PSALMS 115:1-18

PSALMS 115:1-18 NLV

Nie aan ons nie, HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom toe die eer op grond van u liefde en u trou. Waarom sou die nasies dan sê: “Nou waar is hulle God?” Maar ons God is in die hemel en Hy maak soos Hy wil. Húlle afgode is van silwer en goud, deur mensehande gemaak. Hulle het monde, maar praat nie, hulle het oë, maar kan nie sien nie. Hulle het ore, maar kan nie hoor nie, ook het hulle neuse, maar kan nie ruik nie; hulle het hande, maar kan nie voel nie, hulle het voete, maar kan nie loop nie. Hulle kan nie eers geluide maak met hulle kele nie! Hulle makers sal net soos hulle afgode wees, so ook almal wat op hulle vertrou. Israel, vertrou op die HERE! Hy is hulle helper, Hy is hulle skild. Huis van Aäron, vertrou op die HERE! Hy is hulle helper, Hy is hulle skild. Julle almal wat die HERE dien, vertrou op die HERE! Hy is hulle helper, Hy is hulle skild. Die HERE dink aan ons en seën ons. Hy seën die huis van Israel, Hy seën die huis van Aäron, Hy seën hulle wat die HERE dien, sowel klein as groot. Mag die HERE julle vermeerder, julle en julle kinders. Mag die HERE julle seën, Hy wat hemel en aarde gemaak het. Die hemele behoort aan die HERE, maar die aarde het Hy vir die mensdom gegee. Dooies kan die HERE nie prys nie, ook nie hulle wat die grafstilte binnegaan nie. Maar óns kan die HERE loof, nou en vir altyd! Prys die HERE!