1 KONINGS 9:6-21

1 KONINGS 9:6-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Maar as jy of jou nageslag My verlaat en nie my bevele en gebooie gehoorsaam nie, as julle ander gode dien en voor hulle buig, dan sal Ek Israel uitruk uit hierdie land wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal hierdie tempel wat Ek tot eer van my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel tot ’n voorwerp van spot en hoon onder die volke maak. Al is dit so dat hierdie tempel nou ’n indrukwekkende gebou is, sal dit dan ’n ontstellende gesig word vir almal wat verbygaan. Hulle sal smalend spot en vra: ‘Hoekom het die HERE sulke verskriklike dinge aan sy land en sy tempel gedoen?’ En daar sal geantwoord word: ‘Omdat hulle die HERE hulle God wat hulle voorouers uit Egipte gebring het, vaarwel toegeroep het, ander gode vereer het, voor hulle gebuig en hulle gedien het. Dis hoekom die HERE al hierdie rampe oor hulle gebring het.’” Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel van die HERE en die koninklike paleis te bou. Toe het hy twintig dorpe in Galilea as betaling vir Hiram van Tirus gegee vir al die sederhout, sipreshout en goud wat hy vir die bouprojek nodig gehad het. Hiram het uit Tirus kom kyk hoe die dorpe lyk wat Salomo vir hom gegee het, maar hy was nie daarmee tevrede nie. “Watter soort dorpe is dit wat jy vir my gegee het, my broer?” het hy gevra. “Hierdie dorpe is tog waardeloos!” Daarom word dit tot vandag toe Kabulstreek genoem. Hiram het meer as vier ton goud aan Salomo gelewer. Salomo het dwangarbeid gebruik om die volgende projekte te bou: die tempel van die HERE, die koninklike paleis, die terras en die muur van Jerusalem. Hy het ook die stede Hasor, Megiddo en Geser met hulle herbou. Die farao, koning van Egipte, het Geser verower, die Kanaänitiese inwoners doodgemaak en die stad verbrand. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter gegee toe sy met Salomo getrou het. Daarom het Salomo Geser herbou, asook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn van Juda. Verder het hy voorraadstede gebou en stede waar sy strydwaens en berede mag gehuisves was. Hy het in Jerusalem, die Libanon en dwarsdeur sy hele ryk alles voltooi wat hy hom voorgeneem het om te bou. In die land was daar nog inwoners wat nie Israeliete was nie. Hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete. Hulle was die afstammelinge van die volke wat Israel nie volledig uitgeroei het nie. Salomo het hulle opgekommandeer om dwangarbeid vir hom te doen. Dis vandag nog so.

1 KONINGS 9:6-21 Bybel vir almal (ABA)

Maar as julle weggaan van My, julle en julle kinders, en julle is nie gehoorsaam aan die wette en gebooie wat Ek vir julle gegee het nie, as julle ander gode gaan dien en julle buig voor hulle, dan sal Ek Israel wegvat uit die land wat Ek vir hulle gegee het en Ek sal hierdie tempel laat verwoes, die tempel wat Ek gewy het om aan My te behoort. Dan sal al die volke praat van die Israeliete en hulle sal die Israeliete spot. Hierdie tempel sal 'n hoop klippe word. Elkeen wat hier verbygaan, sal skrik en fluit en vra: ‘Hoekom het die Here dit gedoen met hierdie land en met hierdie tempel?’ Dan sal die mense sê: ‘Dit het gebeur omdat die Israeliete die Here gelos het, die God wat hulle voorvaders uit Egipte gebring het. Hulle het ander gode begin aanbid en hulle het voor die gode gebuig en hulle gedien. Dit is hoekom die Here al hierdie slegte dinge met hulle laat gebeur het.’ ” Salomo het 20 jaar lank gebou, en toe was die tempel en die paleis klaar. Koning Hiram van Tirus het vir Salomo die sederhout en sipreshout en goud gegee wat Salomo wou hê om die tempel en die paleis te bou. Salomo het daarna vir Hiram 20 stede in die land Galilea gegee. Hiram het gaan kyk na die stede wat Salomo vir hom gegee het, maar Hiram het nie van die stede gehou nie. Hy het gesê: “My vriend, hoekom gee jy vir my hierdie stede? Hulle beteken niks.” Die mense noem daardie plek nou nog “Nikswerd-land.” Hiram het 120 talente goud vir die koning gestuur. Koning Salomo het mense baie hard laat werk om die tempel en sy paleis te bou. Hy het ook die terras en die muur van Jerusalem en die stede Hasor, Megiddo en Geser gebou. Salomo het die stad Geser gekry nadat die farao, die koning van Egipte, die stad Geser oorwin en verbrand het. Hy het die Kanaäniete wat daar gewoon het, doodgemaak en toe het hy die stad vir sy dogter gegee wat met Salomo getroud was. Salomo het die stede Geser en Bet-Goron-Onder weer gebou en ook die stede Baälat en Tamar in die woestyn, in die land Juda. Hy het ook die stede gebou waar hy sy goed gebêre het en die stede waar sy oorlogkarre en sy ryperde was. Salomo het alles gebou wat hy wou bou in Jerusalem en op die Libanon-berg en in die hele land waar hy koning was. Daar was nog stede waar mense gewoon het wat nie Israeliete was nie. Dit was die stede waar die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete gewoon het. Die Israeliete kon hulle nie almal doodmaak nie, en Salomo het hulle kinders wat oorgebly het, laat kom om vir hom te werk, hulle het altyd sy slawe gebly.

1 KONINGS 9:6-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

As julle en julle kinders ooit van My afvallig word en my gebooie, my insettinge wat Ek julle voorgehou het, nie onderhou nie, maar ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig, dan sal Ek Israel uit die land uitroei wat Ek hulle gegee het, en die huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp, sodat Israel 'n spreekwoord en 'n spotlied sal word onder al die volke. En hierdie huis wat so hoog is — elkeen wat daarlangs verbygaan, sal hom verbaas en spot, en hulle sal vra: Waarom het die HERE so gedoen met hierdie land en met hierdie huis? Dan sal hulle sê: Omdat hulle die HERE hul God verlaat het wat hulle vaders uit Egipteland uitgelei het, en ander gode aangehang en daarvoor neergebuig en hulle gedien het — daarom het die HERE al hierdie onheil oor hulle gebring. EN aan die einde van twintig jaar waarin Salomo die twee huise, die huis van die HERE en die huis van die koning, gebou het — Hiram, die koning van Tirus, het Salomo gehelp met sederhout en sipreshout en goud soveel as hy wou hê — gee koning Salomo aan Hiram twintig stede in die land Galiléa. En Hiram het uit Tirus uitgetrek om die stede te bekyk wat Salomo hom gegee het, maar hulle was nie reg in sy oë nie. Daarop sê hy: Wat vir stede is dit wat jy my gegee het, my broer? En hulle noem dit die land Kabul, tot vandag toe. En Hiram het aan die koning honderd-en-twintig talente goud gestuur. En dit was die saak van die dwangarbeiders wat koning Salomo laat opkom het om die huis van die HERE en sy huis en Millo en die muur van Jerusalem en Hasor en Megíddo en Geser te bou. (Farao, die koning van Egipte, het opgetrek en het Geser ingeneem en dit met vuur verbrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, gedood en dit as 'n trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee.) So het Salomo dan Geser opgebou en Bet-Horon-Onder en Báälat en Tamar in die woestyn, in die land, en al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en die stede vir die strydwaens en die stede vir die perderuiters en wat Salomo graag wou gebou het in Jerusalem en in die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy. Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, wat nie uit die kinders van Israel was nie — hulle kinders wat ná hulle in die land oorgebly het, wat die kinders van Israel nie met die banvloek kon tref nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid, tot vandag toe.

1 KONINGS 9:6-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Maar as julle en julle nageslag van My af wegdraai en my gebooie en my voorskrifte wat Ek julle gegee het, nie nakom nie en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, sal Ek Israel wegdryf uit die land wat Ek hulle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke. Ja, hoe uitsonderlik hierdie tempel ook al was, elke verbyganger sal dan van verbasing sy asem intrek en fluit en vra: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ En dan sal die mense antwoord: Omdat daardie volk die Here hulle God verlaat het, Hy wat hulle voorvaders uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het die Here al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.” Na afloop van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue opgerig het, die huis van die Here en die koninklike paleis, waarvoor koning Hiram van Tirus aan Salomo soveel sederhout, sipreshout en ook goud gelewer het as wat hy wou hê, het koning Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram oorgedra. Toe Hiram hierdie stede wat Salomo aan hom oorgedra het, uit Tirus gaan besigtig, was hy teleurgestel en het hy gesê: “Wat se stede is dit wat jy vir my gee, my broer!” Daarom dra dit tot vandag nog die naam “Kabulstreek” . Hiram het aan Salomo meer as vier ton goud gelewer. Vir die bou van die huis van die Here en die paleis, die terras en die muur van Jerusalem, en vir die herbou van die stede Hasor, Megiddo en Geser het koning Salomo van dwangarbeid gebruik gemaak. Die farao, die koning van Egipte, het Geser met sy leër ingeneem, dit aan die brand gesteek en die Kanaäniete wat die stad bewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as bruidskat gegee vir sy dogter wat met Salomo getrou het. Salomo het Geser weer opgebou, en ook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn, in die gebied van Juda; verder ook al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Hy het ook al die bouwerk wat hy hom voorgeneem het, voltooi: dié in Jerusalem en ook dié op die Libanon en dwarsdeur die hele land waaroor hy geregeer het. Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, opgeroep om dwangarbeid te doen. Dit is vandag nog so.

1 KONINGS 9:6-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“As julle wel van My afvallig word, julle of julle nageslag, en nie meer my gebooie, my vaste voorskrifte wat Ek aan julle voorgehou het, nakom nie, maar ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig, sal Ek Israel uitroei van die grond af wat Ek hulle gegee het, en die tempel wat Ek geheilig het vir my Naam, sal Ek uit my teenwoordigheid verwyder. Dan sal Israel 'n spreuk en 'n spotnaam word onder al die volke, en hierdie tempel sal 'n puinhoop word. Elkeen wat daar verbygaan, sal verslae wees en fluit en vra, ‘Waarom het die HERE so iets gedoen aan hierdie land en aan hierdie tempel?’ Dan sal hulle antwoord, ‘Omdat hulle die HERE hulle God, wat hulle voorouers uit Egipteland uitgelei het, verlaat en ander gode aangehang het, in aanbidding voor hulle gebuig en hulle gedien het – dit is waarom die HERE al hierdie onheil oor hulle gebring het.’ ” Aan die einde van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue, die huis van die HERE en die koninklike paleis, gebou het, gee koning Salomo toe vir Hiram twintig dorpe in die landstreek Galilea. Hiram, die koning van Tirus, het immers vir Salomo bygestaan met sederhout en sipreshout en goud, soveel as wat hy wou hê. Hiram het uit Tirus vertrek om die dorpe te besigtig wat Salomo vir hom gegee het, maar in sy oë was dit nie goed genoeg nie. Hy het gesê: “Wat is hierdie dorpe wat jy vir my gegee het, my broer?” Hy het dit die gebied van Kabul genoem; dit is vandag nog so. Hiram het immers vir die koning 'n honderd-en-twintig kikkar goud gestuur. Dít was die doel met die verpligte diens waartoe koning Salomo mense opgeroep het: om die huis van die HERE te bou, asook sy eie paleis, die terrasse, die stadsmuur van Jerusalem, Gasor, Megiddo en Geser. Die farao, die koning van Egipte, het voorheen opgetrek en Geser ingeneem. Hy het dit afgebrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee. Salomo het Geser herbou, ook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn van die land, asook al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, die stede vir die strydwaens en die stede vir die perde, ja, wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het. Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, wat nie deel was van die Israeliete nie – dit is nou hulle nageslag wat ná hulle oorgebly het in die land, en wat die Israeliete nie met die banvloek kon tref nie – het Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk, dit is vandag nog so.

1 KONINGS 9:6-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar as julle enigsins van My afwyk, julle of julle kinders, en my gebooie en my insettinge wat Ek julle voorgehou het, nie bewaar nie, maar gaan en ander gode dien en hulle neerbuig. Dan sal Ek Israel uitroei uit die land wat Ek aan hulle gegee het; en hierdie huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp; en Israel sal 'n spreekwoord en 'n spot wees onder al die volke. En by hierdie huis wat hoog is, sal elkeen wat daar verbygaan, hom verbaas en fluit; en hulle sal sê: Waarom het die HERE so met hierdie land en met hierdie huis gedoen? En hulle sal antwoord: Omdat hulle die HERE hulle God verlaat het, wat hulle vaders uit Egipteland uitgelei het, en ander gode gegryp en hulle voor hulle neergebuig en hulle gedien het; daarom het die HERE oor hulle almal gebring hierdie boosheid. En dit het gebeur aan die einde van twintig jaar, toe Salomo die twee huise gebou het, die huis van die HERE en die huis van die koning, Nou het Hiram, die koning van Tirus, vir Salomo met sederbome en sipresbome en met goud voorsien volgens al sy begeertes, en koning Salomo het toe aan Hiram twintig stede in die land Galilea gegee. En Hiram het uit Tirus uitgegaan om die stede te sien wat Salomo hom gegee het; en hulle het hom nie behaag nie. En hy sê: Watter stede is dit wat jy my gegee het, my broer? En hy het hulle die land Kabul genoem tot vandag toe. En Hiram het sestig talente goud na die koning gestuur. En dit is die rede vir die heffing wat koning Salomo opgehef het; om die huis van die HERE te bou en sy huis en Millo en die muur van Jerusalem en Hasor en Megiddo en Geser. Want Farao, die koning van Egipte, het opgetrek en Geser ingeneem en dit met vuur verbrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, gedood en dit as geskenk gegee aan sy dogter, die vrou van Salomo. En Salomo het Geser gebou en Bet-Horon, die onderste, en Baälat en Tadmor in die woestyn, in die land, En al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en stede vir sy strydwaens en stede vir sy ruiters, en wat Salomo wou bou in Jerusalem en op die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy. En al die volk wat oorgebly het van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete wat nie uit die kinders van Israel was nie, Hulle kinders wat ná hulle in die land oorgebly het, wat die kinders van Israel ook nie met die banvloek kon tref nie, op hulle het Salomo tot vandag toe 'n diensbelasting gehef.

1 KONINGS 9:6-21 Die Boodskap (DB)

As jy of iemand uit jou nageslag My nie meer liefhet nie en julle daarom ook nie meer aan My steur nie en ander gode in my plek dien, sal Ek my volk Israel van hierdie grond wat Ek aan hulle gegee het, wegjaag. Ek sal padgee van hierdie tempel af en wanneer hulle my daar aanbid, sal Ek net nie daar wees nie. “Al die aarde se mense sal Israel dan begin spot en verag. Wanneer die tempel tot op die grond afgebreek is, sal elke verbyganger met skok vra: ‘Waarom het die Here dit aan die land en die tempel en sy mense gedoen?’ “Dan sal die mense sê: ‘Dit is omdat hulle die Here hulle God verlaat het. Dit is omdat hulle die God wat hulle destyds uit Egipte gelei het, nie meer liefhet nie. Hulle het voor ander gode gebuig en hulle gedien. Dit is waarom God al hierdie verskriklike dinge met hulle laat gebeur het.’” Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel en die paleis te bou. Koning Hiram van Tirus het al die seder- en dennehout verskaf, asook al die goud wat Salomo nodig gehad het. Nadat alles voltooi is, het Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram gegee. Hiram het opgewonde na die stede gaan kyk, maar was diep teleurgesteld. Hy het nie van een van hulle gehou nie. Hiram het toe vir Salomo gesê: “My vriend, hierdie stede beteken niks, hulle het geen waarde nie.” Vandag nog word hierdie gebied “Kabul” of “Nikswerd” genoem. Hiram was baie ongelukkig, maar hy het die stede aanvaar. Hy het ook nog 4 000 kilogram goud aan Salomo gestuur. Koning Salomo het mense gedwing om die tempel en die paleis te bou. Hy het hulle ook gedwing om die oostekant van die stad met grond op te vul en ’n stadsmuur te bou. Met dwangarbeiders het hy ook die stede Hasor, Megiddo en Geser herbou. Lank gelede het die Egiptiese koning die stad Geser aangeval, dit ingeneem en toe groot dele daarvan afgebrand. Die koning het dit vir Salomo gegee die dag toe hy met sy dogter getroud is. Salomo het dit aanvaar en Geser heeltemal herbou. Hy het egter ook Bet-Horon-Onder, Baälat, Tamar in die Judese woestyn, sy voorraadstede, die stede vir sy perde en sy waens, en alle ander geboue in Jerusalem, die Libanon en op ander plekke in sy koninkryk met die hulp van dwangarbeiders gebou. Salomo se dwangarbeiders het veral uit die nageslag van die Kanaäniete bestaan. Dit was al daardie groepe wat die Israeliete nie doodgemaak het toe hulle destyds die land ingeneem het nie. Onder hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Vandag nog is hulle nageslag die land se werkers.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid