Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.
Moenie mislei word nie, my geliefde broers. Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid, sodat ons eerstelinge van sy skepsels kan wees.
Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van 'n mens bewerk nie •geregtigheid voor God nie. Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle •siele te verlos. Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. Want wie 'n hoorder van die woord is en nie 'n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in 'n spieël sien. Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n doener.