Toe het Elia vir al die mense gesê: “Kom nader na my toe.”
Hulle het nader gekom. Elia het die altaar van die Here wat stukkend was, weer reggemaak. Hy het twaalf klippe geneem, een vir elke stam, die nageslag van die seuns van Jakob. Jakob was die man vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”
Elia het die klippe in die altaar van die Here ingebou. Rondom die altaar het Elia 'n sloot gegrawe. Die sloot was so diep dat dit twee sea saad kon hou. Daarna het hy die hout reggesit en die bul in stukke gesny en bo-op die hout gesit. Toe sê Elia: “Julle moet vier kruike vol water maak en dit oor die brand-offer en die hout uitgooi.”
Elia het gesê hulle moet dit weer doen, en toe ook 'n derde maal. Die water het oor die altaar geloop en dit het ook die sloot volgemaak. Laat die middag, toe dit tyd was om die koring-offer te bring, het die profeet Elia by die altaar gaan staan en hy het gesê: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat almal vandag sien dat U die God in die land Israel is. Laat almal ook sien dat ek u dienaar is, en dat dit U is wat vir my gesê het ek moet al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie mense kan weet dat U, die Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte verander.”
Daar het toe vuur van die Here afgekom. Dit het die brand-offer en die hout en die klippe en die grond alles verbrand. Daar was nie meer water in die sloot nie, die sloot het droog geword. Toe die mense dit sien, het hulle almal gebuig, hulle gesigte was teen die grond. Hulle het gesê: “Die Here, Hy is God! Die Here, Hy is God!”
Elia het vir hulle gesê: “Vang die profete van Baäl, julle moenie dat een van hulle wegkom nie!”
Hulle het die profete gevang, en Elia het die profete laat bring na die Kison-rivier. Daar het hy hulle doodgemaak. Toe het Elia vir Agab gesê: “Jy moet gaan eet, want ek hoor al klaar hoe val die reën.”
Agab het gaan eet, en Elia het tot bo-op Karmel-berg geklim. Daar het hy gebuig tot teen die grond en hy het sy kop tussen sy knieë gesit. Hy het vir die jongman by hom gesê: “Gaan asseblief op en gaan kyk na die see.”
Die jongman het hoër opgegaan en gekyk en gesê: “Daar is niks.”
Elia het gesê die jongman moet weer gaan kyk, sewe maal. En toe die jongman dit die sewende maal gedoen het, het hy kom sê: “Daar kom 'n klein wolkie op uit die see, die wolkie is so groot soos 'n man se hand.”
Toe sê Elia: “Gaan sê vir Agab hy moet sy perde inspan en afgaan. As hy dit nie doen nie, dan sal die reën hom keer en hy sal nie kan wegkom nie.”
Terwyl Elia gepraat het, het die lug swart geword van die wolke en daar was wind en baie reën. Agab het op sy wa geklim en hy het na die stad Jisreël gegaan. Maar die Here het vir Elia sterk gemaak. Elia het sy klere vasgebind en hy het voor Agab gehardloop tot by Jisreël.