Hebreërs 12:14-29

Hebreërs 12:14-29 ABA

Julle moet hard probeer om met al die mense in vrede te lewe en om te lewe soos die Here wil hê, want as julle dit nie doen nie, dan sal julle nooit die Here sien nie. Julle moet ook oppas dat niemand God se genade weggooi nie. Iemand wat dit doen, is soos 'n giftige plant wat groei en groot word, hy maak probleme en hy laat baie mense vuil word van die sonde. Julle moet ook oppas dat niemand soos Esau lewe nie. Hy het onsedelik gelewe en hy het gelewe soos 'n mens wat niks van God wil weet nie. Ja, Esau het vir een ete sy regte van die oudste seun verkoop. Want julle weet ook dat Esau later wou hê dat sy pa hom moet seën, maar Isak kon toe nie vir hom seën nie. Esau het gehuil en gesoebat dat sy pa hom moet seën, maar dit was te laat, hy kon nie regmaak wat hy verkeerd gedoen het nie. Julle het nie soos die Israeliete gekom by iets waaraan 'n mens kan raak nie, julle het nie gekom by 'n vuur wat brand, of by 'n donker wolk, of by 'n stormwind nie. Julle het ook nie gekom waar 'n trompet geblaas het en waar Iemand gepraat het uit die hemel nie. Die mense wat dit gehoor het, het gesoebat dat God niks meer vir hulle moet sê nie, want hulle kon nie doen wat God gesê het nie. Hy het gesê: “ As 'n dier aan die berg raak, dan moet hulle hom doodgooi met klippe.” Die dinge wat hulle gesien het, het hulle so bang gemaak dat Moses gesê het: “ Ek bewe, ek is baie bang.” Nee, julle het by Sionsberg gekom, julle het gekom by die stad van die God wat lewe, by Jerusalem wat in die hemel is. Julle het ook gekom by so baie engele dat 'n mens hulle nie kan tel nie, julle het gekom by die fees waar almal bly is. Julle het gekom by die vergadering van die mense wat soos God se oudste seuns is, hulle name is opgeskryf in die hemel. Julle het gekom by die Regter wat die God van almal is, julle het gekom by die mense wat voorheen gelewe het en wat heeltemal geword het soos God wil hê hulle moet wees. Julle het ook gekom by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en julle het gekom by die bloed van Jesus wat gevloei het en wat vir ons 'n beter boodskap bring as die bloed van Abel. Julle moet oppas, julle moenie ongehoorsaam wees aan Hom wat met julle praat nie. Want toe God daardie mense voorheen op die aarde gewaarsku het, wou hulle nie luister na Hom nie, en hulle kon nie wegvlug van Hom nie. Ja, dit is waar, God waarsku nou vir ons uit die hemel, en julle weet dat as ons nie wil luister na God nie, dan sal ons ook nie kan vlug nie, dit sal nog slegter gaan met ons as met daardie mense wat ook nie kon vlug nie. In daardie tyd het God hard gepraat en sy stem het die aarde geskud, maar nou het Hy belowe: “ Ek sal nog een maal die aarde skud en Ek sal ook die hemel skud.” En hierdie woorde, “nog een maal”, sê duidelik dat God die dinge sal wegneem, die dinge wat Hy gemaak en geskud het, sodat net die dinge wat niemand kan skud nie, sal oorbly. Dit is seker dat God ons wil laat kom daar waar Hy Koning is, en daarom moet ons dankie sê vir God. Ons is dankbaar, en daarom moet ons vir God dien soos Hy wil hê, en ons moet Hom eer en respekteer, want ons God is ook soos 'n vuur wat alles verbrand.