1 Konings 3:16-28

1 Konings 3:16-28 AFR20

Daarna het twee vroue wat prostitute was, na die koning gekom en voor hom gaan staan. Die een vrou het gesê: “Asseblief, my heer! Ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis. Ek het by haar in die huis geboorte geskenk. Op die derde dag nadat ek geboorte geskenk het, het ook hierdie vrou geboorte geskenk. Ons was saam; daar was geen buitestander by ons in die huis nie, net die twee van ons was in die huis. Die seuntjie van hierdie vrou is in die nag dood, want sy het op hom gelê. Maar in die middel van die nag het sy opgestaan en my seuntjie langs my gevat terwyl u dienares geslaap het. Sy het hom teen haar bors neergelê, en haar dooie seuntjie het sy teen my bors neergelê. Toe ek die oggend opstaan om my seuntjie te voed, toe is hy dood! Maar toe ek hom die oggend goed bekyk, sowaar, toe is dit nie my seuntjie wat ek in die wêreld gebring het nie!” Die ander vrou sê toe: “Nee! My seuntjie is die lewende een! Jou seuntjie is die dooie een!” Die eerste vrou het egter volgehou: “Nee! Jou seuntjie is die dooie een! My seuntjie is die lewende een!” So het hulle voor die koning gestry. Die koning het gesê: “Hierdie een hou vol, ‘Dit is my seun, die lewende een, en jou seun is die dooie een.’ En daardie een hou vol, ‘Nee! Jou seun is die dooie een, en my seun die lewende.’ ” Toe sê die koning: “Bring vir my 'n swaard.” Hulle bring toe die swaard voor die koning. Daarna sê die koning: “Sny die lewende kind in twee, en gee die een helfte vir die een vrou en die ander helfte vir die ander vrou.” Maar die vrou wie se kind die lewende een was, praat toe met die koning omdat haar deernis vir haar seuntjie haar oorweldig het. Sy het vir die koning gesê: “Asseblief, my heer! Gee liewer die lewende kindjie vir haar – moet hom net nie doodmaak nie.” Maar die ander vrou het volgehou: “Hy sal nie myne nie, maar ook nie joune wees nie. Sny deur!” Daarop het die koning gereageer deur te sê: “Gee vir die eerste vrou die lewende kindjie. Moet hom glad nie doodmaak nie! Sy is sy ma.” Toe die hele Israel hoor van die beslissing wat die koning gelewer het, het hulle vir die koning ontsag gehad, want hulle het gesien dat die wysheid van God in hom was om die reg te handhaaf.