Dit is waar: Mense wat in God glo, is baie seker dat God die dinge sal doen wat hulle hoop. Geloof is 'n bewys van die dinge wat 'n mens nie kan sien nie. Ons voorouers het in God geglo, en daarom sê die Ou Testament dat God tevrede was met hulle.
Ons wat in God glo, verstaan dat God gepraat het en só die hemel en die aarde gemaak het. 'n Mens kan party dinge nie sien nie, maar God het daardie dinge gebruik om die dinge te maak wat 'n mens kan sien.
Abel het 'n offer gebring. Omdat Abel in God geglo het, daarom het God meer gehou van daardie offer as van Kain se offer. Abel het geglo, en daarom het God gesê dat Abel regverdig is, God het dit gesê omdat Hy tevrede was met Abel se offers. Abel het gesterf, maar hy het in God geglo, en daarom hoor ons vandag nog dat hy met ons praat oor sy geloof. Henog het in God geglo, en daarom het God hom weggeneem, Henog het nie gesterf nie. Daarom kon niemand vir Henog kry nie, want dit was Gód wat hom weggeneem het. Ja, voordat God vir Henog weggeneem het, het God gesê dat Hy tevrede is met Henog. En God sal nooit tevrede wees met 'n mens wat nie in Hom glo nie. Want 'n mens wat vir God wil dien, moet glo dat God lewe en dat God die mense beloon wat Hom wil dien. Noag het in God geglo, en daarom het God hom gewaarsku oor die dinge wat moes gebeur, maar wat mense nog nie kon sien nie. Noag het vir God gerespekteer en daarom het hy gedoen wat God gesê het. Hy het die ark gebou om sy huisgesin te red. Noag het in God geglo, en daarom het hy gewys dat die wêreld se mense skuldig is. God het vir Noag geseën sodat hy regverdig kan lewe omdat hy in God geglo het.
Abraham het in God geglo, en daarom het hy geluister toe God vir hom gesê het om weg te trek na die plek wat God vir hom wou gee om aan hom te behoort. Abraham het weggetrek en hy het nie geweet waarnatoe hy gaan nie. Abraham het in God geglo, en daarom het hy soos 'n vreemdeling gaan woon in die land wat God vir hom belowe het. Hy het soos 'n vreemdeling in tente gewoon saam met Isak en Jakob. God het vir Isak en Jakob belowe dat hulle dieselfde dinge sal kry wat God vir Abraham belowe het. Want Abraham wou baie graag lewe in die stad van God, die stad wat altyd daar sal wees. God het self planne gemaak vir die stad en Hy het dit gebou. Sara kon nooit kinders kry nie en sy was baie oud. Maar Abraham het in God geglo, en daarom het God vir hom krag gegee om pa te kan word. Abraham het geglo dat God sal doen wat Hy belowe het en daarom het hierdie één man 'n groot nageslag gehad. Hy was naby die dood, maar sy nageslag was so baie soos die sterre in die lug en so baie soos die sand langs die see, 'n mens kan dit nie tel nie.
Al hierdie mense wat in God geglo het, het gesterf, en hulle het nie gekry wat God vir hulle belowe het nie. Maar lank voordat hierdie dinge sou gebeur, het hulle dit gesien en hulle was bly oor hierdie dinge. Hulle was nie bang om te sê dat hulle vreemdelinge is in hierdie wêreld nie, hulle was mense wat nie altyd hier woon nie. Want mense wat sê dat hulle hier net vreemdelinge is, sê baie duidelik dat hulle nog nie 'n land het waar hulle altyd kan woon nie. Want as dit waar is dat hulle aangehou het om te dink aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, dan sou hulle kon teruggaan daarnatoe. Maar hulle het nie aangehou om te dink aan daardie land nie. Nee, hulle het verlang na 'n beter land, dit is by God in die hemel. Daarom is God nie skaam dat hulle kon sê dat Hy hulle God is nie. Daarom het Hy vir hulle 'n stad gereedgemaak om in te woon.
God het vir Abraham 'n nageslag belowe, maar God wou vir Abraham toets. Hy wou kyk wat Abraham sal doen en Hy het gesê Abraham moet sy seun offer. Abraham het in God geglo. Daarom was Abraham gewillig om vir Isak te offer en het hy begin om sy enigste seun te offer. God het van Abraham se seun gesê: “ Die nageslag van Isak sal jou nageslag wees.” Abraham het gedink dat God mense wat dood is, weer kan laat lewe, en daarom het hy vir Isak teruggekry. Dit is 'n voorbeeld wat wys hoe God mense wat dood is, weer sal laat lewe.