Agitub, die broer van Ikabod, seun van Pinehas, seun van Eli, die priester van die HERE in Silo, het toe die efod gedra. Ook die manskappe het nie geweet dat Jonatan gegaan het nie. In die middel van die pas waar Jonatan wou oorgaan na die garnisoen van die Filistyne, was daar 'n spits rotspunt aan die oorkant, en 'n spits rotspunt aan die duskant. Die naam van die een rotspunt was Boses en die naam van die ander was Senne. Die een spits verrys aan die noordekant teenoor Migmas, en die ander aan die suidekant teenoor Geba. Jonatan sê toe vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van hierdie onbesnedenes. Miskien help die HERE ons, want daar is vir die HERE geen beperking om deur baie of deur min te verlos nie.” Sy wapendraer antwoord hom: “Doen enigiets wat u wil. As u naderkruip, kyk, ek is by u, wat u ook al besluit.” Toe sê Jonatan: “Dis reg; dan gaan ons oor na die manne, maar ons sorg dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê, ‘Staan stil totdat ons by julle kom!’ dan bly ons staan waar ons is, en klim nie op na hulle toe nie. Maar as hulle sê, ‘Kom op na ons toe!’ dan gaan ons op, want dan gee die HERE hulle in ons hand. Dit sal vir ons die teken wees.” Hulle twee het toe gesorg dat die garnisoen van die Filistyne hulle sien. Die Filistyne sê toe: “Kyk, daar is Hebreërs besig om uit die gate te kom waar hulle weggekruip het. ” Die manne van die garnisoen skreeu toe vir Jonatan en sy wapendraer. Hulle het gesê: “Klim op na ons toe, sodat ons julle 'n les kan leer. ” Daarop sê Jonatan vir sy wapendraer: “Klim op agter my aan, want die HERE gee hulle in die hand van Israel.” Jonatan het hande-viervoet opgeklim, met sy wapendraer agter hom. Die Filistyne het voor Jonatan geval, en sy wapendraer agter hom het hulle die doodsteek toegedien. Hierdie eerste aanval, waarin Jonatan en sy wapendraer ongeveer twintig man neergevel het, het op naastenby die helfte van 'n ploegstrook plaasgevind. Dit het vrees veroorsaak in die kamp en in die veld, ja, onder al die manskappe. Die garnisoen en die stroperbendes, selfs hulle was aan die bewe. Die land het gesidder; dit was 'n vrees wat van God kom. Saul se verkenners by Gibea in Benjamin sien toe: Kyk, die massa mense spat uiteen in alle rigtings! Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Monster die manne, en kyk wie van ons af weggegaan het.” Hulle hou toe 'n monstering en sowaar, Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie! Toe sê Saul vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was immers in dié tyd by die Israeliete. Terwyl Saul nog met die priester praat, raak die opskudding wat in die kamp van die Filistyne heers, al hoe erger. Saul sê toe vir die priester: “Hou jou hand terug!” Saul en al die manskappe wat by hom was, het op sy bevel byeengekom en tot die stryd toegetree. En kyk, onder die Filistyne was daar volslae verwarring: Elkeen se swaard was teen sy makker gerig! En die Hebreërs wat vroeër by die Filistyne aangesluit het, wat van oraloor saam met hulle in die leër opgetrek het, selfs hulle was gereed om aan te sluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jonatan was. Al die manne van Israel wat in die heuwelland van Efraim weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug, en ook hulle het in die geveg aan die hakkejag deelgeneem. Die HERE het Israel daardie dag verlos. Die geveg het voortgewoed tot anderkant Bet-Awen.

1 SAMUEL 14:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En op 'n dag het Jónatan, die seun van Saul, aan die jongman wat sy wapenrusting gedra het, gesê: Kom, laat ons oortrek na die wagpos van die Filistyne wat anderkant is. Maar hy het dit nie vir sy pa vertel nie. En Saul het aan die einde van Gíbea gebly onder 'n granaatboom wat in Migron is; en die manskappe wat by hom was, was omtrent seshonderd man; En Ahia, die seun van Agitub, die broer van Ikabod, die seun van Pinehas, die seun van Eli, die priester van die HERE in Silo, met 'n skouerkleed. En die volk het nie geweet dat Jónatan weg was nie. En tussen die gange waardeur Jónatan na die wagpos van die Filistyne wou oorgaan, was daar 'n skerp rots aan die een kant en 'n skerp rots aan die ander kant; en die naam van die een was Boses, en die naam van die ander Seneh. Die voorkant van die een was noordwaarts teenoor Migmas en die ander suidwaarts teenoor Gibea. En Jónatan sê vir die jongman wat sy wapenrusting gedra het: Kom, laat ons oortrek na die wagpos van hierdie onbesnedenes; deur min. En sy wapendraer sê vir hom: Doen alles wat in jou hart is; kyk, Ek is met jou volgens jou hart. Toe sê Jónatan: Kyk, ons sal na hierdie manne oorgaan, en ons sal onsself aan hulle ontdek. As hulle so vir ons sê: Bly stil totdat ons na julle toe kom; dan sal ons op ons plek bly staan en nie na hulle toe optrek nie. Maar as hulle so sê: Kom op na ons toe; dan sal ons optrek, want die HERE het hulle in ons hand gegee, en dit sal vir ons 'n teken wees. En hulle altwee het hulleself by die wagpos van die Filistyne ontdek, en die Filistyne het gesê: Kyk, die Hebreërs kom uit die gate waar hulle weggesteek het. En die manne van die wagpos het Jónatan en sy wapendraer geantwoord en gesê: Kom op na ons toe, dan sal ons julle iets te kenne gee. En Jónatan sê aan sy wapendraer: Trek op agter my aan, want die HERE het hulle in die hand van Israel oorgegee. En Jónatan het op sy hande en op sy voete geklim, en sy wapendraer agter hom aan, en hulle het voor Jónatan geval; en sy wapendraer het agter hom gedood. En daardie eerste slagting wat Jonatan en sy wapendraer gemaak het, was omtrent twintig man, binne soos 'n half akker land, wat 'n juk beeste kon ploeg. En daar het bewing gekom in die leër, in die veld en onder die hele volk: die wagpos en die verwoesters het ook gebewe, en die aarde het gebewe; En die wagte van Saul in Gíbea in Benjamin het gekyk; en kyk, die skare het weggesmelt, en hulle het aangehou om mekaar te verslaan. Toe sê Saul vir die manskappe wat by hom was: Tel tog en kyk wie van ons weg is. En toe hulle getel het, was Jónatan en sy wapendraer nie daar nie. Toe sê Saul vir Ahía: Bring die ark van God hierheen. Want die ark van God was in daardie tyd by die kinders van Israel. En terwyl Saul met die priester spreek, het die geraas wat in die leër van die Filistyne was, toegeneem en toegeneem, en Saul sê vir die priester: Trek jou hand terug. En Saul en al die manskappe wat by hom was, het bymekaargekom, en hulle het in die geveg gekom; En die Hebreërs wat voor daardie tyd by die Filistyne was, wat saam met hulle na die laer opgetrek het van die omliggende land af, hulle het ook omgedraai om by die Israeliete te wees wat by Saul en Jónatan was. Net so het al die manne van Israel wat hulle in die gebergte van Efraim weggekruip het, toe hulle hoor dat die Filistyne gevlug het, hulle ook hard agter hulle aan in die geveg gevolg. So het die HERE Israel daardie dag verlos, en die geveg het deurgetrek tot by Bet-Aven.

1 SAMUEL 14:1-23 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag sê Jonatan, Saul se seun, vir sy wapendraer: “Kom ons gaan daar oorkant na die Filistyne se wagte toe.” Maar hy het nie vir sy pa gesê hy gaan dit doen nie. Op daardie stadium was daar so 600 man by Saul net buite Gibea. Saul self het onder die heilige granaatboom in Migron gesit saam met die priester Agija, wat vir die Here moes vra wat hulle moet doen. Niemand het geweet dat Jonatan weg was nie. (Agija was een van die priesters van Silo. Sy pa was Agitub, Ikabod se broer. Sy oupa was Pinehas, Eli se seun.) Aan elke kant van die bergpas waar Jonatan moes oorgaan om by die Filistyne se wagte uit te kom, was daar ’n rotskoppie. Die een rotskoppie se naam was Boses, en die ander een s’n Senne. Die spits rotskoppie is aan die noordekant duskant Mikmas, die ander een aan die suidekant duskant Gibea. Jonatan sê toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan na die wagte van daardie klomp heidene. Dalk help die Here ons. Dit maak mos nie saak of ons baie of min mense is nie, die Here kán ons laat wen.” “Maak soos jy goeddink,” antwoord die wapendraer, “ek volg jou.” “Goed,” sê Jonatan, “kom ons loop só na daardie manne toe dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê: ‘Wag daar tot ons by julle is,’ bly ons staan waar ons is; dan klim ons nie op na hulle toe nie. Maar as hulle sê: ‘Klim op hier na ons toe,’ dan klim ons op, want dan is dit vir ons die teken dat die Here hulle aan ons oorgegee het.” Die twee loop toe openlik na die wagte toe. “Kyk daar,” sê die Filistyne, “die Hebreërs kruip uit hulle gate uit!” “Kom op hier na ons toe,” skree hulle vir Jonatan en sy wapendraer,” dan wys ons julle ’n ding of twee!” “Volg my,” sê Jonatan vir sy wapendraer, “die Here het hulle aan die Israeliete oorgegee.” Jonatan het hande-viervoet teen die kop uitgeklim met sy wapendraer kort agter hom. Hy het die Filistyne platgeslaan, en sy wapendraer het hulle agter hom doodgesteek. Daar is omtrent twintig man dood in hierdie eerste aanval van Jonatan en sy wapendraer. Die lyke het sommer bymekaar gelê. Paniek het onder die Filistyne in die kamp losgebreek. Dié wat in die veld was, die ander wagte wat uitgesit was en die manskappe wat die Israeliete moes beroof, het hulle ook lam geskrik. Toe daar nog ’n aardbewing ook kom, was hulle doodbenoud. Die verkenners van Saul by Gibea in Benjamin het laat weet dat die kamp in rep en roer is. Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Kyk wie van ons is nie hier nie.” Hulle kom toe agter dat Jonatan en sy wapendraer nie daar is nie. Saul sê toe vir Agija: “Bring vir ons die ark van God.” (Die ark was toe by die Israeliete.) Maar terwyl Saul nog met hom praat, word die geraas in die Filistyne se kamp al groter. Saul sê vir die priester: “Los maar die ark!” Saul en al die manskappe by hom trek toe saam vir die geveg. Maar tot hulle verbasing sien hulle dat die Filistyne in die deurmekaarspul teen mekaar veg! Hebreeuse huursoldate wat vroeër altyd vir die Filistyne geveg het en wat saam met hulle in die kamp was, het hulle by die Israeliete onder Saul en Jonatan aangesluit. Al die burgers van Israel wat in die Efraimsberge gaan wegkruip het, het gehoor dat die Filistyne aan die vlug is. Ook húlle het die Filistyne gejaag. Die Here het Israel daardie dag uitgehelp.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid