1 Samuel 13:16-23

1 Samuel 13:16-23 AFR20

Terwyl Saul en sy seun Jonatan en die manskappe wat nog by hom was, in Geba in Benjamin gebly het, het die Filistyne kamp opgeslaan in Migmas. Stroperbendes het in drie eenhede uit die Filistyne se kamp uitgetrek. Een eenheid het weggedraai in die rigting van Ofra, in die Sualstreek, 'n ander eenheid het weggedraai in die rigting van Bet-Goron, en nog 'n eenheid in die rigting van die grensgebied wat uitkyk oor die vallei van Seboïm, na die woestyn se kant. Daar was nie 'n enkele grofsmid te vinde in die hele land Israel nie, want die Filistyne het gesê: “Anders maak die Hebreërs swaarde of vegspiese.” Die hele Israel moes na die Filistyne afgaan, elkeen om sy ploegskaar, sy bylpik, sy dissel of sy sekel te laat slyp. Die fooi daarvoor was 'n pim vir 'n ploegskaar, 'n bylpik en 'n drietandvurk, asook vir byle en die herstel van 'n osdrywerstok. So kom dit dat, in 'n tyd van oorlog, daar nie 'n swaard of vegspies te vinde was in die hande van enige van die manskappe wat by Saul en Jonatan was nie. Saul en sy seun Jonatan het wel wapens gehad. 'n Garnisoen van die Filistyne het uitgegaan na die bergpas by Migmas.