HEBREËRS 12:14-29
HEBREËRS 12:14-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Doen julle bes om in vrede met almal te lewe en beywer julle om ’n toegewyde lewe te voer, want daarsonder sal julle nie eendag in die Here se teenwoordigheid kan kom nie. Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se genade verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ’n loot van bitterheid opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie. Sorg dat niemand onder julle seksueel sondig of goddeloos optree soos Esau wat sy eersgeboortereg vir ’n skamele ete verkwansel het nie. Julle weet hoe hy later, toe hy die seën wou hê, weggewys is. Dit was te laat vir egte berou. Selfs sy trane kon dit nie meer moontlik maak nie. Anders as die Israeliete by Sinaiberg het julle nie by ’n fisiese berg aangekom met brandende vuur, donderwolke, donkerte, stormwind, trompetgeskal en ’n stem wat praat nie – met die gevolg dat dié wat dit gehoor het, gesmeek het dat God nie verder met hulle moes praat nie. God se opdrag dat selfs ’n dier wat die berg met sy poot aanraak, doodgegooi moes word, kon hulle nie hanteer nie. Ja, so angswekkend was die aanskoue van alles dat Moses uitgeroep het: “Ek is absoluut verskrik, ek bewe van angs!” Nee, julle het aangekom by Sionsberg, by die stad van die lewende God! Julle het aangekom by die hemelse Jerusalem, by die miljoene engele wat juigend feestelik bymekaar is, en by die gemeente van God se kinders wie se name in die hemel opgeskryf staan. Julle het gekom by God, die Regter oor almal, en by die geeste van die verlostes wat nou volkomenheid bereik het. Ja, julle het aangekom by Jesus, die Middelaar van ’n nuwe verbond en by die verbondsbloed wat gesprinkel is en wat van iets beters getuig – so anders as die bloed van Abel wat om vergelding geroep het. Pas op dat julle Hom wat met julle praat, nie ignoreer nie. As die Israeliete nie ongestraf kon wegkom toe hulle Hom wat sy stem op aarde laat hoor het, afgewys het nie, hoeveel minder sal ons kan wegkom as ons die stem uit die hemel afwys! Destyds het God se stem van Sinaiberg af die aarde geskud. Maar nou kondig Hy aan: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” Die “nog een keer” wys daarop dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, plek sal maak vir die onwankelbare, ewige dinge. Daarom moet ons wat bevoorreg is om hierdie onwankelbare koninkryk te ontvang, dankbaar wees, en ons dankbaarheid daarin laat blyk dat ons God gelukkig maak deur Hom met eerbied en ontsag te dien. Want daar staan ook: “Ons God is ’n verterende vuur.”
HEBREËRS 12:14-29 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet hard probeer om met al die mense in vrede te lewe en om te lewe soos die Here wil hê, want as julle dit nie doen nie, dan sal julle nooit die Here sien nie. Julle moet ook oppas dat niemand God se genade weggooi nie. Iemand wat dit doen, is soos 'n giftige plant wat groei en groot word, hy maak probleme en hy laat baie mense vuil word van die sonde. Julle moet ook oppas dat niemand soos Esau lewe nie. Hy het onsedelik gelewe en hy het gelewe soos 'n mens wat niks van God wil weet nie. Ja, Esau het vir een ete sy regte van die oudste seun verkoop. Want julle weet ook dat Esau later wou hê dat sy pa hom moet seën, maar Isak kon toe nie vir hom seën nie. Esau het gehuil en gesoebat dat sy pa hom moet seën, maar dit was te laat, hy kon nie regmaak wat hy verkeerd gedoen het nie. Julle het nie soos die Israeliete gekom by iets waaraan 'n mens kan raak nie, julle het nie gekom by 'n vuur wat brand, of by 'n donker wolk, of by 'n stormwind nie. Julle het ook nie gekom waar 'n trompet geblaas het en waar Iemand gepraat het uit die hemel nie. Die mense wat dit gehoor het, het gesoebat dat God niks meer vir hulle moet sê nie, want hulle kon nie doen wat God gesê het nie. Hy het gesê: “ As 'n dier aan die berg raak, dan moet hulle hom doodgooi met klippe.” Die dinge wat hulle gesien het, het hulle so bang gemaak dat Moses gesê het: “ Ek bewe, ek is baie bang.” Nee, julle het by Sionsberg gekom, julle het gekom by die stad van die God wat lewe, by Jerusalem wat in die hemel is. Julle het ook gekom by so baie engele dat 'n mens hulle nie kan tel nie, julle het gekom by die fees waar almal bly is. Julle het gekom by die vergadering van die mense wat soos God se oudste seuns is, hulle name is opgeskryf in die hemel. Julle het gekom by die Regter wat die God van almal is, julle het gekom by die mense wat voorheen gelewe het en wat heeltemal geword het soos God wil hê hulle moet wees. Julle het ook gekom by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en julle het gekom by die bloed van Jesus wat gevloei het en wat vir ons 'n beter boodskap bring as die bloed van Abel. Julle moet oppas, julle moenie ongehoorsaam wees aan Hom wat met julle praat nie. Want toe God daardie mense voorheen op die aarde gewaarsku het, wou hulle nie luister na Hom nie, en hulle kon nie wegvlug van Hom nie. Ja, dit is waar, God waarsku nou vir ons uit die hemel, en julle weet dat as ons nie wil luister na God nie, dan sal ons ook nie kan vlug nie, dit sal nog slegter gaan met ons as met daardie mense wat ook nie kon vlug nie. In daardie tyd het God hard gepraat en sy stem het die aarde geskud, maar nou het Hy belowe: “ Ek sal nog een maal die aarde skud en Ek sal ook die hemel skud.” En hierdie woorde, “nog een maal”, sê duidelik dat God die dinge sal wegneem, die dinge wat Hy gemaak en geskud het, sodat net die dinge wat niemand kan skud nie, sal oorbly. Dit is seker dat God ons wil laat kom daar waar Hy Koning is, en daarom moet ons dankie sê vir God. Ons is dankbaar, en daarom moet ons vir God dien soos Hy wil hê, en ons moet Hom eer en respekteer, want ons God is ook soos 'n vuur wat alles verbrand.
HEBREËRS 12:14-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. Laat niemand 'n hoereerder wees nie, of 'n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het. Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer. Want julle het nie gekom by 'n tasbare berg nie en 'n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie — want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as 'n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met 'n pyl neergeskiet word. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder. Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel. Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde 'n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is 'n verterende vuur.
HEBREËRS 12:14-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek. Julle het immers nie gekom by 'n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. Die bevel dat selfs 'n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik. So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!” Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel. Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly. Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is 'n verterende vuur.
HEBREËRS 12:14-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sien toe dat niemand die genade van God verspeel nie, sodat geen wortel van bitterheid opskiet, en moeilikheid veroorsaak, en baie daardeur besoedel word nie; ook dat niemand sedeloos of goddeloos optree, soos Esau nie – hy wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg prysgegee het. Julle weet immers dat, toe hy hierna die seën wou beërf, hy afgewys is, want hy kon nie 'n weg vind tot gesindheidsverandering nie – alhoewel hy dit met trane gesoek het. Julle het nie aangekom by iets tasbaars, by 'n brandende vuur, en by duisternis en donkerte en stormwind nie – ook nie by die klank van 'n basuin, en 'n weerklinkende stem wat die hoorders laat pleit het dat nie nog 'n woord vir hulle toegevoeg word nie; want die opdrag, “Selfs as 'n wilde dier die berg aanraak, moet dit gestenig word”, kon hulle nie hanteer nie. En so angswekkend was die verskynsel, dat Moses gesê het: “Ek is beangs, en ek sidder!” Nee, julle het aangekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, by die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike byeenkoms, en 'n •gemeente van •eersgeborenes wat opgeteken is in die hemele, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is, en by Jesus, die Middelaar van 'n nuwe verbond, en by die bloed wat gesprinkel is, en wat sterker praat as dié van Abel. Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie; want as hulle nie ontvlug het toe hulle Hom, wat hulle op aarde gewaarsku het, verontagsaam het nie, soveel te meer ons, as ons die rug draai op Hom wat ons van die hemele af waarsku! Destyds het sy stem die aarde geskud, maar nou het Hy die volgende aangekondig: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde skud nie, maar ook die hemel.” En hierdie uitdrukking “nog een keer” wys op die verandering van die wankelbare dinge – aangesien hulle geskape is – sodat die onwankelbare dinge sal bly. Daarom, terwyl ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op 'n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. Want ons God is inderdaad 'n verterende vuur.
HEBREËRS 12:14-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jaag die vrede na met alle mense, en heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie. En sorg dat niemand die genade van God versuim nie; dat geen wortel van bitterheid wat opskiet, julle verskrik en daardeur baie verontreinig word nie; Dat daar geen hoereerder of goddelose mens wees soos Esau nie, wat vir een stukkie vleis sy eersgeboortereg verkoop het. Want julle weet dat hy daarna, toe hy die seën sou beërf, verwerp is, want hy het geen plek van bekering gevind nie, al het hy dit met trane sorgvuldig gesoek. Want julle het nie gekom by die berg wat aangeraak kan word en wat met vuur verbrand is nie, ook nie by duisternis en duisternis en storm nie, En die geluid van 'n basuin en die stem van woorde; watter stem het die wat dit gehoor het gesmeek dat die woord nie meer tot hulle gespreek moes word nie. Want hulle kon nie verdra wat beveel is nie, en as 'n dier die berg aanraak, sal dit gestenig word of met 'n pyl deurboor word. En so verskriklik was die gesig dat Moses gesê het: Ek is baie bang en bewe! Maar julle het gekom by die berg Sion en by die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem, en by 'n ontelbare menigte engele, Aan die algemene vergadering en die gemeente van die eersgeborenes wat in die hemel geskrywe is, en aan God, die Regter van almal, en aan die geeste van volmaakte regverdige mense, En aan Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en vir die bloed van besprenkeling, wat beter dinge spreek as dié van Abel. Pas op dat julle hom wat spreek nie weier nie. Want as hulle nie ontvlug het wat Hom verwerp het wat op aarde gespreek het nie, veel meer sal ons nie ontvlug nie, as ons afwyk van Hom wat uit die hemel spreek. Wie se stem toe die aarde geskud het, maar nou het Hy dit beloof en gesê: Nog een maal bewe Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel. En hierdie woord, nog eens, dui op die verwydering van die dinge wat geskud word, as van die dinge wat gemaak is, sodat die dinge wat nie geskud kan word nie, kan bly. Daarom ontvang ons 'n onwankelbare koninkryk, laat ons genade hê, waardeur ons God welbehaaglik kan dien met eerbied en godvrugtige vrees. Want ons God is 'n verterende vuur.
HEBREËRS 12:14-29 Die Boodskap (DB)
Probeer julle bes om nie met ander mense te stry of te baklei nie. Leef so dat God trots kan wees op julle, want as iemand nie so leef nie, sal hy sowaar nie by die Here uitkom nie. Help mekaar sodat nie een van julle dalk al die goeie dinge misloop wat God so vrylik vir ons gee nie. As daar iets onder julle gebeur wat mense ongelukkig en kwaad maak vir mekaar, moet dit met wortel en tak uitgeroei word. As dit nie gedoen word nie, word dit soos ’n giftige plant wat uiteindelik baie mense seermaak. Sorg dat niemand seksueel verkeerde dinge doen of hulle rug vir God draai soos Esau gedoen het nie. Hy het mos sy reg as oudste seun en erfgenaam sommer vir ’n bord sop verruil. Julle onthou ook mos wat toe gebeur het. Later wou hy sy reg as oudste seun terughê en hy het verwag dat sy pa vir die Here moes vra om dit te doen. Maar die Here wou nie. Al het hy lang trane gehuil, kon hy niks aan die situasie verander nie. Julle het ook nog nie soos Israel by ’n regte berg soos Sinai gekom nie. Daar was ’n geweldige vuur op die berg, terwyl donker wolke oor die berg gehang het. Dit was donker en daar het ’n woeste storm losgebreek. Die mense het ’n trompet hoor blaas en ’n geweldige stem gehoor. Hulle was so verskrik dat hulle begin smeek het dat die stem tog asseblief moes ophou. Dit was God wat met hulle gepraat het. Wat God vir hulle gesê het, was ondraaglik: “Selfs as ’n dier net aan die berg raak, moet dit doodgegooi word met klippe.” Alles wat daar by die berg gebeur het, was so skrikwekkend dat selfs Moses geskree het: “Ek staan en ruk, so bang is ek.” Maar kyk net by watter berg het julle uitgekom. Julle het gekom by die berg Sion waar die woonplek van die lewende God is, die hemelse Jerusalem. Daar is duisende der duisende hemelwesens wat vrolik bymekaar is en saamsing. Julle het gekom by die kerk van almal vir wie God ’n nuwe lewe gegee het en wie se name in die hemel opgeskryf is. Daar kry julle ook vir God wat uiteindelik as Regter sal besluit wat die lot van elke mens sal wees. By Hom is ook die geeste van mense wat reeds gered en volmaak by Hom is. Jesus is ook daar. Dit is Hy wat vir ons die wonderlike nuwe ooreenkoms met God gemaak het. Daar kom ons ook by Jesus se bloed wat vir ons baie meer gedoen het as die bloed van Abel. Moet onder geen omstandighede julle rug vir God draai wanneer Hy met julle praat nie. Die mense wat nie na Hom wou luister toe Hy met hulle hier op aarde deur Moses gepraat het nie, het lelik in die stof gebyt. As ons ons dan nie meer steur aan God wat uit die hemel met ons praat nie, sal dit nog slegter met ons gaan. Destyds het sy stem die aarde laat bewe, maar nou beloof Hy: “Ek sal nog ’n keer praat, en hierdie keer sal nie net die aarde bewe nie, maar ook die hemel.” Met die woorde “nog ’n keer” bedoel Hy dat alles op aarde uitmekaargeskud gaan word. Net dié dinge sal oorbly wat vir altyd daar sal wees. God maak ons nou deel van sy koninkryk wat vir altyd daar sal wees. Daaroor moet ons oorloop van dankbaarheid. Laat ons Hom dien met eerbied en al die respek wat Hy verdien en laat ons besef hoe klein ons regtig in vergelyking met Hom is. Daar staan nie verniet geskryf nie: “God is soos ’n vuur wat alles tot as kan verbrand.”