HEBREËRS 11:1-19

HEBREËRS 11:1-19 NLV

Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak. Juis op grond van hierdie geloof word daar so positief oor die mense van vroeër getuig. Omdat ons glo, verstaan ons dat God, deur net ’n woord te spreek, die ganse heelal geskep het. Dit wat ons nou kan sien, het dus nie uit sigbare dinge ontstaan nie. Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer as Kain aan God gebring. God het Abel se offer aanvaar en daarmee bevestig dat hy ’n regverdige mens is. En al is hy lankal dood, praat hy deur sy geloof nog steeds met ons. Omdat hy geglo het, is Henog weggeneem sonder om te sterf. Hulle kon hom nie kry nie, want God het hom weggeneem. Maar nog voordat hy weggeneem is, is van hom getuig dat hy God se goedkeuring wegdra. As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon. Omdat hy geglo het, het Noag, toe God hom gewaarsku het oor wat nog nie gesien kon word nie, gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered en die wêreld veroordeel. So het hy dan ’n erfgenaam geword van die vryspraak wat ’n mens deur die geloof ontvang. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland. Omdat hy geglo het, het hy in die Beloofde Land gaan woon – ’n vreemdeling in ’n vreemde land. Hy het daar in tente gewoon. So ook Isak en Jakob aan wie God dieselfde belofte gemaak het. Abraham kon dit doen omdat hy uitgesien het na die stad met stewige fondamente wat God self ontwerp en gebou het. Omdat hy geglo het, het Abraham, saam met Sara (wat onvrugbaar was), ook krag ontvang om ’n kind te verwek, en dit nogal in sy ouderdom, omdat hy geglo het dat God sy belofte sou nakom. En so is daar uit een mens, en dit nogal een wat nie meer ’n kind kon verwek nie, mense gebore so baie soos die sterre aan die hemelruim en so ontelbaar soos die sandkorrels op die strand. Terwyl hulle nog steeds geglo het, het hulle almal gesterf sonder om die vervulling van God se belofte te beleef. Hulle het dit egter in die verte gesien en begroet, en erken dat hulle hier net vreemdelinge en bywoners is. Mense wat só praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na hulle eintlike vaderland. As hulle daardie land bedoel het waarvandaan hulle geëmigreer het, sou hulle kans kry om weer terug te trek. Maar nou hunker hulle na ’n beter vaderland, naamlik dié een in die hemel. Dit is waarom God Hom nie skaam om as hulle God bekend te staan nie. Hy het immers vir hulle ’n stad voorberei. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad. Ja, hy wou sy enigste kind offer – dié man wat God se beloftes ontvang het, aan wie gesê is: “Isak is die seun uit wie jou nageslag gebore sal word.” Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek. En in ’n sekere sin hét hy hom ook uit die dood terugontvang.