Hebreërs 12:14-29

Hebreërs 12:14-29 AFR20

Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sien toe dat niemand die genade van God verspeel nie, sodat geen wortel van bitterheid opskiet, en moeilikheid veroorsaak, en baie daardeur besoedel word nie; ook dat niemand sedeloos of goddeloos optree, soos Esau nie – hy wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg prysgegee het. Julle weet immers dat, toe hy hierna die seën wou beërf, hy afgewys is, want hy kon nie 'n weg vind tot gesindheidsverandering nie – alhoewel hy dit met trane gesoek het. Julle het nie aangekom by iets tasbaars, by 'n brandende vuur, en by duisternis en donkerte en stormwind nie – ook nie by die klank van 'n basuin, en 'n weerklinkende stem wat die hoorders laat pleit het dat nie nog 'n woord vir hulle toegevoeg word nie; want die opdrag, “Selfs as 'n wilde dier die berg aanraak, moet dit gestenig word”, kon hulle nie hanteer nie. En so angswekkend was die verskynsel, dat Moses gesê het: “Ek is beangs, en ek sidder!” Nee, julle het aangekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, by die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike byeenkoms, en 'n •gemeente van •eersgeborenes wat opgeteken is in die hemele, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is, en by Jesus, die Middelaar van 'n nuwe verbond, en by die bloed wat gesprinkel is, en wat sterker praat as dié van Abel. Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie; want as hulle nie ontvlug het toe hulle Hom, wat hulle op aarde gewaarsku het, verontagsaam het nie, soveel te meer ons, as ons die rug draai op Hom wat ons van die hemele af waarsku! Destyds het sy stem die aarde geskud, maar nou het Hy die volgende aangekondig: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde skud nie, maar ook die hemel.” En hierdie uitdrukking “nog een keer” wys op die verandering van die wankelbare dinge – aangesien hulle geskape is – sodat die onwankelbare dinge sal bly. Daarom, terwyl ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op 'n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. Want ons God is inderdaad 'n verterende vuur.