Handelinge 14

14
Paulus en Barnabas in die stad Ikonium
1Paulus en Barnabas het in die stad Ikonium dieselfde gedoen wat hulle in Antiogië gedoen het. Hulle het na die sinagoge van die Jode gegaan. Daar het Paulus en Barnabas baie oor Jesus gepraat en baie Jode en Grieke het in Jesus begin glo. 2Maar die Jode wat nie in Jesus wou glo nie, het vir die heidene slegte dinge van die gelowiges vertel en die heidene het vyande geword van die gelowiges. 3Barnabas en Paulus het 'n lang tyd daar in Ikonium gebly en hulle was nie bang om vir die mense te vertel van die genade van die Here nie. Die Here het ook gewys dat hulle boodskap waar is, want Hy het vir hulle die krag gegee om wonderwerke en tekens te doen. 4Die mense van die stad het in twee groepe verdeel. Die een groep het gedink die Jode is reg, maar die ander groep het gedink die apostels is reg. 5Toe het die heidene en die Jode en hulle leiers besluit om slegte dinge te doen aan die apostels, hulle het besluit om die apostels dood te gooi met klippe. 6Toe die apostels hoor wat die mense wil doen, het hulle gevlug na die stede Listre en Derbe. Hierdie stede was in die deel van die land wat die mense “Likaonië” genoem het. 7Hulle het daar die goeie boodskap gepreek.
Paulus en Barnabas in Listre
8In die stad Listre was daar 'n man, sy voete was verlam. Hy het nooit geloop nie, vandat hy gebore is. 9Die man het na Paulus geluister terwyl Paulus gepraat het. Paulus het lank na hom gekyk en toe hy sien dat die verlamde man glo dat God hom gesond kan maak, 10het Paulus hard en duidelik gesê: “Staan op, staan regop op jou voete!”
En dadelik het die man regop gespring en het hy begin rondloop. 11Toe die mense die wonderwerk sien wat Paulus gedoen het, het hulle hard in die taal van die mense van Likaonië geskree: “Die gode het afgekom na ons toe en hulle het soos mense geword!”
12Die mense het toe vir Barnabas “ Zeus” genoem en hulle het vir Paulus “ Hermes” genoem omdat Paulus die een was wat die meeste gepraat het. 13Die tempel van Zeus was net buite die stad. Die priester van die tempel het toe bulle en kransies van blomme na die poort van die stad gebring, en hy wou saam met die mense die bulle vir Paulus en Barnabas offer. 14Toe die apostels, Barnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hulle klere geskeur. Hulle het uitgehardloop na die mense toe en het vir hulle geskree en gesê: 15“Mense, hoekom doen julle hierdie dinge? Ons is ook mense, soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle die gode moet los wat niks beteken nie, julle moet verander en lewe soos God wil hê, julle moet vir God dien, die God wat lewe. Hy het die hemel en die aarde en die see en al die dinge in die see gemaak. 16Toe al die volke voorheen gedoen het wat hulle wou doen, het God hulle nie gestraf nie. 17Maar God het vir die mense gewys dat Hy daar is, want Hy het goeie dinge vir hulle gegee: Hy het vir julle reën uit die lug laat val en Hy het vir julle vrugbare plante gegee. Ja, Hy het vir julle baie kos gegee en Hy het julle baie bly gemaak.”
18Die apostels het hierdie dinge vir die mense gesê om hulle te keer sodat hulle nie offers vir die apostels bring nie, maar die apostels het baie gesukkel om die mense te keer, die mense wou dit nog doen.
19Terwyl die apostels daar in Listre was, het Jode van die stede Antiogië in Pisidië en Ikonium daarnatoe gekom. Hulle het die mense anders laat dink, en die mense het vir Paulus met klippe gegooi. Daarna het hulle vir Paulus uit die stad gesleep, want hulle het gedink dat hy dood is. 20Daar het toe gelowiges rondom Paulus kom staan. Paulus het opgestaan en hy het ingegaan in die stad. Die volgende dag het Paulus en Barnabas weggegaan uit Listre en hulle het na die stad Derbe gegaan.
Paulus en Barnabas gaan terug na die stad Antiogië in die provinsie Sirië
21Nadat Barnabas en Paulus die goeie boodskap in Derbe gebring het en nadat baie mense in Jesus begin glo het, het Paulus en Barnabas teruggegaan na die stede Listre, Ikonium en Antiogië in Pisidië. 22In daardie stede het Barnabas en Paulus die gelowiges bemoedig, hulle het vir die gelowiges gesê om aan te hou om in Jesus te glo. Hulle het gesê: “Ons moet eers baie swaar kry voordat ons by God sal wees, daar waar Hy, die Koning, regeer.”
23Barnabas en Paulus het vir elke gemeente ouderlinge gekies en aangestel, en nadat hulle gebid en gevas het, het hulle vir die Here gevra om te sorg vir die ouderlinge en die gemeentes wat in Hom geglo het. 24Hulle het deur die provinsie Pisidië gegaan, en toe het hulle in die provinsie Pamfilië gekom. 25En nadat hulle die boodskap van die Here in die stad Perge gebring het, het hulle na die hawestad Attalië gegaan. 26Hulle het van daar met 'n skip weer teruggegaan na die stad Antiogië in die provinsie Sirië. Dit is daar waar die mense tot God gebid het dat Hy vir Barnabas en Paulus genadig moet wees, sodat Paulus en Barnabas die werk kon doen, die werk wat hulle nou klaargemaak het. 27Toe Barnabas en Paulus in Antiogië gekom het, het hulle die gemeente bymekaargeroep en hulle het vir die gemeente vertel watter dinge God alles vir hulle laat doen het. Hulle het ook vertel dat God vir hulle gewys het dat die heidene ook in Jesus kan glo. 28Barnabas en Paulus het toe 'n lang tyd daar by die gelowiges gebly.

Tans Gekies:

Handelinge 14: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid