1 Korinthiërs 15:1-28

1 Korinthiërs 15:1-28 AFR20

Broers, ek herinner julle aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, en waarin julle ook vasstaan, waardeur julle ook verlos word; mits julle vashou aan die evangeliewoord wat ek aan julle verkondig het – tensy julle vergeefs tot geloof gekom het. Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is: •Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte; en Hy het aan Sefas verskyn, en toe aan die twaalf. Daarna het Hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, van wie die meeste nou nog leef, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn, en toe aan al die •apostels. As die laaste van almal het Hy ook aan my, die misgeboorte, verskyn. Want ek is die geringste van die apostels, nie geskik om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die •gemeente van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie vergeefs nie, trouens, ek het baie harder gewerk as al die ander – eintlik nie ek nie, maar die genade van God, wat met my is. Daarom, of dit ek of hulle is, dit is wat ons verkondig, en daarvolgens het julle tot geloof gekom. Maar as Christus verkondig word, dat Hy uit die dood opgewek is, waarom sê sommige van julle dat daar nie 'n opstanding van dooies is nie? As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. Boonop word ons as valse getuies vir God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het – wat Hy dan nie opgewek het nie, as dit so is dat dooies nie opgewek kan word nie. Want as dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore. Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, •Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes. Want aangesien die dood deur 'n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur 'n mens. Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen volgens 'n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort. Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete gestel het”. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood. “Want Hy het alles onder sy voete gestel.” Maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat dit met die uitsondering is van Hom wat alle dinge aan Christus onderwerp het. Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees.