PSALMS 115:1-18

PSALMS 115:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Here, U moenie sê dat mense ons moet respekteer nie, U moenie dit sê nie. U moet sê dat die mense ú Naam moet respekteer, want U doen wat U belowe het en U bly dieselfde. Die volke vra: “Waar is hulle God?” Hoekom vra hulle dit? Ons God is in die hemel, en Hy doen alles wat Hy wil doen. Die volke se afgode is van silwer of goud, mense het die afgode gemaak. Hulle het monde, maar hulle kan nie praat nie, hulle het oë, maar hulle kan nie sien nie, hulle het ore, maar hulle kan nie hoor nie, hulle het neuse, maar hulle kan nie ruik nie, hulle het hande, maar hulle kan nie voel nie, hulle het voete, maar hulle kan nie loop nie. Daar kom niks uit hulle keel wat 'n mens kan hoor nie. Die mense wat die afgode gemaak het, is soos die afgode, en almal wat op die afgode vertrou, is ook soos hulle. Die Israeliete moet op die Here vertrou, Hy help hulle en Hy beskerm hulle. Die nageslag van Aäron moet op die Here vertrou, Hy help hulle en Hy beskerm hulle. Die mense wat die Here dien, moet op Hom vertrou, Hy help hulle en Hy beskerm hulle. Die Here het ons onthou, Hy sal ons seën, Hy sal die volk Israel seën, Hy sal die nageslag van Aäron seën, Hy sal die mense seën wat Hom dien, die mense wat belangrik is en die mense wat nie belangrik is nie. Ek bid dat die Here julle meer sal laat word, julle en julle kinders. Ek bid dat die Here julle sal seën, Hy wat die hemel en die aarde gemaak het. Die hemel is die Here se hemel, maar Hy het die aarde vir die mense gegee. Mense wat dood is, mense wat in die grafte is waar dit stil is, hulle prys nie die Here nie. Maar ons? Ons sal die Here prys, nou en altyd.

PSALMS 115:1-18 Die Boodskap (DB)

Dit is nie ons mense wat eer moet kry nie, Here! Ek wil dit herhaal: Nie ons nie, maar U alleen verdien eer. U het u kinders baie lief. U laat hulle nooit in die steek nie. Ek kan dit nie verstaan nie. Waarom spot mense wat ander gode dien met ons wanneer hulle sê: “Waar is hulle God dan?” Ons God bly bo in die hemel. Hy doen alles wat Hy wil. Daardie mense dien dooie gode. Dit kan geld wees of ander goed wat kosbaar lyk. Dit is alles dinge wat mense fabriseer. Dit beteken net mooi niks. Dit lyk of hulle kan praat, maar hulle maak geen geluid nie. Verder lyk dit of hulle kan sien, maar hulle is stokblind. Ook lyk dit of hulle kan hoor, maar hulle reageer op geen geluid nie. Daar is ’n nagemaakte neus wat nie kan ruik nie. Hulle hande kan niks raak vat nie. Met hulle voete kan hulle nie ’n tree loop nie. Hulle is stom soos ’n klomp dooie klippe. Mense wat sulke dooie gode maak om te aanbid, is net so hopeloos soos hulle handewerk. Hulle glo eintlik aan niks en het niks om op te vertrou nie. Kinders van die Here, julle moet op Hom vertrou! Hy help en beskerm sy kinders. Julle wat in die huis van God die Here dien en aanbid, vertrou op Hom! Hy help en beskerm sy kinders. Julle wat die Here dien, vertrou op Hom! Hy help julle en Hy beskerm julle. Die Here dink aan ons: Hy gee vir ons goeie dinge. Hy laat dit goed gaan met sy kinders wat Hom dien. Hy gee goeie dinge aan almal wat Hom dien en aanbid, klein en groot. Die Here sal vir julle ’n baie groot nageslag gee en julle baie maak. Hy wat alles in die wêreld gemaak het, sal julle baie gelukkig maak. Onthou net: Die Here bly in die hemelse wêreld. Die mens se blyplek is op die aarde! Daar is ’n groot verskil tussen Hom en mense. As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here!