MALEAGI 3:6-15

MALEAGI 3:6-15 NLV

“Ek is die HERE, Ek verander nie. Daarom, nageslag van Israel, is julle nie heeltemal uitgewis nie. Van die tyd van julle voorouers af het julle afgewyk van my voorskrifte en hulle nie gehoorsaam nie.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Keer terug na My toe en Ek sal na julle toe terugkeer. Maar julle vra: ‘Hoe moet ons terugkeer?’ “Sal mense God ooit besteel? Tog het julle My bedrieg! Julle vra: ‘Wat bedoel U? Wanneer het ons U ooit bedrieg?’ Julle het die tiendes en offerandes gesteel! Daar rus ’n vloek op julle, want julle hele volk besteel My.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Bring al die tiendes na die stoorkamers sodat daar genoeg kos in my tempel kan wees. Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!” Die HERE, die Almagtige, sê: “Ek sal sorg dat insekte julle oes nie verwoes nie en julle wingerde op die landerye nie misluk nie. Dan sal al die nasies julle as geseënd beskou omdat julle land begeerlik is.” Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê. Die HERE sê: “Julle sê verskriklike dinge van My. Maar julle sê: ‘Wat het ons van U gesê?’ Julle het gesê: ‘Dis tevergeefs om God te dien. Wat het ons daarby gebaat om sy voorskrifte na te kom of om die HERE, die Almagtige, te wys dat ons berou het oor ons sonde? Kwaaddoeners word ryk, en mense wat God uitdaag, kom skotvry daarvan af. Daarom sal ons voortaan sê: Verwaande mense is gelukkig.’”