JAKOBUS 1:12-25

JAKOBUS 1:12-25 AFR83

Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. Moenie julleself mislei nie, my liewe broers. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het. My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 'n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat 'n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

Video vir JAKOBUS 1:12-25