Handelinge 14:8-18

Handelinge 14:8-18 AFR20

In Listra het daar 'n man gesit wat nie sy voete kon gebruik nie. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. Hy het na Paulus se woorde geluister. Paulus het stip na hom gekyk, en toe hy sien dat hy die geloof het om genees te word, het hy met 'n harde stem uitgeroep: “Staan op, regop op jou voete!” En hy het opgespring en begin rondstap. Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en na ons afgedaal!” Vir Barnabas het hulle Zeus genoem en vir Paulus, omdat hy die woordvoerder was, Hermes. Die priester van Zeus, wie se tempel net buite die stad was, het bulle en blomkranse na die stadspoorte gebring en wou saam met die skares 'n offer bring. Toe die •apostels Barnabas en Paulus daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur, tussen die skare ingespring en geskreeu: “Mense, waarom doen julle dit? Ons is ook in alle opsigte mense, net soos julle! Ons verkondig aan julle die evangelie dat julle van hierdie nuttelose dinge moet wegdraai na die lewende God, wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het. Al die heidennasies het Hy in vorige geslagte toegelaat om op hulle eie paaie te gaan, maar tog het Hy geen onduidelike getuienis van Homself gegee nie, deur goeie dinge te doen: Hy het uit die hemel aan julle reën en vrugbare seisoene gegee, en julle liggame met kos en julle harte met vreugde gevul.” Maar selfs al het hulle dit gesê, het hulle beswaarlik die skare daarvan weerhou om offers aan hulle te bring.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid