1 PETRUS 3:8-16

1 PETRUS 3:8-16 Bybel vir almal (ABA)

Hierdie is die laaste dinge wat ek hieroor wil sê. Julle moenie met mekaar twis nie, julle moet dieselfde dink oor dinge. Julle moet bly wees saam met ander mense en julle moet hartseer wees saam met hulle. Julle moet lief wees vir mekaar soos broers en susters lief is vir mekaar. Julle moet jammer wees vir ander mense en julle moenie hoogmoedig wees nie. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle nie ook slegte dinge doen aan hulle nie. Wanneer mense slegte dinge sê van julle, dan moet julle nie ook slegte dinge sê van hulle nie. Nee, julle moet hulle seën, want die Here het julle gekies om ander mense te seën. As julle dit doen, dan sal Hy julle seën. Iemand wat lief is vir die lewe en wat graag goeie dinge wil hê, moenie sleg praat van mense nie en hy moenie lieg nie. Hy moenie verkeerde dinge doen nie, hy moet goeie dinge doen, hy moet altyd probeer om vrede te maak. Want die Here kyk na die mense wat reg lewe en Hy sorg vir hulle. Hy luister wanneer hulle roep en vra dat Hy hulle moet help. Maar die Here hou nie van mense wat verkeerde dinge doen nie. Dit is seker: Niemand sal slegte dinge doen aan julle as julle baie graag goeie dinge wil doen nie. Nee, julle is gelukkige mense as julle swaarkry omdat julle doen wat die Here wil hê. Maar julle moenie bang wees vir die mense wat julle laat swaarkry nie, en julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet onthou dat Christus heilig is en dat Hy die Here is. Julle weet van die dinge wat sal gebeur, julle is seker daarvan. Wanneer mense vir julle vra om te vertel van daardie dinge, dan moet julle altyd gereed wees om vir elkeen te vertel van die dinge. Maar julle moet nederig wees wanneer julle dit vertel en julle moet vir God respekteer. Daar is mense wat vir julle beledig, want julle doen goeie dinge omdat julle in Christus glo. Julle moet goed onthou wat is reg en wat is verkeerd, sodat die mense wat vir julle beledig, self skaam sal word.

1 PETRUS 3:8-16 Die Boodskap (DB)

Vir julle almal kom dit hierop neer: moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie. Wees sensitief vir mekaar se gevoelens. Soos jy jou eie broer of suster liefhet, moet julle mekaar liefhê. Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink ten koste van ander nie. As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op jou beurt lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou. God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees. As julle dit doen, sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het. Daar staan mos geskryf: “Wie van die lewe hou en die beste daaruit wil haal, moet ’n wag voor sy mond sit. Hy moet nie lelik praat of hom met allerhande liegstories ophou nie. Hy moet wegbly van alles wat verkeerd is en elke kans aangryp om die goeie te doen. “Bewaar altyd die vrede; dit moet julle lewenstyl wees, want die Here sorg vir die mense wat reg leef en Hy luister graag wanneer hulle met Hom in gebed praat. “Die Here dink niks van mense wat hulle heeltyd met verkeerde dinge ophou nie.” As julle regtig probeer om goed te leef, sal mense julle gewoonlik nie sleg behandel nie. Maar as julle moet swaarkry juis omdat julle doen wat reg is, is julle eintlik gelukkig. Moet net nie vir mense bang word en die kluts kwytraak nie. Julle moet eerder wys dat daar in julle lewe net vir Een plek is, naamlik vir Christus, die Here. As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan. Doen dit mooi, met eerbied vir God, sonder om windmakerig te wees. Sorg dat julle altyd doen wat julle weet reg is. Dit sal die mense wat so lelik van julle praat omdat julle Christelik optree, belaglik maak, juis omdat hulle julle probeer swartsmeer.

1 PETRUS 3:8-16

1 PETRUS 3:8-16 AFR83