Spreuke 4:7-18

Spreuke 4:7-18 ABA

As jy regtig slim wil word, dan moet jy wysheid kry, jy moet ook verstandig word, saam met al die ander dinge wat jy kry. As jy hou van die wysheid, dan sal dit jou 'n belangrike mens maak. As jy wys dat jy lief is vir die wysheid, dan sal mense jou respekteer. Die wysheid sal soos 'n mooi kransie wees, soos die kroon van 'n koning op jou kop.” My kind, jy moet luister, jy moet doen wat ek vir jou sê, dan sal jy baie lank lewe. Ek het vir jou geleer om te loop op die pad van die wysheid, ek het jou gelei op reguit paaie. As jy op hierdie paaie loop, dan sal jou voet nie vashaak nie, en wanneer jy hardloop, dan sal jy ook nie val nie. Jy moet vashou aan wat ek vir jou leer, jy moenie dit los nie, jy moet dit doen, want dan sal jy waarlik lewe. Jy moenie op die pad loop van mense wat verkeerd doen nie, jy moenie saam met slegte mense loop nie. Jy moet daardie pad los, jy moenie daarop loop nie, jy moet wegdraai en jy moet op jou eie pad loop. Daardie mense kan nie slaap as hulle nie verkeerd gedoen het nie, hulle bly wakker as hulle nie sonde gedoen het nie. Hulle hou daarvan om verkeerd te doen en om mense seer te maak, dit is vir hulle so lekker soos om te eet en te drink. Maar mense wat reg doen, se pad is soos die oggendlig, dit word meer en meer helder totdat dit dag is.