ESEGIËL 44

44
Regeerders, Leviete en priesters
1Die man het my teruggebring na die ingang aan die oostekant van die buitenste muur, maar dit was gesluit. 2Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie ingang moet gesluit bly. Dit mag nooit weer oopgemaak word nie. Niemand mag daar ingaan nie, want die Here, die God van Israel, het daar ingegaan. Dit moet altyd gesluit bly. 3Net die regeerder mag binne hierdie ingang gaan sit om in die Here se teenwoordigheid fees te vier. Maar hy mag net deur die ingang se voorportaal kom en gaan.”
4Die man het my toe deur die noordelike ingang na die voorkant van die tempel geneem. Ek het gekyk en gesien dat die heerlikheid van die Here die tempel van die Here gevul het. Ek het voor Hom neergeval.
5Die Here sê toe vir my: “Mensekind, let goed op. Gebruik jou oë en ore. Luister sorgvuldig wat Ek vir jou sê oor die bepalings rakende die Here se tempel. Let goed op wie in die tempel toegelaat mag word en wie nie daar mag inkom nie. 6Gaan sê vir hierdie opstandelinge, die mense van Israel, die oppermagtige Here sê: Volk van Israel, dis genoeg van julle afskuwelike dade! 7Julle het vreemdelinge wat onbesnede is in my heiligdom gebring, mense wie se harte ver van My is. So het julle die tempel onteer terwyl julle terselfdertyd kos, vet en bloed aan My geoffer het. So het julle naas al julle ander afskuwelike sondes die ooreenkoms verbreek. 8In plaas daarvan dat julle die tempeldiens reg uitgevoer het, het julle ander gehuur om dit vir julle te doen.
9“So sê die oppermagtige Here: Geen vreemdelinge, ook nie dié wat tussen die mense van Israel bly, mag in my heiligdom kom as hulle nie besny is en die Here liefhet nie. 10Die Leviete wat hulle rug op My gedraai het toe Israel van My weggedwaal het om afgode te aanbid, moet nou die gevolge van hulle ontrouheid dra. 11Hulle mag tempelwagte en tempelbediendes wees, en hulle mag die diere slag wat as brandoffers geslag word en my mense help.
12“Maar hulle het my volk aangemoedig om afgode te aanbid sodat Israel in sonde geval het. Daarom het Ek ’n eed gesweer dat hulle die straf vir hulle sondes moet dra, sê die oppermagtige Here. 13Hulle mag nie voor My kom om as priesters te dien nie. En hulle mag nie enige van die heilige voorwerpe of heilige offers aanraak nie. Hulle moet die skande dra van al die sondes wat hulle gedoen het. 14Hulle mag in die tempel as bediendes werk om die tempel te onderhou en diens te verrig.
15“Die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok het getrou in die tempel gewerk in die tyd toe Israel My vir hulle afgode verruil het. Daarom mag hulle voor My kom om My te bedien. Hulle mag in my teenwoordigheid staan om vet en bloed van offers te bring, sê die oppermagtige Here. 16Net hulle mag in my heiligdom kom en voor my tafel gaan staan om My te bedien. Hulle voldoen aan al my bepalings. 17Wanneer hulle by die ingang van die binneste hof ingaan, mag hulle net linneklere dra. Hulle mag nie iets van wol dra terwyl hulle aan diens is in die binneste hof of in die tempel self nie. 18Hulle moet kopdoeke en onderklere van linne dra. Hulle mag nie iets dra wat hulle laat sweet nie. 19Wanneer hulle uitgaan na die buitenste hof waar die volk is, moet hulle eers die klere uittrek waarin hulle My bedien het. Hulle moet dit in die gewyde kamers los en ander klere aantrek sodat hulle nie die volk skade aandoen deurdat hulle hulle heiligheid dalk met hulle klere aan hulle oordra nie.
20“Hulle mag nie hulle hare te lank laat groei of dit heeltemal afsny nie. Hulle moet dit netjies sny. 21Priesters mag nie wyn drink net voor hulle die binneste hof ingaan nie. 22Hulle moet vroue kies net uit die ongetroude vroue van Israel of uit die weduwees van die priesters. Hulle mag nie met ander weduwees of geskeide vroue trou nie. 23Hulle moet my volk leer wat die verskil is tussen die heilige en die alledaagse, en hoe om te onderskei tussen wat rein en wat besoedel is.
24“Wanneer daar onmin tussen my mense is, sal hulle as regters optree en uitspraak gee. Hulle besluite moet gebaseer wees op my bepalings. En die priesters moet ook my voorskrifte en bepalings vir al die heilige feeste uitvoer. Hulle moet toesien dat die Sabbat as ’n heilige dag geëer word. 25’n Priester mag nooit homself besoedel deur by ’n lyk te kom nie, behalwe as dit sy pa of ma, kind of broer of ongetroude suster is. In sulke gevalle word dit toegelaat. 26Dan mag hy weer in die tempel werk eers nadat hy hom gereinig het en dan sewe dae gewag het. 27Die eerste dag terug by die werk, as hy die binneste hof en heiligdom ingaan, moet hy ’n sonde-offer vir homself bring, sê die oppermagtige Here.
28“Wat grond betref, mag die priesters niks besit nie, want Ek is hulle erfdeel. 29Hulle kos kom van die geskenke en offers wat die volk na die tempel bring, die graanoffers, sonde-offers en skuldoffers. Wat vir die Here eenkant gesit word#44:29 Grondteks Elke toegewyde ding in Israel. Die term verwys na totale toewyding aan die Here deur dit te vernietig of as offer te gee., behoort aan die priesters. 30Die eerste van die ryp vrugte en al die ander gawes soos die eerste deel van die graanoes wat vir die Here gebring word, gaan na die priesters. Dit moet vir die priesters van die Here gegee word sodat die Here julle huise sal seën. 31Die priesters mag nooit vleis eet van ’n voël of dier wat vanself gevrek het of deur ’n ander dier doodgemaak is nie.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 44: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid