1 Konings 9

9
Die Here verskyn weer aan Salomo
(Kyk ook 2 Kron 7:11-22)
1Nadat Salomo die tempel en die paleis klaar gebou het, en ook al die ander dinge klaargemaak het wat hy wou doen, 2het die Here weer aan Salomo verskyn soos Hy by Gibeon aan hom verskyn het. 3Die Here het vir Salomo gesê: “Ek het gehoor toe jy tot My gebid het en gesoebat het. Ek wy hierdie tempel om aan My te behoort. Ek sal altyd daarvoor sorg en daaraan dink. 4En jy, as jy heeltemal reg lewe voor My, soos jou pa Dawid gelewe het, en jy doen alles wat Ek vir jou sê, as jy doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit, 5dan sal jou nageslag altyd koning wees oor Israel, Ek sal dit laat gebeur. Ek het vir jou pa Dawid gesê: ‘Iemand uit jou nageslag sal altyd op die troon van Israel sit,’ en dit sal so wees. 6Maar as julle weggaan van My, julle en julle kinders, en julle is nie gehoorsaam aan die wette en gebooie wat Ek vir julle gegee het nie, as julle ander gode gaan dien en julle buig voor hulle, 7dan sal Ek Israel wegvat uit die land wat Ek vir hulle gegee het en Ek sal hierdie tempel laat verwoes, die tempel wat Ek gewy het om aan My te behoort. Dan sal al die volke praat van die Israeliete en hulle sal die Israeliete spot. 8Hierdie tempel sal 'n hoop klippe word. Elkeen wat hier verbygaan, sal skrik en fluit en vra: ‘Hoekom het die Here dit gedoen met hierdie land en met hierdie tempel?’ 9Dan sal die mense sê: ‘Dit het gebeur omdat die Israeliete die Here gelos het, die God wat hulle voorvaders uit Egipte gebring het. Hulle het ander gode begin aanbid en hulle het voor die gode gebuig en hulle gedien. Dit is hoekom die Here al hierdie slegte dinge met hulle laat gebeur het.’ ”
Die stede wat Salomo vir koning Hiram gegee het
(Kyk ook 2 Kron 8:1-2)
10Salomo het 20 jaar lank gebou, en toe was die tempel en die paleis klaar. 11Koning Hiram van Tirus het vir Salomo die sederhout en sipreshout en goud gegee wat Salomo wou hê om die tempel en die paleis te bou. Salomo het daarna vir Hiram 20 stede in die land Galilea gegee. 12Hiram het gaan kyk na die stede wat Salomo vir hom gegee het, maar Hiram het nie van die stede gehou nie. 13Hy het gesê: “My vriend, hoekom gee jy vir my hierdie stede? Hulle beteken niks.” Die mense noem daardie plek nou nog “Nikswerd-land.” 14Hiram het 120 talente goud vir die koning gestuur.
Ander dinge wat Salomo gedoen het
(Kyk ook 2 Kron 8:2-16)
15Koning Salomo het mense baie hard laat werk om die tempel en sy paleis te bou. Hy het ook die terras en die muur van Jerusalem en die stede Hasor, Megiddo en Geser gebou. 16Salomo het die stad Geser gekry nadat die farao, die koning van Egipte, die stad Geser oorwin en verbrand het. Hy het die Kanaäniete wat daar gewoon het, doodgemaak en toe het hy die stad vir sy dogter gegee wat met Salomo getroud was. 17Salomo het die stede Geser en Bet-Goron-Onder weer gebou en ook 18die stede Baälat en Tamar in die woestyn, in die land Juda. 19Hy het ook die stede gebou waar hy sy goed gebêre het en die stede waar sy oorlogkarre en sy ryperde was. Salomo het alles gebou wat hy wou bou in Jerusalem en op die Libanon-berg en in die hele land waar hy koning was. 20Daar was nog stede waar mense gewoon het wat nie Israeliete was nie. Dit was die stede waar die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete gewoon het. 21Die Israeliete kon hulle nie almal doodmaak nie, en Salomo het hulle kinders wat oorgebly het, laat kom om vir hom te werk, hulle het altyd sy slawe gebly. 22Maar Salomo het gesê die Israeliete mag nie slawe word nie. Hulle was die manne wat oorlog moes maak en wat die koning moes oppas. Hulle was sy amptenare en offisiere en die hoofde van die soldate op die oorlogkarre en perde. 23Daar was 550 manne wat moes kyk dat Salomo se werkers goed werk. 24Salomo het die terras gebou nadat die farao se dogter uit die Dawidstad getrek het na die huis wat Salomo vir haar gebou het.
25Hy het drie maal elke jaar brand-offers en ete-offers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het en hy het wierook-offers gebrand vir die Here. Dit was nadat hy die tempel klaar gebou het.
Salomo kry goud uit die land Ofir
(Kyk ook 2 Kron 8:17-18)
26Koning Salomo het skepe laat bou in Esjon-Geber. Dit was by die stad Elot langs die strand by die Riet-see, in die land Edom. 27Hiram het matrose gestuur wat die see goed geken het. Hulle was saam met die matrose van Salomo op die skepe. 28Hulle het na die land Ofir gegaan en hulle het vir koning Salomo 420 talente goud gebring.

Tans Gekies:

1 Konings 9: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid