JOHANNES 14:18-31

JOHANNES 14:18-31 Bybel vir almal (ABA)

Ek los julle nie alleen soos kinders wat nie 'n pa en ma het nie. Ek kom weer terug na julle toe. Ná 'n kort tydjie sal die mense wat aan die wêreld behoort, My nie meer sien nie, maar julle sal My sien. En omdat Ek altyd lewe, sal julle ook lewe. Dan sal julle weet Ek is by die Vader en julle is by My en Ek is by julle. As julle weet wat Ek wil hê julle moet doen, en julle doen dit, dan wys julle dat julle lief is vir My. As julle lief is vir My, dan sal my Vader ook lief wees vir julle. Dan sal Ek ook lief wees vir julle en Ek sal vir julle wys wie Ek is.” Toe sê Judas vir Hom: “Here, ons verstaan dit nie: Hoe sal U net vir óns wys wie U is, maar nie vir die mense van die wêreld nie?” Dit was nie Judas Iskariot nie, dit was 'n ander dissipel, sy naam was ook Judas. Jesus het vir hom gesê: “As mense lief is vir My, dan sal hulle doen wat Ek vir hulle sê, en my Vader sal lief wees vir hulle. Dan sal Ek en die Vader na hulle toe kom en by hulle bly. Maar mense wat nie lief is vir My nie, doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Julle moet onthou, die dinge wat Ek vir julle sê, kom nie van My nie. Dit kom van die Vader wat My na die wêreld gestuur het. Ek het hierdie dinge vir julle gesê terwyl Ek nog by julle was. Later, wanneer Ek weggegaan het, sal die Vader vir julle 'n Helper stuur om by julle te wees omdat Ek nie meer by julle is nie. Die Helper is die Heilige Gees. Hy sal vir julle alles leer. Ja, Hy sal julle laat onthou wat Ek vir julle gesê het. Nou gaan Ek weg en Ek laat vrede by julle bly. Ja, Ek gee my vrede vir julle. Maar Ek gee nie vrede soos die mense van die wêreld vrede gee nie. Julle moenie bang en ontsteld wees nie. “Julle het gehoor dat Ek vir julle sê Ek gaan weg, en Ek kom weer terug na julle toe. As julle lief is vir My, dan sal julle bly wees dat Ek teruggaan na die Vader, want Hy is belangriker as Ek. Ek het nou vir julle alles vertel voordat dit gebeur, sodat julle in My sal glo wanneer dit gebeur. Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die Satan, die leier van die mense van die wêreld, kom. Hy is nie sterker as Ek nie, maar Ek wil graag hê die mense van die wêreld moet weet dat Ek lief is vir die Vader. Daarom doen Ek alles wat die Vader vir My gesê het. Julle moet nou opstaan, want ons moet gaan.”

JOHANNES 14:18-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog 'n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het. Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie. Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek. En nou het Ek dit aan julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie. Maar dat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen net soos die Vader My beveel het — staan op, laat ons hiervandaan weggaan.

JOHANNES 14:18-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle. “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.” Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?” Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s'n wat My gestuur het. “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het. “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

JOHANNES 14:18-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog 'n kort tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek leef en julle sal leef. Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle. Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.” Judas, nie Judas Iskariot nie, vra Hom toe: “Here, hoe is dit dat U Uself aan ons gaan bekend maak en nie aan die wêreld nie? ” Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My egter nie liefhet nie, neem nie my woorde ter harte nie. Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van die Vader wat My gestuur het. “Dit het Ek vir julle gesê terwyl Ek by julle gebly het. Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie. Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader gaan, omdat die Vader groter as Ek is. En nou het Ek dit vir julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle, wanneer dit gebeur, kan glo. Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die heerser van die wêreld is aan die kom, en hy het nie mag oor My nie. Maar sodat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen soos wat die Vader aan My opgedra het, staan op, laat ons hiervandaan weggaan! ”

JOHANNES 14:18-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek sal jou nie troosteloos laat nie: Ek sal na jou toe kom. Nog 'n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My; omdat Ek lewe, sal julle ook lewe. In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. Wie my gebooie het en dit bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, sal deur my Vader liefgehê word, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. Judas sê vir Hom, nie Iskariot nie, Here, hoe is dit dat U Uself aan ons sal openbaar en nie aan die wêreld nie? Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woorde bewaar; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Wie My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar die Vader s'n wat My gestuur het. Hierdie dinge het Ek tot julle gespreek terwyl ek nog by julle was. Maar die Trooster, wat die Heilige Gees is, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat jou hart nie ontsteld word nie, en laat dit nie bevrees word nie. Julle het gehoor hoe Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg en kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees, omdat Ek gesê het: Ek gaan na die Vader, want my Vader is groter as Ek. En nou het Ek dit aan julle gesê voordat dit gebeur het, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. Hierna sal ek nie veel met julle praat nie, want die owerste van hierdie wêreld kom en het niks in My nie. Maar dat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet; en soos die Vader My beveel het, so doen Ek. Staan op, laat ons hiervandaan gaan.

JOHANNES 14:18-31 Die Boodskap (DB)

“Ek self sal ook na ’n rukkie na julle toe terugkom. Ek sal julle nie soos verlore weeskinders hulpeloos en alleen los nie. Maar wanneer Ek terugkom, sal Ek nie wees soos Ek nou is nie. Ongelowige mense sal My glad nie kan sien nie. Julle sal My goed kan ‘sien’, en weet julle hoekom? Julle sal nie meer net fisiek lewe nie, maar geestelik ook, net soos Ek. Julle sal dan agterkom hoe intiem die verhouding tussen My en my Vader is. Net so intiem sal julle verhouding met My en my verhouding met julle wees. “Julle sal die persoon wat My regtig liefhet duidelik kan uitken. Hy sal weet wat Ek van hom verwag en dit ook doen. As iemand so lojaal teenoor My is, sal my Vader ook lojaal teenoor hom wees. Natuurlik sal Ek self ook lojaal teenoor hom wees en Ek sal vir hom al duideliker wys wie Ek regtig is.” Judas (nie Judas Iskariot nie) vra toe: “Here, hoe is dit dat U vir ons duideliker gaan wys wie U is, maar dat die ongelowiges dit nie eens sal agterkom nie?” Jesus antwoord toe: “Wel, Judas, die saak staan so. Daar is twee soorte mense: die mense wat My liefhet, en die mense wat niks met My te doen wil hê nie. Die mense wat My liefhet, neem alles wat Ek sê baie ernstig op; die ander steur hulle nie daaraan nie. God staan 100% agter hulle wat my woorde ernstig opneem, want dit is mos eintlik God self se woorde. Weet julle, my Vader en Ek sal al twee op ’n baie intieme manier deel word van daardie persoon se lewe. Ek sê dit vir julle terwyl Ek nog hier by julle is. Later sal my Vader vir julle julle spesiale Helper, die Heilige Gees, stuur. Hy sal namens My kom en sorg dat julle alles goed sal onthou wat Ek vir julle gesê het. “Julle hoef nie bekommerd te wees nie. Ek los ook vir julle ’n geskenk wanneer Ek weggaan: vrede! Moet dit egter nie verwar met die oppervlakkige vrede van hierdie wêreld nie. Dit is vrede wat iemand net by My kan kry. Daarom hoef julle nie gespanne of selfs bang te voel oor die toekoms nie. Julle weet mos wat Ek beloof het: ‘Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe.’ As julle My liefhet, sal julle eintlik bly wees dat Ek na my Vader toe gaan, want Hy is nog belangriker as Ek. Ek vertel julle hierdie dinge nou al, sodat julle kan weet wat om te verwag. Wanneer die dinge dan gebeur, sal dit maak dat julle My net al hoe meer vertrou. Die tyd vir praat raak nou min. Die duiwel maak reg vir sy aanval. Party mense dink mos hy is baas in die wêreld. Maar hy staan nie die geringste kans nie. Hy het klaar verloor, want hy het nie ’n houvas op My nie. Ek doen egter hierdie dinge wat my Vader van My vra, sodat die mense kan besef hoe lief Ek vir my Vader is. Kom, dit is tyd om te gaan.”

JOHANNES 14:18-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Ek sal julle nie soos wesies in die steek laat nie; Ek kom terug na julle toe. Nog net ’n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie, maar julle sien My nog, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Op daardie selfde dag sal julle goed weet dat Ek in ’n hegte verhouding met my Vader leef, en julle met My, en Ek met julle. “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.” Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Jesus: “Here, wat het gebeur dat U Uself aan ons wil bekendmaak, maar nie aan die wêreld nie?” Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan. Wie My egter nie liefhet nie, is nie gehoorsaam aan my woorde nie. Die boodskap wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het. Ek sê dit nou al lank vir julle, terwyl Ek nog by julle is; en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. “Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie. Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, en kom weer terug na julle toe. As julle My liefhet, sou julle opgewonde gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter is as Ek. Ek sê dit nou al solank vir julle, nog voordat dit gaan gebeur, sodat julle moet glo wanneer dit ook al gebeur. “Ek sal nie meer baie langer met julle praat nie, want die regeerder van hierdie wêreld is op pad, alhoewel hy geen houvas op My het nie. Die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom nougeset doen wat die Vader aan My opgedra het. Staan op, laat ons hiervandaan vertrek!”