1 KORINTIËRS 15:1-28

1 KORINTIËRS 15:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Broers, ek herinner julle aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, en waarin julle ook vasstaan, waardeur julle ook verlos word; mits julle vashou aan die evangeliewoord wat ek aan julle verkondig het – tensy julle vergeefs tot geloof gekom het. Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is: •Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte; en Hy het aan Sefas verskyn, en toe aan die twaalf. Daarna het Hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, van wie die meeste nou nog leef, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn, en toe aan al die •apostels. As die laaste van almal het Hy ook aan my, die misgeboorte, verskyn. Want ek is die geringste van die apostels, nie geskik om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die •gemeente van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie vergeefs nie, trouens, ek het baie harder gewerk as al die ander – eintlik nie ek nie, maar die genade van God, wat met my is. Daarom, of dit ek of hulle is, dit is wat ons verkondig, en daarvolgens het julle tot geloof gekom. Maar as Christus verkondig word, dat Hy uit die dood opgewek is, waarom sê sommige van julle dat daar nie 'n opstanding van dooies is nie? As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. Boonop word ons as valse getuies vir God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het – wat Hy dan nie opgewek het nie, as dit so is dat dooies nie opgewek kan word nie. Want as dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore. Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, •Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes. Want aangesien die dood deur 'n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur 'n mens. Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen volgens 'n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort. Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete gestel het”. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood. “Want Hy het alles onder sy voete gestel.” Maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat dit met die uitsondering is van Hom wat alle dinge aan Christus onderwerp het. Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees.

1 KORINTIËRS 15:1-28 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, ek wil hê julle moet die goeie boodskap baie goed verstaan, die goeie boodskap wat ek vir julle gebring het. Julle het die boodskap geglo, julle is seker dat die boodskap waar is, en dit red julle. Maar dan moet julle aanhou om die goeie boodskap te glo soos ek dit vir julle gebring het. As julle iets anders glo, dan beteken dit niks dat julle glo nie. Die belangrikste dinge wat ek vir julle geleer het, het die ander apostels vir my geleer, en dit is: Christus het ons sondes weggeneem toe Hy gesterf het. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is. Christus is begrawe, en God het Hom op die derde dag weer laat lewe. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is. Christus het verskyn aan Sefas, en daarna het Hy ook verskyn aan die twaalf apostels. Daarna het Hy aan meer as 500 gelowiges op dieselfde tyd verskyn. Baie van hulle lewe vandag nog, maar party het klaar gesterf. Daarna het Christus aan Jakobus verskyn, en toe aan al die apostels. Laaste het Hy aan my verskyn. Ek was glad nie belangrik nie. Ek is die minste belangrik van al die apostels. Ek is nie goed genoeg om 'n apostel te wees nie, omdat ek voorheen baie slegte dinge gedoen het aan die mense van die kerk van God. Maar God was genadig vir my, daarom is ek nou 'n apostel. Ja, God was genadig vir my, ek het daarna harder gewerk as al die ander apostels. Maar dit is nie ék wat so goed was nie, dit was Gód wat so genadig was vir my en wat altyd saam met my was. Dit maak nie saak wie vir julle preek nie, ek of die ander apostels. Die belangrikste is dat ons almal dieselfde boodskap bring en dat julle dit geglo het. Ons, die apostels, bring die boodskap dat God vir Christus weer laat lewe het. Hoekom sê party van julle dat die dooie mense nie weer sal lewe nie? As die dooie mense nie weer sal lewe nie, dan het God ook nie vir Christus weer laat lewe nie. En as God nie vir Christus weer laat lewe het nie, dan beteken ons boodskap niks, en dan beteken julle geloof ook niks. Dan is ons ook vals getuies van God, omdat ons vertel dat God vir Christus weer laat lewe het. Want as die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie, dan is dit nie waar dat God vir Christus weer laat lewe het nie. Ja, ek sê dit weer: As die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie, dan het God ook nie vir Christus weer laat lewe nie. En as God nie vir Christus weer laat lewe het nie, dan beteken julle geloof niks, dan is julle nog nie vry van julle sondes nie. Dan het die mense wat aan Christus behoort het en gesterf het, verlore gegaan. As ons hoop dat Christus ons red net vir hierdie lewe op die aarde, dan moet al die mense baie jammer wees vir ons. Maar nee, God het vir Christus weer laat lewe, dit is seker. Christus is die eerste Een van almal wat gesterf het, en God het Hom weer laat lewe. 'n Mens, Adam, het gesterf, en van toe af het almal in die wêreld gesterf. Maar nou het God 'n ander Mens, Christus, weer laat lewe, en daarom sal al die gelowiges wat gesterf het, ook weer lewe. Ons is almal die nageslag van Adam, daarom sterf ons almal. Maar ons behoort ook aan Christus, en daarom sal God ons ook almal weer laat lewe. Elkeen kry 'n beurt. Christus is die Eerste, God het vir Christus weer laat lewe. Later, wanneer Christus weer kom, sal die mense wat aan Hom behoort, ook weer begin lewe. Daarna sal die einde kom. Die einde is wanneer Christus alles waaroor Hy regeer, vir God die Vader gee, en wanneer Christus almal en alles sal oorwin wat oor die wêreld wil regeer. Want Christus moet regeer. Hy sal regeer totdat God Hom laat wen het teen al sy vyande. Die laaste vyand wat oorbly, is die dood. Maar Christus sal die dood ook oorwin. Ja, in die Ou Testament is geskryf: God het alles vir Hom gegee sodat Hy daaroor kan regeer. Maar wanneer God sê: “Christus moet oor alles regeer,” dan moet ons dit reg verstaan. Dit beteken nie dat Christus ook oor God regeer nie, want God is die Een wat alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer. Wanneer God alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer, dan sal Christus, die Seun, Homself ook vir God gee. Julle moet onthou, God is die Een wat alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer. Daarom sal God aan die einde ook oor Christus regeer, en dan sal God oor alles en almal regeer.

1 KORINTIËRS 15:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

BROEDERS, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene. Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is. Of dit nou ek of hulle is, so preek ons en so het julle geglo. As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur 'n mens is, is die opstanding van die dode ook deur 'n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

1 KORINTIËRS 15:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn. Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is. In elk geval, of dit ek is of hulle – dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het. As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. Maar daar is 'n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.

1 KORINTIËRS 15:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Verder, broeders, verkondig ek julle die evangelie wat ek aan julle bekend gemaak het, wat julle ook ontvang het en waarin julle staan; Waardeur julle ook gered word, as julle in gedagte hou wat Ek aan julle verkondig het, tensy julle tevergeefs geglo het. Want ek het in die eerste plek aan julle oorgegee wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; En dat hy begrawe is, en dat hy op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte: En dat hy gesien is van Céfas, daarna van die twaalf: Daarna is hy gesien uit meer as vyfhonderd broers tegelyk; van wie die meeste oorbly tot op hierdie oomblik, maar sommige het aan die slaap geraak. Daarna is hy deur Jakobus gesien; dan van al die apostels. En laaste van almal is Hy ook deur my gesien, soos van een wat nie op die regte tyd gebore is nie. Want ek is die geringste van die apostels wat nie geskik is om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het. Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade wat aan my bewys is, was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal, maar nie ek nie, maar die genade van God wat met my is. Daarom, of dit ek of hulle was, so preek ons, en so het julle geglo. As Christus dan verkondig word dat Hy uit die dode opgestaan het, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? Maar as daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus nie opgewek nie; En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking tevergeefs, en ook julle geloof tevergeefs. Ja, en ons word valse getuies van God gevind; omdat ons van God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, as die dode nie opstaan nie. Want as die dode nie opstaan nie, dan is Christus nie opgewek nie; En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof tevergeefs; julle is nog in julle sondes. Dan het ook die wat in Christus ontslaap het, omgekom. As ons net in hierdie lewe hoop op Christus het, is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou is Christus uit die dode opgewek en het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom. Want soos almal in Adam sterwe, so sal almal ook in Christus lewend gemaak word. Maar elkeen in sy eie orde: Christus die eersteling; daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Dan kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God, die Vader, oorgegee het; wanneer hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig sal word, is die dood. Want Hy het alles onder sy voete gestel. Maar wanneer hy sê dat alles aan hom onderwerp is, is dit duidelik dat hy uitgesonder is wat alles aan hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal die Seun self ook Hom onderwerp aan Hom wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

1 KORINTIËRS 15:1-28 Die Boodskap (DB)

My liewe broers en susters, laat ons vir oulaas weer kyk na die goeie boodskap oor Jesus wat ek vir julle vertel het. Dit is die boodskap wat julle julle eie gemaak het en nou by sal staan of val. Toe julle hierdie goeie nuus gehoor het, het julle mos Christene geword, natuurlik mits julle nie allerhande afdraaipaadjies vat nie, maar dit glo soos ek dit vir julle vertel het. As julle egter ’n ander pad loop, stap julle weg van God af wat julle red en kan julle net sowel ophou glo, want dit alles sal julle niks help nie. Soos ek die boodskap van ander gehoor het, het ek dit ook vir julle vertel. Die hart van alles is dít: Christus het gesterf sodat ons nie self sal moet sterf vir al die verkeerde dinge wat ons voor God gedoen het nie. Dit is presies wat die Skrif voorspel het sou gebeur. Maar die Skrif het ook verder voorspel dat Hy begrawe sou word en dat God Hom na drie dae weer lewendig sou maak. Net so het dit toe ook gebeur. Petrus het Hom eerste gesien nadat Hy lewendig geword het en later het al twaalf sy getrouste volgelinge Hom gesien. Daarna het Hy aan 500 mense gelyk verskyn. Party van hulle is al dood, maar die meeste van hulle lewe nog. Jakobus het toe aan die beurt gekom en daarna die apostels. Heel laaste het Christus aan my verskyn, ek wat op heeltemal die verkeerde tyd gebore is en daarom lank op die verkeerde pad was. As dit by die apostels van die Here kom, staan ek agter in die ry. Eintlik behoort ek nie eens in daardie ry te staan nie, want kyk net hoe het ek die mense van God vroeër vervolg en probeer seermaak. Maar God was wonderlik goed vir my, wat ek natuurlik geensins verdien het nie. Hy het my gemaak wat ek nou is. Hierdie goedheid van God was nie alles vir niks nie. Ek het harder en meer vir die Here gewerk as enige ander een. Dit was nie ek wat so goed was nie, maar die Here wat so goed vir my was. Hy het deur my gewerk. Eintlik maak dit nie saak wie die werk doen nie, solank dit net gedoen word. Of dit nou ek is of die ander apostels, ons het dieselfde goeie nuus vir julle kom vertel en julle het dit julle eie gemaak. Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal maak nie? As God nie iemand wat dood is lewendig kan maak nie, sou Hy ook mos nie vir Jesus lewendig kon maak nie. As dit darem waar sou wees, beteken dit dat alles wat ons vir julle vertel het, net ’n klomp leuens is en dat julle in net mooi niks glo wanneer julle sê julle glo in Christus nie. En dit is nie al nie. As Jesus nog dood is, beteken dit dat ons ’n klomp leuens oor God ook vertel, want ons sê mos dat Hy Christus lewendig gemaak het. As God nie mense lewendig gaan maak nie, geld dieselfde mos vir Jesus - dan is Hy mos ook nie lewendig gemaak nie. En as God Hom nie lewendig gemaak het nie, is julle nog maar net soos julle altyd was, van kop tot tone in die sonde. Dan help dit niks meer dat julle sê julle glo nie. Dan is nie net ons nie, maar ook al die ander Christene wat al dood is, sonder enige hoop totaal verlore. As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ’n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan voel. Die waarheid is heeltemal anders: God hét Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy. Dit werk so: dit was ’n mens, Adam, se skuld dat die dood nou elkeen van ons tref. Maar dit is ook ’n mens, Christus, wat daarvoor gesorg het dat mense wat dood is weer lewendig gemaak kan word. Omdat ons mense soos Adam is, het die dood deel van ons elkeen se bestaan geword, net soos dit deel van sy bestaan was. Net so, deur Christus se mense te wees sal elkeen lewendig gemaak word soos Hy. Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak. Wanneer Christus weer kom, sal al die mense wat aan Hom behoort ook opstaan. Dan sal die einde daar wees. Christus sal daarvoor sorg dat nie ’n enkele vyand van God oorbly nie. Hy sal met die laaste een klaarspeel. Dan sal Hy alle oë finaal op God, sy Vader, rig sodat hulle Hom as die groot Koning kan dien. Christus moet egter nog as Koning heers tot tyd en wyl Hy elke vyand van God op sy plek gesit het. Nie een vyand sal wegkom nie; ook die dood se mag sal heeltemal gebreek word. Die Skrif sê mos dat God Christus oor alles sal laat heers. As die Skrif oor “alles” praat, sluit dit natuurlik nie vir God self in nie. Wanneer die Seun oor alles heers en al die vyande van God uitgewis is, sal Hy Hom met alles wat Hy het onder die heerskappy van God kom stel. God sal dan oor alles regeer en almal sal Hom as Heerser erken.

1 KORINTIËRS 15:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Broers en susters, ek herinner julle aan die Goeie Nuus wat ek tevore reeds aan julle verkondig het. Julle het dit aangeneem en hierdie boodskap vorm die vaste basis van julle geloof. Deur hierdie Goeie Nuus word julle verlossing bewerk, dit wil sê as julle daaraan vashou soos ek dit oorspronklik aan julle verkondig het – anders was julle geloof heeltemal nutteloos. Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het, en wat ek weer van hulle voor my ontvang het, was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan. Verder dat Hy aan Petrus verskyn het en daarna ook aan die twaalf apostels. Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn. Van hulle leef die meeste nou nog, maar party is reeds dood. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en later aan al die apostels. Heel laaste van almal het Hy ook aan my verskyn, asof ek ontydig gebore is. Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ’n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het. Maar deur God se genade is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het. Maak ook nie saak wie gepreek het nie. Die belangrike feit is dat dít die Goeie Nuus is wat ons verkondig en wat julle in die geloof aangeneem het. Sê vir my, as ons verkondig dat God Christus uit die dood laat opstaan het, hoe is daar dan sommige van julle wat beweer dat daar nie so iets soos die opstanding uit die dood bestaan nie? As daar werklik geen opstanding uit die dood is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. Maar as Christus nie opgewek is nie, sou dit beteken dat ons verkondiging geen substansie het nie en dat julle geloof ook platval. Dan sou ons as leuenaars omtrent God aan die kaak gestel word. Dan het ons mos teen die waarheid van God in getuig dat Hy Christus opgewek het, terwyl Hy dit in werklikheid nie gedoen het nie – dit wil nou sê, as die dooies nie opgewek word nie. Ek sê weer, as die dooies nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof waardeloos en is julle nog vasgevang in julle sondes. In daardie geval is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore! As ons egter op niks meer sou kon hoop as dat Christus ’n verskil sal maak aan ons huidige lewe nie, sou ons definitief die bejammerenswaardigste mense onder die son wees! Maar nou is die werklikheid totaal anders! God hét Christus uit die dood laat opstaan! Dit gee ons die waarborg dat ook die ander dooies sal opstaan. Julle sien, soos die dood deur ’n mens, naamlik Adam, in die wêreld ingekom het, so het die opstanding uit die dood ook deur ’n mens werklikheid geword. Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word. Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word. Vervolgens sal die einde kom wanneer Jesus die koningsheerskappy aan God die Vader sal teruggee nadat Hy elke vyandige mag wat daar kan wees, onderwerp het. Want Christus moet aan bewind bly totdat Hy alle vyande finaal verslaan en aan Hom onderdanig gemaak het. Die laaste van hierdie vyande wat vernietig moet word, is die dood. Die Skrif sê mos: “God het aan Hom gesag oor alles gegee.” (Natuurlik, wanneer die Skrif sê dat God aan Hom die gesag oor alles gegee het, is God wat aan Christus hierdie gesag gegee het self uitgesluit.) Wanneer die Seun dan alles aan Homself onderwerp het, sal Hy Hom ook self aan God onderwerp. So sal God dan, wat aan sy Seun die gesag oor alles gegee het, uiteindelik die absolute Koning oor alles en almal wees.