PSALMS 35:17-28

PSALMS 35:17-28 NLV

Hoe lank, HERE, sal U net toekyk? Red my van hulle vernietiging, beskerm my van hulle wat my lewe soos leeus bedreig. Dan sal ek U dank in die groot vergadering; ek sal U prys voor die groot skare van mense. Moenie toelaat dat my verraderlike vyande oor my lekkerkry, of dat hulle wat my sonder rede haat, hulle verlekker oor my leed nie. Hulle praat nie oor vrede nie, maar bedink vals beskuldigings teen onskuldige mense. Hulle rek hulle monde oop teen my en sê: “Aha! Aha! Ons het dit met ons eie oë gesien!” HERE, U het alles gesien. Moenie stilbly nie! Here, moenie ver van my af wees nie. Word wakker! Staan op! Kom tot my verdediging! Verdedig my saak, my God en my Here! Gee uitspraak oor my in ooreenstemming met u regverdigheid, HERE my God. Moenie dat hulle oor my lekkerkry nie. Moenie dat hulle sê: “Dis net wat ons wou hê!” nie. Moenie dat hulle sê: “Ons het hom vernietig!” nie. Mag hulle wat juig oor my nood, verneder word en in skande kom. Mag hulle wat op my neersien met skaamte en oneer bedek word. Laat hulle wat juig oor my vryspraak, uitroep van vreugde en blydskap. Laat hulle voortdurend sê: “Groot is die HERE wat Hom verheug in die vrede van sy dienaar.” Ek sal u geregtigheid verkondig, ek sal U die hele dag lank prys.