ESEGIËL 43

43
Die Here se heerlikheid kom terug
1Hierna het die man my teruggeneem na die oostelike ingang. 2Skielik het die heerlikheid van die God van Israel vanuit die ooste verskyn. Dit het geklink soos wanneer baie waters aangerol kom. Die hele wêreld het geskitter van sy heerlikheid. 3Wat ek gesien het, het ooreengekom met wat ek die ander kere by die Kebarrivier gesien het en toe Hy gekom het om Jerusalem te vernietig. En ek het voor Hom neergeval. 4Die heerlikheid van die Here het die tempel deur die oostelike ingang binnegegaan.
5Die Gees het my toe na die binneste hof geneem, en die heerlikheid van die Here het die tempel gevul. 6En ek het gehoor iemand praat met my in die tempel. Die man wat die afmetings gedoen het, het nog steeds langs my gestaan. 7En die Here het vir my gesê: “Mensekind, hier is die plek waar my troon staan en waar Ek my voete laat rus. Ek sal vir altyd hier bly, tussen die mense van Israel. Hulle en hulle konings sal My nie meer onteer deur ander gode te aanbid of monumente vir hulle dooie konings op te rig nie#43:7 Grondteks of deur pilare op hulle hoë plekke op te rig nie.. 8Hulle het altare vir hulle afgode langs my altaar gesit met net ’n muur tussenin. So het hulle My onteer deur hulle afskuwelike dade. Ek het hulle in my woede vernietig. 9Laat hulle nou hulle afgode en die monumente waarmee hulle hulle konings vereer het, wegvat. Dan sal Ek altyd tussen hulle woon.
10“Mensekind, beskryf die tempel vir die mense van Israel soos Ek jou gewys het. Sê vir hulle hoe dit lyk en wat die plan is sodat hulle kan skaam kry oor al hulle sondes. 11En wanneer hulle skaam is oor alles wat hulle gedoen het, beskryf vir hulle al die spesifikasies van sy konstruksie, ook sy ingange en deure en die bepalings daarvoor. Skryf hierdie spesifikasies neer terwyl hulle kyk sodat hulle dit kan onthou en die voorskrifte onderhou. 12Dit is die basiese vereistes van die tempel: absolute heiligheid. Die top van die berg waarop die tempel gebou is, is heilig. Ja, dit is die wet vir die tempel.”
Die altaar
13“Hier is die afmetings van die altaar#43:13a Grondteks afmetings van die altaar in lang el, elke el is ’n el en ’n handbreedte in lengte. In hierdie hoofstuk word afstandmate bereken deur die Hebreeuse lang el te gebruik, wat 53 sentimeter lank is.: Daar is ’n voor rondom die altaar wat ’n half meter diep en ’n half meter breed is, en sy rand was rondom ’n kwart meter#43:13b Grondteks een span (23 sentimeter). breed. Dit is die hoogte van die altaar: 14Van die afleivoor af na die onderste vlak toe was die hoogte een meter. Die vlak was ’n half meter wyer as die volgende. Van die onderste na die boonste vlak toe was die hoogte twee meter. 15Die bokant van die altaar, die vuurmaakplek, was twee meter hoog, met ’n horing aan elkeen van die vier hoeke. 16Die bokant van die altaar was vierkantig, ses meter lank en net so breed. 17Die boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter lank en net so breed. Die afleivoor onder het ’n rand van ’n kwart meter breed gehad en was rondom ’n half meter diep. Daar was trappe aan die oostekant van die altaar.”
18Hy het vir my gesê: “Mensekind, so sê die oppermagtige Here: Hier is die bepalings oor die bring van offers op die altaar en die sprinkel van bloed wanneer die altaar gebou is. 19Daardie dag moet vir die Levitiese priesters uit die nageslag van Sadok ’n bul gegee word as ’n sonde-offer. Net hulle mag voor My diens verrig, sê die oppermagtige Here. 20Jy moet dan van sy bloed vat en dit aan die vier horings en aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar smeer, en ook teen die sykante rondom.
“Op hierdie manier moet die altaar gereinig word sodat dit versoening kan bring. 21Dan moet jy die sonde-offerbul neem en dit op die aangewese plek buite die tempelarea verbrand.
22“Op die tweede dag moet jy ’n bokram sonder liggaamsgebrek as sonde-offer offer. Dan moet jy die altaar reinig sodat dit versoening kan bring, net soos in die geval van die bul gedoen is. 23Wanneer jy klaar is met die reiniging, moet jy ’n bul en ’n skaapram, albei sonder liggaamsgebrek, offer. 24Bied dit vir die Here aan terwyl die priesters sout daaroor sprinkel en dit as ’n brandoffer vir die Here offer.
25“Elke dag vir sewe dae lank moet ’n bokram, ’n jong bul en ’n ram uit jou kudde, almal sonder enige liggaamsgebrek, as ’n sonde-offer geoffer word. 26Doen dit elke dag vir sewe dae lank om die altaar te reinig sodat dit versoening kan bring en vir heilige gebruik alleen gewy kan word.
27“Op die agtste dag, en op elke dag daarna moet die priesters die brandoffers en vrede-offers van die volk op die altaar offer. Dan sal Ek julle aanvaar, sê die oppermagtige Here.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 43: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid