HANDELINGE 14:8-18

HANDELINGE 14:8-18 Bybel vir almal (ABA)

In die stad Listre was daar 'n man, sy voete was verlam. Hy het nooit geloop nie, vandat hy gebore is. Die man het na Paulus geluister terwyl Paulus gepraat het. Paulus het lank na hom gekyk en toe hy sien dat die verlamde man glo dat God hom gesond kan maak, het Paulus hard en duidelik gesê: “Staan op, staan regop op jou voete!” En dadelik het die man regop gespring en het hy begin rondloop. Toe die mense die wonderwerk sien wat Paulus gedoen het, het hulle hard in die taal van die mense van Likaonië geskree: “Die gode het afgekom na ons toe en hulle het soos mense geword!” Die mense het toe vir Barnabas “ Zeus” genoem en hulle het vir Paulus “ Hermes” genoem omdat Paulus die een was wat die meeste gepraat het. Die tempel van Zeus was net buite die stad. Die priester van die tempel het toe bulle en kransies van blomme na die poort van die stad gebring, en hy wou saam met die mense die bulle vir Paulus en Barnabas offer. Toe die apostels, Barnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hulle klere geskeur. Hulle het uitgehardloop na die mense toe en het vir hulle geskree en gesê: “Mense, hoekom doen julle hierdie dinge? Ons is ook mense, soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle die gode moet los wat niks beteken nie, julle moet verander en lewe soos God wil hê, julle moet vir God dien, die God wat lewe. Hy het die hemel en die aarde en die see en al die dinge in die see gemaak. Toe al die volke voorheen gedoen het wat hulle wou doen, het God hulle nie gestraf nie. Maar God het vir die mense gewys dat Hy daar is, want Hy het goeie dinge vir hulle gegee: Hy het vir julle reën uit die lug laat val en Hy het vir julle vrugbare plante gegee. Ja, Hy het vir julle baie kos gegee en Hy het julle baie bly gemaak.” Die apostels het hierdie dinge vir die mense gesê om hulle te keer sodat hulle nie offers vir die apostels bring nie, maar die apostels het baie gesukkel om die mense te keer, die mense wou dit nog doen.

HANDELINGE 14:8-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En in Listre het daar 'n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie. Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word, met 'n groot stem gesê: Staan regop op jou voete! En hy het opgespring en begin rondloop. En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe. En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was. En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer. Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul. Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer.

HANDELINGE 14:8-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

In Listra was daar 'n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!” Die man het opgespring en hy kon loop. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!” Hulle het vir Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was. Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring. Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: “Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring.

HANDELINGE 14:8-18 Die Boodskap (DB)

In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie omdat hy van sy geboorte af verlam was. Hy het op ’n dag gesit en luister hoe Paulus vir die mense van Jesus vertel. Paulus het na hom gekyk en agtergekom dat die man begin glo dat God sy lewe kan aanraak. Toe het Paulus hard vir hom gesê: “Staan op! Begin loop!” Die man het dadelik orent gespring en begin rondbeweeg. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, het hulle opgewonde in hulle Likaoniese taal uitgeroep: “Die gode het mense geword! Die gode het na ons toe gekom!” Hulle het gesê Barnabas is Zeus, en dat Paulus Hermes is. Paulus is Hermes genoem omdat hy al die praatwerk gedoen het. Dadelik het die hoofpriester van Zeus se tempel, wat net buite die stad was, ’n aantal bulle en groot blomkranse begin gereed kry. Dit is na die hekke van die stad gebring waar baie mense begin saamdrom het om ’n offer te bring. Toe die Here se twee apostels sien wat besig was om te gebeur, was hulle baie geskok. Hulle het hulle klere van ontsteltenis geskeur en dadelik na die skare toe gehardloop. “Wat vang julle aan?” het hulle bo die geraas uitgeroep. “Ons is doodgewone mense, net soos julle. “Ons het vir julle die goeie nuus oor Christus kom vertel sodat julle kan ophou om hierdie dooie gode van julle te dien. Laat staan al hierdie dinge waarmee julle besig is. Kom na die lewende God toe. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het. “In die verlede het God toegelaat dat al die volke maar hulle eie pad loop. Tog het Hy op baie maniere gewys dat Hy vir julle omgee. Hy het gesorg dat julle genoeg reën kry en dat daar groot oeste op julle lande is. Hy het julle skure vol kos gepak en julle hart met vreugde volgemaak.” Paulus en Barnabas het kliphard probeer om die skare onder beheer te kry. Uiteindelik het hulle die mense darem so ver gekry om nie ’n offer aan hulle te bring nie.

HANDELINGE 14:8-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie. Van sy geboorte af was hy verlam en kon hy nooit loop nie. Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. Toe het hy met ’n harde stem gesê: “Op jou voete!” Die man het opgespring en begin rondstap. Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het met mensliggame na ons toe afgekom!” Hulle het Barnabas “Zeus” begin noem en Paulus, omdat hy die een was wat die praatwerk gedoen het, “Hermes”. Die Zeustempel was net buite die stad. Die priester van die tempel het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy het gereedgemaak om saam met die skare offers aan die apostels te bring. Toe die apostels Barnabas en Paulus daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die skare ingespring en geskreeu: “Mense, waarom doen julle dit? Ons is mense, net soos julle. Ons bring vir julle die Goeie Nuus dat julle hierdie nikswerd kamstige gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle bestaan, gemaak het. In vorige geslagte het Hy die ander nasies toegelaat om hulle eie koers te kies, maar tog het Hy duidelike getuienis gegee dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën gegee van die hemel af, en oeste op hulle tyd; Hy het julle volop kos gegee en in julle harte volop vreugde.” Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels skaars keer dat die mense offers aan hulle bring.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid