HEBREËRS 12:14-29

HEBREËRS 12:14-29 NLV

Doen julle bes om in vrede met almal te lewe en beywer julle om ’n toegewyde lewe te voer, want daarsonder sal julle nie eendag in die Here se teenwoordigheid kan kom nie. Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se genade verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ’n loot van bitterheid opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie. Sorg dat niemand onder julle seksueel sondig of goddeloos optree soos Esau wat sy eersgeboortereg vir ’n skamele ete verkwansel het nie. Julle weet hoe hy later, toe hy die seën wou hê, weggewys is. Dit was te laat vir egte berou. Selfs sy trane kon dit nie meer moontlik maak nie. Anders as die Israeliete by Sinaiberg het julle nie by ’n fisiese berg aangekom met brandende vuur, donderwolke, donkerte, stormwind, trompetgeskal en ’n stem wat praat nie – met die gevolg dat dié wat dit gehoor het, gesmeek het dat God nie verder met hulle moes praat nie. God se opdrag dat selfs ’n dier wat die berg met sy poot aanraak, doodgegooi moes word, kon hulle nie hanteer nie. Ja, so angswekkend was die aanskoue van alles dat Moses uitgeroep het: “Ek is absoluut verskrik, ek bewe van angs!” Nee, julle het aangekom by Sionsberg, by die stad van die lewende God! Julle het aangekom by die hemelse Jerusalem, by die miljoene engele wat juigend feestelik bymekaar is, en by die gemeente van God se kinders wie se name in die hemel opgeskryf staan. Julle het gekom by God, die Regter oor almal, en by die geeste van die verlostes wat nou volkomenheid bereik het. Ja, julle het aangekom by Jesus, die Middelaar van ’n nuwe verbond en by die verbondsbloed wat gesprinkel is en wat van iets beters getuig – so anders as die bloed van Abel wat om vergelding geroep het. Pas op dat julle Hom wat met julle praat, nie ignoreer nie. As die Israeliete nie ongestraf kon wegkom toe hulle Hom wat sy stem op aarde laat hoor het, afgewys het nie, hoeveel minder sal ons kan wegkom as ons die stem uit die hemel afwys! Destyds het God se stem van Sinaiberg af die aarde geskud. Maar nou kondig Hy aan: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” Die “nog een keer” wys daarop dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, plek sal maak vir die onwankelbare, ewige dinge. Daarom moet ons wat bevoorreg is om hierdie onwankelbare koninkryk te ontvang, dankbaar wees, en ons dankbaarheid daarin laat blyk dat ons God gelukkig maak deur Hom met eerbied en ontsag te dien. Want daar staan ook: “Ons God is ’n verterende vuur.”