1 Korinthiërs 15:42-54

1 Korinthiërs 15:42-54 AFR20

So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word, is 'n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is 'n geestelike liggaam. As daar 'n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook 'n geestelike liggaam. So staan daar immers geskryf: “Die eerste mens, Adam, het 'n lewende wese geword.” Die laaste Adam het egter 'n lewendmakende Gees geword. Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik; die tweede 'n mens uit die hemel. Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense. Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra. Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die •koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie. Kyk, ek vertel vir julle 'n misterie: nie almal van ons sal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word by die laaste basuin, binne 'n oomblik, 'n oogwink. 'n Basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: “Die dood is verslind in oorwinning.”

Video for 1 Korinthiërs 15:42-54