NEHEMIA 9:32-38

NEHEMIA 9:32-38 NLV

“U is ons God, U is groot en magtig! U is die ongelooflike God. U hou die verbond en is getrou in u liefde. Moet tog nie al ons swaarkry geringskat nie. Ons en ons konings, ons leiers, priesters, profete, ons voorouers en die hele volk het gely vanaf die tyd van die Assiriese konings tot vandag toe. Elke keer as U ons straf, was dit regverdig. U was reg, ons het verkeerd gedoen. Ons konings en leiers, priesters en voorouers was ongehoorsaam aan u wet. Hulle het hulle nie gesteur aan u bevele en u waarskuwings nie. Selfs in die tyd toe hulle eie konings oor hulle regeer het en U hulle baie voorspoedig gemaak het, het hulle U nie gedien nie. Al het U vir hulle ’n groot, vrugbare land gegee, het hulle nog steeds aangehou om verkeerde dinge te doen. “En nou is ons vandag slawe! U het vir ons voorouers ’n vrugbare land gegee waar hulle voorspoed kon geniet. Nou is ons slawe daarin! Die oorvloed van die land behoort nou aan die konings wat U aangestel het om oor ons te heers. Omdat ons gesondig het, het hulle mag oor ons en ons vee. Ons kry baie swaar, want hulle doen met ons net wat hulle wil. “Ten spyte hiervan maak ons ’n plegtige belofte wat ons op skrif stel. Op hierdie verseëlde dokument staan die name van ons leiers, ons Leviete en priesters.”