1 KORINTIËRS 15:42-54

1 KORINTIËRS 15:42-54 NLV

Dieselfde is die geval met die opstanding van die dooies. Ons aardse liggame, wat gewoonweg sal sterf en vergaan, sal anders wees wanneer hulle opgewek word, want hulle sal nooit weer sterf nie. Daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid. Daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ’n Fisiese liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Ja, net soos daar fisiese liggame is, so is daar ook geestelike liggame. Die Skrif sê vir ons: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende, fisiese persoon geword.” Maar die laas-te Adam – dit is Christus – het ’n lewendmakende gees-telike Persoon geword. Die natuurlike, fisiese liggaam het eerste gekom, daarna die geestelike een. Adam, die eerste mens, was uit die stof van die aarde gemaak, terwyl Christus, die tweede mens, van die hemel kom. Elke menslike wese het ’n aardse liggaam, net soos dié van Adam, maar ons hemelse liggame sal net soos dié van Christus wees. Net soos ons nou ewebeelde van Adam is, die mens uit die aarde, so sal ons eendag ewebeelde van Christus wees, die mens uit die hemel. Wat ek wil sê, broers en susters, is dat ’n gewone mens van vleis en bloed nie net so aan die koninkryk van God kan deel kry nie. Wat verganklik is, kan nie deel kry aan wat onverganklik is nie. Ek wil aan julle ’n diep waarheid vertel wat God aan ons bekendgemaak het. Dit is dat ons nie almal sal sterf nie, maar ons almal sal verander word. Dit sal dadelik, ja, in ’n oogwink gebeur, wanneer die laaste trompet weerklink. Want as die trompet sy klank laat hoor, sal die dooies met onverganklike liggame opgewek word. En dan sal ons ook verander word. Want ons verganklike aardse liggame moet in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie. Wanneer dit gebeur – wanneer ons verganklike aardse liggame in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie – dan uiteindelik sal die Skrifwoord waar word: “Die dood is totaal uitgewis, want dit is heeltemal oorwin.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid