HEBREËRS 11:1-19
HEBREËRS 11:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, 'n bewys van die dinge wat nie gesien word nie. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is. Deur geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is. Gevolglik het dit wat gesien word, nie uit die sigbare ontstaan nie. Deur geloof het Abel 'n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf. Deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie, en “hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het”. Want voordat hy weggeneem is, is van hom getuig “dat hy God behaag het”. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek. Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy in eerbied gehoorsaam was, 'n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel, en 'n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof. Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na 'n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan. Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in 'n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is. Deur geloof het ook Sara, alhoewel reeds onvrugbaar, en nie meer jonk nie, krag ontvang om bevrug te word, aangesien sy Hom wat dit beloof het, getrou geag het. Daarom is daar uit een man, wat so te sê dood was, 'n nageslag gebore, in getal so veel soos die sterre van die hemel, en soos die ontelbare sandkorrels op die strand langs die see. Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. Want dié wat sodanige dinge sê, gee te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. En as hulle nog aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer; maar nou hunker hulle na 'n beter een, 'n hemelse een. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad voorberei. Deur geloof het Abraham, toe hy getoets is, Isak as offer aangebied, en was hy op die punt om sy enigste te offer – hy wat die beloftes ontvang het, aan wie gesê is, “Deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag wees” – omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek, waaruit hy, figuurlik gesproke, hom ook terugontvang het.
HEBREËRS 11:1-19 Bybel vir almal (ABA)
Dit is waar: Mense wat in God glo, is baie seker dat God die dinge sal doen wat hulle hoop. Geloof is 'n bewys van die dinge wat 'n mens nie kan sien nie. Ons voorouers het in God geglo, en daarom sê die Ou Testament dat God tevrede was met hulle. Ons wat in God glo, verstaan dat God gepraat het en só die hemel en die aarde gemaak het. 'n Mens kan party dinge nie sien nie, maar God het daardie dinge gebruik om die dinge te maak wat 'n mens kan sien. Abel het 'n offer gebring. Omdat Abel in God geglo het, daarom het God meer gehou van daardie offer as van Kain se offer. Abel het geglo, en daarom het God gesê dat Abel regverdig is, God het dit gesê omdat Hy tevrede was met Abel se offers. Abel het gesterf, maar hy het in God geglo, en daarom hoor ons vandag nog dat hy met ons praat oor sy geloof. Henog het in God geglo, en daarom het God hom weggeneem, Henog het nie gesterf nie. Daarom kon niemand vir Henog kry nie, want dit was Gód wat hom weggeneem het. Ja, voordat God vir Henog weggeneem het, het God gesê dat Hy tevrede is met Henog. En God sal nooit tevrede wees met 'n mens wat nie in Hom glo nie. Want 'n mens wat vir God wil dien, moet glo dat God lewe en dat God die mense beloon wat Hom wil dien. Noag het in God geglo, en daarom het God hom gewaarsku oor die dinge wat moes gebeur, maar wat mense nog nie kon sien nie. Noag het vir God gerespekteer en daarom het hy gedoen wat God gesê het. Hy het die ark gebou om sy huisgesin te red. Noag het in God geglo, en daarom het hy gewys dat die wêreld se mense skuldig is. God het vir Noag geseën sodat hy regverdig kan lewe omdat hy in God geglo het. Abraham het in God geglo, en daarom het hy geluister toe God vir hom gesê het om weg te trek na die plek wat God vir hom wou gee om aan hom te behoort. Abraham het weggetrek en hy het nie geweet waarnatoe hy gaan nie. Abraham het in God geglo, en daarom het hy soos 'n vreemdeling gaan woon in die land wat God vir hom belowe het. Hy het soos 'n vreemdeling in tente gewoon saam met Isak en Jakob. God het vir Isak en Jakob belowe dat hulle dieselfde dinge sal kry wat God vir Abraham belowe het. Want Abraham wou baie graag lewe in die stad van God, die stad wat altyd daar sal wees. God het self planne gemaak vir die stad en Hy het dit gebou. Sara kon nooit kinders kry nie en sy was baie oud. Maar Abraham het in God geglo, en daarom het God vir hom krag gegee om pa te kan word. Abraham het geglo dat God sal doen wat Hy belowe het en daarom het hierdie één man 'n groot nageslag gehad. Hy was naby die dood, maar sy nageslag was so baie soos die sterre in die lug en so baie soos die sand langs die see, 'n mens kan dit nie tel nie. Al hierdie mense wat in God geglo het, het gesterf, en hulle het nie gekry wat God vir hulle belowe het nie. Maar lank voordat hierdie dinge sou gebeur, het hulle dit gesien en hulle was bly oor hierdie dinge. Hulle was nie bang om te sê dat hulle vreemdelinge is in hierdie wêreld nie, hulle was mense wat nie altyd hier woon nie. Want mense wat sê dat hulle hier net vreemdelinge is, sê baie duidelik dat hulle nog nie 'n land het waar hulle altyd kan woon nie. Want as dit waar is dat hulle aangehou het om te dink aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, dan sou hulle kon teruggaan daarnatoe. Maar hulle het nie aangehou om te dink aan daardie land nie. Nee, hulle het verlang na 'n beter land, dit is by God in die hemel. Daarom is God nie skaam dat hulle kon sê dat Hy hulle God is nie. Daarom het Hy vir hulle 'n stad gereedgemaak om in te woon. God het vir Abraham 'n nageslag belowe, maar God wou vir Abraham toets. Hy wou kyk wat Abraham sal doen en Hy het gesê Abraham moet sy seun offer. Abraham het in God geglo. Daarom was Abraham gewillig om vir Isak te offer en het hy begin om sy enigste seun te offer. God het van Abraham se seun gesê: “ Die nageslag van Isak sal jou nageslag wees.” Abraham het gedink dat God mense wat dood is, weer kan laat lewe, en daarom het hy vir Isak teruggekry. Dit is 'n voorbeeld wat wys hoe God mense wat dood is, weer sal laat lewe.
HEBREËRS 11:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang. Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie. Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is. Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek. Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is. Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as 'n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in 'n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het. Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit 'n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is. In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle 'n vaderland soek. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou verlang hulle na 'n beter een, dit is 'n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei. Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.
HEBREËRS 11:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie. Omdat Abel geglo het, het hy 'n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy 'n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood. Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om 'n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. Die gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see. Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak. Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.
HEBREËRS 11:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou is die geloof 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die ouderlinge 'n goeie verslag gekry. Deur geloof verstaan ons dat die wêrelde deur die woord van God omring is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit dinge wat wel verskyn nie. Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis verkry het dat hy regverdig was, terwyl God van sy gawes getuig het, en daardeur spreek hy wat nog dood is. Deur die geloof is Henog weggeneem sodat hy die dood nie sou sien nie; en is nie gevind nie, omdat God hom vertaal het; want voor sy vertaling het hy hierdie getuienis gehad dat hy God behaag het. Maar sonder geloof is dit onmoontlik om Hom te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en dat Hy 'n beloner is van die wat Hom soek. Deur die geloof het Noag, toe hy deur God gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien is nie, en hy het met vrees beweeg en 'n ark gereed gemaak om sy huis te red; waardeur Hy die wêreld veroordeel het en erfgenaam geword het van die geregtigheid wat uit die geloof is. Deur die geloof het Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te gaan na die plek wat hy as erfenis sou ontvang; en hy het uitgegaan sonder om te weet waarheen hy gegaan het. Deur geloof het hy as vreemdeling vertoef in die land van die belofte, soos in 'n vreemde land, en in hutte gewoon saam met Isak en Jakob, die erfgename saam met hom van dieselfde belofte. Want hy het gewag na 'n stad wat fondamente het, waarvan God die bouer en oprigter is. Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om swanger te word, en sy is gebore toe sy ouer geword het, omdat sy hom getrou geoordeel het wat dit beloof het. Daarom het daar selfs uit een ontstaan, en hy so goed as dood, soveel soos die sterre van die hemel in menigte, en soos die sand wat by die seestrand is, ontelbaar. Hulle het almal in die geloof gesterwe sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en daarvan oortuig en omhels en bely dat hulle vreemdelinge en pelgrims op die aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar duidelik dat hulle 'n land soek. En waarlik, as hulle gedagtig was aan daardie land waaruit hulle uitgekom het, sou hulle dalk die geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou begeer hulle 'n beter land, dit is 'n hemelse; daarom skaam God hom nie om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei. Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; en hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggebore seun geoffer, Van wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word; Aangesien God in staat was om hom uit die dode op te wek; vanwaar Hy hom ook in gestalte ontvang het.
HEBREËRS 11:1-19 Die Boodskap (DB)
Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur. Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het. Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreld gemaak het deur net te sê dat dit daar moet wees, en dit was daar. Dit is nie gemaak uit iets wat ons kan sien nie. Omdat Abel God vertrou het, het God meer van sy offer gehou as van sy broer Kain s’n. Juis omdat hy God vertrou het, was sy offer vir God goed en het God gesê dat sy verhouding met Hom reg is. Abel se geloof het dus tot vandag toe nog vir ons ’n boodskap, al is hy lankal dood. Henog het God ook so vertrou. Daarom is hy nie soos ander dood nie, maar God het hom kom haal en hemel toe gevat. Hulle het hom oral gesoek, maar kon hom nie kry nie, want God het hom weggevat. Voor dit egter gebeur het, het almal al daaroor gepraat dat God trots was op die manier waarop Henog geleef het. Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is ’n goeie rede voor: ’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang. Dink ook aan Noag. Hy het geglo wat God vir hom gesê het en het in alle erns ’n skip gebou om sy familie te red. Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie. Sy geloof het duidelik gewys hoe ongelowig die ander mense was, en daarom kan hulle nie nou verskonings maak nie. Noag het gewys dat vertroue op God ’n mens vrymaak voor God. God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan. En die rede: hy het God heeltemal vertrou. Juis daarom het hy sy tent gaan opslaan in daardie land wat God vir hom beloof het, al is hy eers soos ’n vreemdeling daar behandel. Isak en Jakob, vir wie God ook die land beloof het, het daar saam met hom in tente gebly. Abraham het die hele tyd uitgesien na die stad wat op fondamente gebou sou word, die stad wat God self sou ontwerp en bou. Abraham was al baie oud en hy en sy vrou Sara kon nie kinders hê nie. Tog het Abraham op die Here vertrou en pa geword. Hy het geglo dat God die belofte wat Hy gemaak het, nie sou breek nie. En kyk net na die gevolge: uit een man, wat eintlik self nie meer kinders kon hê nie, het daar ’n nageslag gekom wat ’n mens vandag nie meer kan tel nie. Hulle is so baie soos die sterre aan die hemel of die sandkorrels op die strand. Abraham, Isak en Jakob het in hulle leeftyd nog nie alles gekry wat God beloof het nie. Nogtans het hulle op God bly vertrou tot hulle dood. Soos mense wat in die toekoms kon inkyk, het hulle gesien wat God alles nog sou doen en hulle was baie bly daaroor. Hulle het besef dat hierdie wêreld eintlik nie hulle regte blyplek is nie. Hulle was maar net tydelik hier. Deur so te praat het hulle gewys dat hulle uitsien na ’n ander blyplek wat net hulle s’n sou wees. As hulle terugverlang het na die land waaruit hulle oorspronklik getrek het, kon hulle maklik omgedraai en teruggegaan het. Hulle het egter gesmag na ’n beter blyplek van hulle eie, ’n plek in die hemel by God. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie. Om die waarheid te sê, Hy het vir hulle ’n spesiale blyplek by Hom reggemaak. God wou kyk of Abraham regtig in Hom glo. Daarom het Hy gesê dat Abraham Isak moes gaan doodmaak. Abraham het na God geluister, omdat hy God vertrou het. God het immers vir hom beloof dat hy ’n nageslag sou hê en gesê: “Isak is die een deur wie Ek vir jou ’n groot nageslag sal gee.” Nou moes hy daardie seun gaan doodmaak. Dit het nie vir Abraham logies geklink nie, maar hy het God vertrou. Hy het geredeneer dat God Isak weer lewendig sou maak, want Hy kan dit doen. Eintlik kan ’n mens dus sê dat Abraham wel vir Isak doodgemaak het en dat hy sy seun weer uit die dood teruggekry het.
HEBREËRS 11:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak. Juis op grond van hierdie geloof word daar so positief oor die mense van vroeër getuig. Omdat ons glo, verstaan ons dat God, deur net ’n woord te spreek, die ganse heelal geskep het. Dit wat ons nou kan sien, het dus nie uit sigbare dinge ontstaan nie. Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer as Kain aan God gebring. God het Abel se offer aanvaar en daarmee bevestig dat hy ’n regverdige mens is. En al is hy lankal dood, praat hy deur sy geloof nog steeds met ons. Omdat hy geglo het, is Henog weggeneem sonder om te sterf. Hulle kon hom nie kry nie, want God het hom weggeneem. Maar nog voordat hy weggeneem is, is van hom getuig dat hy God se goedkeuring wegdra. As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon. Omdat hy geglo het, het Noag, toe God hom gewaarsku het oor wat nog nie gesien kon word nie, gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered en die wêreld veroordeel. So het hy dan ’n erfgenaam geword van die vryspraak wat ’n mens deur die geloof ontvang. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland. Omdat hy geglo het, het hy in die Beloofde Land gaan woon – ’n vreemdeling in ’n vreemde land. Hy het daar in tente gewoon. So ook Isak en Jakob aan wie God dieselfde belofte gemaak het. Abraham kon dit doen omdat hy uitgesien het na die stad met stewige fondamente wat God self ontwerp en gebou het. Omdat hy geglo het, het Abraham, saam met Sara (wat onvrugbaar was), ook krag ontvang om ’n kind te verwek, en dit nogal in sy ouderdom, omdat hy geglo het dat God sy belofte sou nakom. En so is daar uit een mens, en dit nogal een wat nie meer ’n kind kon verwek nie, mense gebore so baie soos die sterre aan die hemelruim en so ontelbaar soos die sandkorrels op die strand. Terwyl hulle nog steeds geglo het, het hulle almal gesterf sonder om die vervulling van God se belofte te beleef. Hulle het dit egter in die verte gesien en begroet, en erken dat hulle hier net vreemdelinge en bywoners is. Mense wat só praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na hulle eintlike vaderland. As hulle daardie land bedoel het waarvandaan hulle geëmigreer het, sou hulle kans kry om weer terug te trek. Maar nou hunker hulle na ’n beter vaderland, naamlik dié een in die hemel. Dit is waarom God Hom nie skaam om as hulle God bekend te staan nie. Hy het immers vir hulle ’n stad voorberei. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad. Ja, hy wou sy enigste kind offer – dié man wat God se beloftes ontvang het, aan wie gesê is: “Isak is die seun uit wie jou nageslag gebore sal word.” Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek. En in ’n sekere sin hét hy hom ook uit die dood terugontvang.