1 Konings 9:6-21

1 Konings 9:6-21 AFR20

“As julle wel van My afvallig word, julle of julle nageslag, en nie meer my gebooie, my vaste voorskrifte wat Ek aan julle voorgehou het, nakom nie, maar ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig, sal Ek Israel uitroei van die grond af wat Ek hulle gegee het, en die tempel wat Ek geheilig het vir my Naam, sal Ek uit my teenwoordigheid verwyder. Dan sal Israel 'n spreuk en 'n spotnaam word onder al die volke, en hierdie tempel sal 'n puinhoop word. Elkeen wat daar verbygaan, sal verslae wees en fluit en vra, ‘Waarom het die HERE so iets gedoen aan hierdie land en aan hierdie tempel?’ Dan sal hulle antwoord, ‘Omdat hulle die HERE hulle God, wat hulle voorouers uit Egipteland uitgelei het, verlaat en ander gode aangehang het, in aanbidding voor hulle gebuig en hulle gedien het – dit is waarom die HERE al hierdie onheil oor hulle gebring het.’ ” Aan die einde van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue, die huis van die HERE en die koninklike paleis, gebou het, gee koning Salomo toe vir Hiram twintig dorpe in die landstreek Galilea. Hiram, die koning van Tirus, het immers vir Salomo bygestaan met sederhout en sipreshout en goud, soveel as wat hy wou hê. Hiram het uit Tirus vertrek om die dorpe te besigtig wat Salomo vir hom gegee het, maar in sy oë was dit nie goed genoeg nie. Hy het gesê: “Wat is hierdie dorpe wat jy vir my gegee het, my broer?” Hy het dit die gebied van Kabul genoem; dit is vandag nog so. Hiram het immers vir die koning 'n honderd-en-twintig kikkar goud gestuur. Dít was die doel met die verpligte diens waartoe koning Salomo mense opgeroep het: om die huis van die HERE te bou, asook sy eie paleis, die terrasse, die stadsmuur van Jerusalem, Gasor, Megiddo en Geser. Die farao, die koning van Egipte, het voorheen opgetrek en Geser ingeneem. Hy het dit afgebrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee. Salomo het Geser herbou, ook Bet-Goron-Onder, Baälat en Tamar in die woestyn van die land, asook al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, die stede vir die strydwaens en die stede vir die perde, ja, wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het. Al die mense wat oorgebly het van die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, wat nie deel was van die Israeliete nie – dit is nou hulle nageslag wat ná hulle oorgebly het in die land, en wat die Israeliete nie met die banvloek kon tref nie – het Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk, dit is vandag nog so.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid