EKSODUS 3:3-10

EKSODUS 3:3-10 NLV

“Dit is snaaks,” het Moses vir homself gesê. “Hoekom brand die bos dan nie uit nie? Laat ek gaan kyk wat aangaan.” Toe die HERE sien dat Moses nader kom om ondersoek in te stel, het Hy uit die bos na hom geroep: “Moses, Moses!” “Dit is ek, ja,” het Moses geantwoord. “Moenie nog nader kom nie,” het die HERE vir hom gesê. “Trek uit jou sandale. Die plek waarop jy staan, is heilige grond.” God sê toe vir hom: “Ek is die God van jou voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Toe Moses dit hoor, het hy sy hande voor sy gesig gehou. Hy was bang om na God te kyk. HERE Die HERE sê toe vir hom: “Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry. Daarom het Ek afgekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land. Dit is ’n land met oorgenoeg kos. Die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete bly nou daar. Die volk se noodroep het by My uitgekom en Ek het raakgesien hoe die Egiptenaars hulle verdruk en swaar laat werk. Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit.”

Video vir EKSODUS 3:3-10