Handelinge 14:8-18

Handelinge 14:8-18 ABA

In die stad Listre was daar 'n man, sy voete was verlam. Hy het nooit geloop nie, vandat hy gebore is. Die man het na Paulus geluister terwyl Paulus gepraat het. Paulus het lank na hom gekyk en toe hy sien dat die verlamde man glo dat God hom gesond kan maak, het Paulus hard en duidelik gesê: “Staan op, staan regop op jou voete!” En dadelik het die man regop gespring en het hy begin rondloop. Toe die mense die wonderwerk sien wat Paulus gedoen het, het hulle hard in die taal van die mense van Likaonië geskree: “Die gode het afgekom na ons toe en hulle het soos mense geword!” Die mense het toe vir Barnabas “ Zeus” genoem en hulle het vir Paulus “ Hermes” genoem omdat Paulus die een was wat die meeste gepraat het. Die tempel van Zeus was net buite die stad. Die priester van die tempel het toe bulle en kransies van blomme na die poort van die stad gebring, en hy wou saam met die mense die bulle vir Paulus en Barnabas offer. Toe die apostels, Barnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hulle klere geskeur. Hulle het uitgehardloop na die mense toe en het vir hulle geskree en gesê: “Mense, hoekom doen julle hierdie dinge? Ons is ook mense, soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle die gode moet los wat niks beteken nie, julle moet verander en lewe soos God wil hê, julle moet vir God dien, die God wat lewe. Hy het die hemel en die aarde en die see en al die dinge in die see gemaak. Toe al die volke voorheen gedoen het wat hulle wou doen, het God hulle nie gestraf nie. Maar God het vir die mense gewys dat Hy daar is, want Hy het goeie dinge vir hulle gegee: Hy het vir julle reën uit die lug laat val en Hy het vir julle vrugbare plante gegee. Ja, Hy het vir julle baie kos gegee en Hy het julle baie bly gemaak.” Die apostels het hierdie dinge vir die mense gesê om hulle te keer sodat hulle nie offers vir die apostels bring nie, maar die apostels het baie gesukkel om die mense te keer, die mense wou dit nog doen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid