’n Tyd daarna het twee prostitute na die koning toe gekom vir beslegting van ’n geskil. “Asseblief, my heer die koning,” het die een gesê, “ek en hierdie vrou bly saam in dieselfde huis. Ek het ’n baba in die wêreld gebring terwyl sy by my in die huis was. Drie dae later het sy ook ’n baba gehad. Ons was alleen, en daar was geen ander persoon nie. Dis net die twee van ons wat in die huis was. Een nag het haar seuntjie gesterf toe sy op hom gelê het. In die middel van die nag het sy opgestaan terwyl ek nog geslaap het en my seuntjie gevat. Sy neem toe haar dooie kind, lê hom in my arms en neem myne om by haar te slaap. Toe ek in die oggend my kind wou laat drink, ontdek ek dat hy dood is! Maar toe ek hom later in die oggend goed bekyk, merk ek dat dit glad nie my seun is nie.” Die ander vrou val haar toe in die rede: “Nee! Die een wat lewe, is my seun! Die dooie een is beslis jou seun!” “Nee,” sê die eerste vrou, “die seuntjie wat dood is, is joune en die lewende een is myne!” So het hulle voor die koning met mekaar gestry. Toe sê die koning: “Albei van julle maak aanspraak op die lewende kind, en albei sê die dooie een is die ander een s’n. Goed, bring vir my ’n swaard.” Iemand het vir hom ’n swaard gebring. Hy sê toe: “Sny die lewende kind in twee en gee ’n helfte vir elkeen van hulle!” Maar die ma van die lewende kind roep toe uit: “Nee, my heer! Gee dan liewer die lewende kind vir haar, maar moenie hom doodmaak nie!” Maar die ander vrou sê: “Dis goed so, dan sal hy nóg myne nóg joune wees. Sny hom deur!” Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie. Gee die lewende kind aan die eerste vrou. Sy is die regte ma!” Die koning se uitspraak het in die hele Israel bekend geword. Hulle het groot respek vir die koning gekry, want hulle het besef dat God besondere wysheid aan hom gegee het om regverdig te kan oordeel.
Lees 1 KONINGS 3
Luister na 1 KONINGS 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 KONINGS 3:16-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's