Psalms 106:13-31

Psalms 106:13-31 ABA

Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het, hulle het nie gewag totdat Hy vir hulle sê wat hulle moet doen nie. Hulle was honger vrate in die woestyn, hulle het God getoets in die woestyn. En Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het hulle ook siek gemaak en maer laat word. Hulle was in die kamp baie kwaad vir Moses en vir Aäron wat aan die Here gewy was. Toe het die aarde oopgegaan en vir Datan ingesluk, dit het toegegaan oor Abiram en sy vriende. 'n Vuur het hulle almal gebrand, 'n vlam het die mense verbrand wat verkeerd gedoen het. Hulle het by Horeb 'n kalfbeeld gemaak, hulle het gebuig voor 'n beeld. Hulle het hulle Koning gelos en hulle het 'n beeld aanbid, 'n beeld van 'n bul wat gras vreet. Hulle het vir God vergeet, God wat vir hulle gered het, God wat groot dinge gedoen het in Egipte, wonderwerke in die land van Gam, en dinge by die Riet-see, dit het die mense bang laat word. Die Here het besluit om hulle almal te laat sterf, en Hy sou dit gedoen het, maar Moses het vir Hom gesoebat om dit nie te doen nie. Die Here het voorheen vir Moses gekies, en Moses het nou gekeer dat die Here hulle nie almal doodmaak nie. Die mense het gemaak of die mooi land niks beteken nie, hulle het nie geglo dat die Here sal doen wat Hy gesê het nie. Hulle het in hulle tente gesit en kla, hulle wou nie luister na wat die Here sê nie. Die Here het vas besluit dat Hy hulle sou laat sterf in die woestyn, dat Hy hulle nageslag sou laat sterf tussen heidene, dat Hy hulle oral na ander lande sou jaag. Hulle het vir Baäl-Peor begin dien, hulle het vleis geëet wat die mense ge-offer het vir dooie afgode. Hulle het die Here kwaad gemaak omdat hulle verkeerde dinge gedoen het, en hulle het baie siek geword. Maar Pinehas het opgestaan en hy het die mense gestraf wat skuldig was, en toe het die mense nie meer siek geword nie. Mense sal altyd en altyd onthou dat Pinehas gedoen het wat reg was.