1 Konings 9:6-21

1 Konings 9:6-21 ABA

Maar as julle weggaan van My, julle en julle kinders, en julle is nie gehoorsaam aan die wette en gebooie wat Ek vir julle gegee het nie, as julle ander gode gaan dien en julle buig voor hulle, dan sal Ek Israel wegvat uit die land wat Ek vir hulle gegee het en Ek sal hierdie tempel laat verwoes, die tempel wat Ek gewy het om aan My te behoort. Dan sal al die volke praat van die Israeliete en hulle sal die Israeliete spot. Hierdie tempel sal 'n hoop klippe word. Elkeen wat hier verbygaan, sal skrik en fluit en vra: ‘Hoekom het die Here dit gedoen met hierdie land en met hierdie tempel?’ Dan sal die mense sê: ‘Dit het gebeur omdat die Israeliete die Here gelos het, die God wat hulle voorvaders uit Egipte gebring het. Hulle het ander gode begin aanbid en hulle het voor die gode gebuig en hulle gedien. Dit is hoekom die Here al hierdie slegte dinge met hulle laat gebeur het.’ ” Salomo het 20 jaar lank gebou, en toe was die tempel en die paleis klaar. Koning Hiram van Tirus het vir Salomo die sederhout en sipreshout en goud gegee wat Salomo wou hê om die tempel en die paleis te bou. Salomo het daarna vir Hiram 20 stede in die land Galilea gegee. Hiram het gaan kyk na die stede wat Salomo vir hom gegee het, maar Hiram het nie van die stede gehou nie. Hy het gesê: “My vriend, hoekom gee jy vir my hierdie stede? Hulle beteken niks.” Die mense noem daardie plek nou nog “Nikswerd-land.” Hiram het 120 talente goud vir die koning gestuur. Koning Salomo het mense baie hard laat werk om die tempel en sy paleis te bou. Hy het ook die terras en die muur van Jerusalem en die stede Hasor, Megiddo en Geser gebou. Salomo het die stad Geser gekry nadat die farao, die koning van Egipte, die stad Geser oorwin en verbrand het. Hy het die Kanaäniete wat daar gewoon het, doodgemaak en toe het hy die stad vir sy dogter gegee wat met Salomo getroud was. Salomo het die stede Geser en Bet-Goron-Onder weer gebou en ook die stede Baälat en Tamar in die woestyn, in die land Juda. Hy het ook die stede gebou waar hy sy goed gebêre het en die stede waar sy oorlogkarre en sy ryperde was. Salomo het alles gebou wat hy wou bou in Jerusalem en op die Libanon-berg en in die hele land waar hy koning was. Daar was nog stede waar mense gewoon het wat nie Israeliete was nie. Dit was die stede waar die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete gewoon het. Die Israeliete kon hulle nie almal doodmaak nie, en Salomo het hulle kinders wat oorgebly het, laat kom om vir hom te werk, hulle het altyd sy slawe gebly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid