1 Petrus 3:8-16

1 Petrus 3:8-16 ABA

Hierdie is die laaste dinge wat ek hieroor wil sê. Julle moenie met mekaar twis nie, julle moet dieselfde dink oor dinge. Julle moet bly wees saam met ander mense en julle moet hartseer wees saam met hulle. Julle moet lief wees vir mekaar soos broers en susters lief is vir mekaar. Julle moet jammer wees vir ander mense en julle moenie hoogmoedig wees nie. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle nie ook slegte dinge doen aan hulle nie. Wanneer mense slegte dinge sê van julle, dan moet julle nie ook slegte dinge sê van hulle nie. Nee, julle moet hulle seën, want die Here het julle gekies om ander mense te seën. As julle dit doen, dan sal Hy julle seën. Iemand wat lief is vir die lewe en wat graag goeie dinge wil hê, moenie sleg praat van mense nie en hy moenie lieg nie. Hy moenie verkeerde dinge doen nie, hy moet goeie dinge doen, hy moet altyd probeer om vrede te maak. Want die Here kyk na die mense wat reg lewe en Hy sorg vir hulle. Hy luister wanneer hulle roep en vra dat Hy hulle moet help. Maar die Here hou nie van mense wat verkeerde dinge doen nie. Dit is seker: Niemand sal slegte dinge doen aan julle as julle baie graag goeie dinge wil doen nie. Nee, julle is gelukkige mense as julle swaarkry omdat julle doen wat die Here wil hê. Maar julle moenie bang wees vir die mense wat julle laat swaarkry nie, en julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet onthou dat Christus heilig is en dat Hy die Here is. Julle weet van die dinge wat sal gebeur, julle is seker daarvan. Wanneer mense vir julle vra om te vertel van daardie dinge, dan moet julle altyd gereed wees om vir elkeen te vertel van die dinge. Maar julle moet nederig wees wanneer julle dit vertel en julle moet vir God respekteer. Daar is mense wat vir julle beledig, want julle doen goeie dinge omdat julle in Christus glo. Julle moet goed onthou wat is reg en wat is verkeerd, sodat die mense wat vir julle beledig, self skaam sal word.