ESEGIËL 45

45
Verdeling van die land
1“Wanneer julle die land tussen die stamme van Israel verdeel, moet julle ’n deel vir die Here opsy sit. Dis sy heilige deel. Dit moet dertien en ’n half kilometer lank en tien en ’n half kilometer breed#45:1 Grondteks 25 000 el lank en 10 000 el wyd. Griekse weergawe word hier gevolg 25 000 el lank en 20 000 el wyd, wat 13,3 by 10,6 kilometer is omdat 45:3, 5 en 48:9 so bedoel. wees. Die hele gedeelte sal heilig wees.
2“’n Deel hiervan, 250 meter in die vierkant, moet vir die heiligdom opsy gesit word. ’n Oop strook van 25 meter rondom moet leeg bly. 3Binne die groter heilige area moet julle ’n stuk afmeet van twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed. Die heiligdom met die Allerheiligste moet daarop staan. 4Hierdie gebied is gewyde gebied in die land, eenkant gesit vir die priesters wat in die heiligdom die Here bedien. Hulle kan dit gebruik vir hulle huise, en my tempel sal ook daar wees. 5Die gedeelte langsaan, naamlik twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed, is die leefarea van die Leviete wat in die tempel werk. Dit is hulle eiendom en ’n plek vir hulle dorpe.#45:5 Grondteks Hulle sal as hulle besitting twintig kamers hê. Hier is die Griekse weergawe gevolg.
6“Aangrensend aan die groter heilige gebied moet daar ’n stuk grond van twee en ’n half kilometer breed en twaalf en ’n half kilometer lank wees. Dit moet opsy gesit word as ’n stad waar enigeen in Israel kan kom bly.
7“Twee gedeeltes grond moet vir die regeerder eenkant gesit word. Een gedeelte grens aan die oostelike kant van die gewyde grond en stad, en die ander aan die westekant. Dit moet net so groot wees soos een van die stamgebiede en moet strek van die wesgrens van Israel af tot aan die oosgrens. 8Dit moet sy deel van die land wees tussen die Israeliete.”
Reëls vir die regeerder
“Die regeerder wat Ek aanwys, sal my volk nie weer verdruk nie. Hy sal die volk van Israel toelaat om die land volgens hulle stamme te verdeel. 9Want so sê die oppermagtige Here: Genoeg, julle regeerders van Israel! Hou op met julle geweld en verdrukking en doen wat reg en goed is. Hou op om my mense te besteel en uit hulle grond te bedrieg! 10Gebruik eerlike skale en die regte inhoudsmate vir droë stowwe en vir vloeistowwe.#45:10 Grondteks Gebruik eerlike skale, ’n eerlike efa en ’n eerlike bat. 11Inhoudsmate moet deurgaans dieselfde bly, volgens ’n vasgestelde maatstaf.#45:11 Grondteks Die efa en die bat moet dieselfde grootte wees, die bat ’n tiende van die homer en die efa ’n tiende van die homer. Die homer moet die standaardmate vir albei wees. Die homer bevat ongeveer 182 liter. Die efa is ’n droë maat en die bat ’n vloeistofmaat. 12Die standaardeenheid vir gewig is die silwer sikkel.#45:12a Die sikkel weeg ongeveer elf gram. Een sikkel bevat twintig geras, en 60 sikkels is gelyk aan een mina#45:12b Op ander plekke is die mina gelyk aan 50 sikkels..”
Offergawes en vierings
13“Die belasting wat julle aan die regeerder moet betaal, is: een 60ste van die koring en die gars, 14en een 100ste van julle olyfolie, 15en uit die waterryke gebiede een uit elke 200 van julle kleinveekudde. Hierdie is die graanoffers, brandoffers en vrede-offers wat vir die mense versoening bring, sê die oppermagtige Here.
16“Die hele volk moet vir die regeerder hulle offers bring. 17Die regeerder moet offers verskaf wat tydens die godsdienstige feeste gebring word, tydens die Nuwemaansviering, Sabbatdae en ander geleenthede. Hy moet die sonde-offers, brandoffers, graanoffers, drankoffers en vrede-offers verskaf wat vir die volk van Israel versoening sal bring.
18“So sê die oppermagtige Here: In die vroeë lente, op die eerste dag van die eerste maand van die nuwe jaar#45:18 Grondteks Op die eerste dag van die eerste maand, van die Hebreeuse kalender, wat in die vroeë lente in Maart of vroeg-April val. moet jy ’n bul sonder enige liggaamsgebrek offer om die tempel te reinig. 19Die priester moet dan van die bloed van die sonde-offer vat en dit aan die deurkosyne van die tempel smeer, en aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar en die kosyne van die ingange na die binneste hof. 20Doen dit ook op die sewende dag van die nuwe jaar vir almal wat per ongeluk of onkundig gesondig het. Op hierdie manier bring die tempel versoening.
21“Op die veertiende dag van die nuwe jaar moet julle die Pasga vier. Die fees moet sewe dae aanhou. Julle mag in dié tyd net ongesuurde brood eet. 22Daardie dag moet die regeerder ’n jong bul verskaf as sonde-offer vir homself en die volk van die land. 23Op elkeen van die sewe dae van die fees moet hy ’n brandoffer vir die Here regmaak, wat bestaan uit sewe jong bulle en sewe ramme, almal sonder liggaamsgebrek. ’n Bokram moet ook elke dag as sonde-offer gegee word.
24“Die regeerder moet ook as graanoffer by elke bul en elke ram sestien kilogram meel aanbied, en vier liter olie by elke sestien kilogram meel#45:24 Grondteks ’n efa vir elke bul en ’n efa vir elke ram, en ’n hin olie vir ’n efa. ’n Efa is agtien liter en ’n hin is 3,8 liter..
25“Gedurende die sewe dae van die Huttefees, wat elke jaar vroeg in die herfs#45:25 Grondteks die fees wat op die vyftiende dag van die sewende maand begin (vgl Lev 23:33). Dié dag kom in laat-September of in Oktober voor. gehou word, moet die regeerder sewe dae lank net soos met die Paasfees ook die sonde-offer, die brandoffer, die graanoffer en die olie aanbied.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 45: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid