PSALMS 80:1-9

PSALMS 80:1-9 NLV

Luister tog, Herder van Israel, U wat Josef soos ’n kudde gelei het. U wat oor die gerubs troon, verskyn tog in u heerlikheid aan Efraim, Benjamin en Manasse. Toon ons u magtige krag! Kom tot ons redding! O God, herstel ons tog! Laat u guns weer oor ons skyn sodat ons gered kan word. HERE, God die Almagtige, hoe lank sal U kwaad bly ten spyte van u volk se gebede? U het vir hulle trane as kos gegee, ’n beker vol droefheid laat drink. U maak ons tot ’n voorwerp van twis vir ons bure. Ons vyande dryf met ons die spot. God Almagtig, herstel ons tog. Laat u guns weer oor ons skyn sodat ons gered kan word. U het ’n wingerdstok uit Egipte gaan haal. U het nasies verdryf en dit hier geplant.