JOHANNES 14:18-31

JOHANNES 14:18-31 NLV

“Ek sal julle nie soos wesies in die steek laat nie; Ek kom terug na julle toe. Nog net ’n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie, maar julle sien My nog, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Op daardie selfde dag sal julle goed weet dat Ek in ’n hegte verhouding met my Vader leef, en julle met My, en Ek met julle. “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.” Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Jesus: “Here, wat het gebeur dat U Uself aan ons wil bekendmaak, maar nie aan die wêreld nie?” Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan. Wie My egter nie liefhet nie, is nie gehoorsaam aan my woorde nie. Die boodskap wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het. Ek sê dit nou al lank vir julle, terwyl Ek nog by julle is; en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. “Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie. Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, en kom weer terug na julle toe. As julle My liefhet, sou julle opgewonde gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter is as Ek. Ek sê dit nou al solank vir julle, nog voordat dit gaan gebeur, sodat julle moet glo wanneer dit ook al gebeur. “Ek sal nie meer baie langer met julle praat nie, want die regeerder van hierdie wêreld is op pad, alhoewel hy geen houvas op My het nie. Die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom nougeset doen wat die Vader aan My opgedra het. Staan op, laat ons hiervandaan vertrek!”