Jakobus 1:12-25

Jakobus 1:12-25 ABA

Daar gebeur partymaal dinge wat iemand se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen. Wanneer so iemand aanhou glo, dan is hy 'n gelukkige mens. Hoekom? Want wanneer God tevrede is met so 'n mens, dan sal God vir hom 'n prys gee, God sal vir hom die ewige lewe gee. God het dit belowe vir die mense wat lief is vir Hom. Wanneer daar dinge is wat 'n mens se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen, dan moet die persoon nie sê: “Dit is God wat wil hê ek moet verkeerde dinge doen” nie, want niemand kan vir God verkeerde dinge laat doen nie, en God wil ook nie hê dat mense verkeerde dinge moet doen nie. Elkeen wat verkeerde dinge doen, doen dit omdat hy self lus is om dit te doen. Hy wil die dinge baie graag doen, dit is vir hom soos 'n vangnet wat hom vang. Wanneer iemand lus is om verkeerde dinge te doen, dan doen hy sonde, en wanneer die sonde groter en groter word, dan bring dit die dood. My vriende, ek is baie lief vir julle, julle moenie dom wees nie. Elke goeie ding wat julle kry, elke present wat goed en reg is, kom van bo af, dit kom van die Vader wat die sterre in die lug gemaak het. Die Vader verander nie, Hy is soos 'n lig wat altyd skyn. God het besluit om vir ons die boodskap te stuur wat waar is, Hy het vir ons nuwe lewe gegee, ons het die eerste en belangrikste geword van almal wat Hy nuut gemaak het. My vriende, ek is baie lief vir julle. Julle moet onthou: Elke mens moet altyd gereed wees om te luister na God se boodskap, maar hy moenie haastig wees om te praat nie, hy moet eers dink voordat hy praat. Hy moet ook nie haastig wees om kwaad te word nie. Want wanneer 'n mens kwaad word, dan doen hy nie die dinge wat God wil hê nie. Daarom moet julle heeltemal ophou om verkeerde en slegte dinge te doen. Julle moet nederig wees en julle moet luister na die goeie boodskap wat God in julle harte gegee het. Dit is die boodskap wat vir julle kan red. Julle moet doen wat God vir julle sê. As julle luister na sy boodskap, maar julle doen nie wat Hy sê nie, dan bedrieg julle julleself. Want wanneer iemand luister na God se boodskap en hy doen nie wat God sê nie, dan is hy soos 'n mens wat in 'n spieël na sy eie gesig kyk. Wanneer hy homself in die spieël gesien het en hy gaan weg, dan vergeet hy dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand is gelukkig wanneer hy goed luister na die wette van God, die wette wat heeltemal reg is en wat 'n mens vry kan maak. As so iemand aanhou luister, dan vergeet hy nie wat hy gehoor het nie, nee, hy doen dit. En so 'n mens sal regtig gelukkig wees omdat hy doen wat die wette van God sê.

Video vir Jakobus 1:12-25