Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar, inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.
Immers, “wie die lewe wil liefhê,
en goeie dae wil beleef –
laat hy sy tong weerhou van wat sleg is,
en sy lippe daarvan om bedrog te spreek,
en laat hy afwyk van die kwaad,
en die goeie doen,
laat hy vrede soek en dit najaag;
want die oë van die Here
is op die regverdiges,
en sy ore is oop
vir hulle gebedsversoeke,
maar die aangesig van die Here
is teen dié wat verkeerde dinge doen.”
Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. Inteendeel, eerbiedig •Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met 'n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan.